Plaasmoorde: Maar ek boer!

 
Kruise vir vermoorde boere. Foto verskaf
Kruise vir vermoorde boere. Foto verskaf

Sommige mense noem my ‘n produsent, ander ‘n prysnemer en party ‘n baas. Ek is ‘n bewaker vir die land se kosvoorrade. Ek jaag rond om te sorg my mielies is betyds uit die land. Ek staan voor hanekraai op om seker te maak daar’s vars melk vir die dag. Ek is elke dag aan die genade van die natuur uitgelewer.

As daar te min mieliemeel op die rak is, word vingers na my gewys. Ek kry ook dikwels die skuld vir duur kaas op ‘n winkelrak. Ek volg kommoditeitspryse asof dit wet is. Ek is ‘n weerkundige, ekonoom, veearts, grondkundige en ingenieur.
Ek is ‘n boer!

Die gevoel van grond wat tussen my vingers deursypel is beter as die sagste wolkombers. Die reuk van vars omgeploegde lande laat my stop en rustig asemhaal. Die bekende roep van die Hadeda vroegmôre en teen skemer bring vir my gemoedsrus.
Ek skep behae in ‘n mielieland waar die plante twee meter hoog staan. ‘n Koei wat 70 liter melk lewer, maak my trots. Wuiwende koringlande laat my glimlag. ‘n Trekker en ‘n wa in werkende toestand maak my gelukkig.
Ek is ‘n boer!

Ek is lief vir my land en sy mense. Ek wil in vrede met almal saamleef. Tog word daar weekliks berig oor die aakligste goed wat met my gebeur. My huis se deure word oopgebreek, en my kosbare gesin word soos honde in ‘n hok deur vreemdelinge met wapens aangehou. Inbreek word op my privaatheid gemaak en my besittings word almal s’n.
My vrou se diepste, intiemste geheime word deur verkragters vernietig. My kinders se onskuldige oë moet die vreeslikste misdade aanskou. Ek boet met my lewe, sonder ‘n geldige rede!
Ek leef in vrees, in ‘n huis van tralies en slotte. My erf word omring deur sekuriteitshekke en alarmstelsels. Kwaai honde beweeg snags op my werf om die vyand op ‘n afstand te hou.
Ek is ‘n boer!

Hoekom word my lewe bedreig? Hoekom moet ek in afsondering lewe vir die beroep wat ek gekies het? Hoekom is daar mense wat my wil skade aandoen as ek in die land se behoeftes wil voorsien?
Om te boer is al wat ek wil doen. Om veilig te voel op my plaas in Suid-Afrika is tans iets waarvan ek net kan droom. Maar ek sal aanhou droom, want . . .
Ek is ‘n boer!

* Volgens AgriSA se jongste statistieke word twee boere per week in Suid-Afrika vermoor, terwyl twee insidente van geweld daagliks op plase voorkom. Meer as 2 100 boere is reeds in Suid-Afrika vermoor. Hiermee ‘n versoek aan dié Suid-Afrikaners wat ook ‘n einde aan die sinnelose plaasmoorde en -aanvalle in ons land wil sien, teken die petisie: Stop plaasmoorde.
Klik op dié webskakel, en teken die petisie.

(Die webblad sal aan jou ‘n e-pos stuur om te bevestig of dit jy is wat die petisie onderteken het. Dit word gedoen om seker te maak jou e-pos-adres is ‘n geldige een en dat jou steun geloofwaardig is.)

* Solidariteit het verlede jaar op Solidariteit Radio vir 12 ure lank ‘n lys van vermoorde boere - tussen Januarie 1993 en Junie 2009 - voorgelees. Die TLU SA het die lys voorsien. Dié lys is op die vakbond se webtuiste beskikbaar:

Enigiemand wat ‘n naam tot die lys wil byvoeg, kan ‘n e-pos met die tema, plaasaanvalle, aan ilze@solidariteit.co.za  stuur.

15 Februarie 2010
 

5
 
 

Kommentaar

PLaasjapie2 

Om te boer is in ons almal se hart. Ja jy veruil die luukse vir die minder luukse, maar die stilte, rus en vrede van 'n boer kan jy nie beskryf nie. Om elke oggend vroeg die son te sien breek en hom vannaand in die bed te sit is verseker die wonderlikste ding om te doen. Mag ons aanhou om te droom van 'n land met baie mider misdaad as vandag. Teken die petiesie.

Jan Hardehout 

HHMM ek wens al lank dat afrikaans as n taal genoegsaam sou groei en uitbrei om die woord boer in Suid Afrika se konteks reg te kan gebruik en beskryf.Miskien het jy die gedeelte "Maar ek sal aanhou droom, want . . .Ek is ‘n boer!"Reg en dit is nogal paslik!
n Boer ....in teenstelling is iemand wat n nasaad is van n baie besonderse groeppie mense wat alle materialisme en gemak afgesweer het te einde VRYHEID te beleef of te val in die stryd daarvoor ...Kmdt Willem Ratte en sy manne was die laaste Boerre... mag hulle vir altyd vry wees ...een manier of die ander!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.