|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Wanneer 'n slagoffer hom- of haarself moet verdedig, sal dit niks baat om in 'n wilde vuisgeveg met die aanvaller betrokke te raak nie. 'n Mens kan jouself baie doeltreffend verdedig deur jou net op die regte kwesbare plekke op die aanvaller se liggaam toe te spits.
Daar is drie kwesbare plekke op 'n mens se liggaam
(veral dié van 'n man) wat uitgesonder kan word, naamlik die oë, keel en lies.
Bejaardes en vroue kan hul verdediging baie doeltreffend op hierdie kwesbare
plekke rig, omdat die tegnieke feitlik geen krag vereis nie.
Mnr. Geldenhuys verduidelik 'n
aantal tegnieke aan die hand van bepaalde maniere waarop 'n aanvaller sy
slagoffer kan aanval. Hy en sy vrou, Amanda, het vir die foto's geposeer. Sien Landbouweekblad van 22 November 2002
Die
slagoffer word van agter vasgehou deur albei arms vas te pen (foto 1). Dit is
selfs vir 'n sterk man feitlik onmoontlik om met brute krag uit hierdie greep te
kom. Die slagoffer moet eerder probeer om die aanvaller te beseer en
terselfdertyd uit sy greep te ontsnap. Sy kan begin deur hom met haar agterkop
in sy gesig te stamp of sy kan hom met die hak van haar skoen op die brug van sy
voet stamp (foto 2). Hoewel só 'n teenaanval nie baie seermaak nie, sal dit
veroorsaak dat die aavaller sy greep vir 'n oomblik verswak. Sy sak dan
onmiddellik met haar volle gewig af en ruk albei arms na bo (foto 3).
Die
slagoffer het nou uit die aanvaller se greep losgekom. Dit sal egter dwaas wees
om dadelik te probeer vlug, omdat hy haar gou weer sal vang. Dan sal sy nie 'n
tweede kans kry om te ontsnap nie, want die aanvaller sal op sy hoede wees vir
'n teenaanval. Dus moet die slagoffer die aanvaller sodanig beseer dat sy genoeg
geleentheid het om te vlug. Indien die slagoffer kort is, kan sy die aanvaller
met haar elmboog tussen sy bene slaan (foto 4). As sy lank is, kan sy sy wind
met haar elmboog probeer uitslaan.
Wanneer 'n hou met die elmboog geslaan
word, moet die bolyf in die rigting van die hou gedraai word, want dít maak die
hou baie kragtiger. Omdat die punt van die elmboog skerp en hard is, is dit 'n
baie harde en doeltreffende hou. Indien die slagoffer die aanvaller se wind wil
uitslaan, moet sy mik na 'n punt net onder die plek waar 'n mens se ribbes
bymekaar kom. Volg dit dan op met 'n hou tussen sy bene.
Vroue en bejaardes
kan hierdie tegniek suksesvol toepas. Die geheim van die sukses vir hierdie
ontsnapping is om ál hierdie tegnieke so vinnig moontlik ná mekaar te
doen.
Albei arms van die slagoffer word deur die aanvaller vasgehou (foto 5).
Ook in hierdie geval is dit selfs vir 'n sterk man moeilik om uit dié greep te
kom. Dus moet die slagoffer eers die aanvaller beseer voordat sy probeer
ontsnap. Hy staan reg voor die slagoffer en sal dus 'n skop tussen die bene te
wagte wees. As die slagoffer begin skop, sal hy sy lyf wegdraai en die skop sal
geen uitwerking hê nie. Trek eers sy aandag af deur hard met die arms te ruk
(foto 6). Dié tegniek werk so: Draai albei arms in die rigting van die aanvaller
se duim, omdat die duim die swakste deel van 'n mens se greep is, en ruk die
arms terselfdertyd hard na bo. Probeer hom van balans ruk en skop hom dan tussen
sy bene of op sy knie met die punt van jou skoen. Beweeg dan vinnig vorentoe en
klap die aanvaller in dieselfde beweging met beide oop hande op sy ore (foto 7)
of slaan hom op sy keel.
Die aanvaller hou sy slagoffer met sy een hand om
haar keel vas (foto 8). 'n Aanvaller gebruik hierdie greep wanneer hy 'n mes of
'n stok in sy ander hand vashou. Hy sal meestal sy linkerhand gebruik om haar om
haar nek vas te hou, en só 'n afstand tussen hulle te hou sodat hy sy wapen met
gemak kan gebruik. Die slagoffer plaas haar linkerhand oor sy hand en vat die
pinkiegedeelte van die hand vas (foto 9). Terselfdertyd moet sy haar bolyf na
vore in die rigting van haar linkerarm draai. Dit sal veroorsaak dat sy greep om
haar nek effens verswak. Dan moet sy sy hand stewig vasvat en dit
anti-kloksgewys draai. Indien die greep om haar nek nie voldoende verswak nie,
kan sy hom op sy knie skop en dán sy hand draai.
Die oomblik wat die
slagoffer die aanvaller se hand anti-kloksgewys draai, sal sy arm reguit wees en
moet sy met haar ander hand baie hard na benede op sy elmboog druk, terwyl sy sy
arm met haar ander hand oplig (foto 10). As sy baie hard druk, kan die ligamente
in sy elmboog skeur.
As hy 'n wapen in sy ander hand vashou, sal hy niks
daarmee kan doen nie. Selfs in hierdie posisie kan sy 'n paar bewegings
uitoefen. Solank sy sy arm in hierdie posisie hou, sal hy nie kan loskom nie. Sy
kan nou haar lyf draai en die aanvaller herhaaldelik met haar linkerknie teen sy
ribbes skop. Andersins kan sy haar regterbeen voor sy been sit en met hom
vorentoe loop, terwyl sy hard op sy elmboog druk. Hy sal val en dan kan sy die
geveg beëindig deur hom teen sy oor of teen die ribbes te skop, terwyl hy op die
grond lê. Met hierdie tegnieke kan 'n slagoffer haar aanvaller se arm en ribbes
beseer en sal hy nie in staat wees om verder te veg nie.
Die slagoffer se arm
word agter haar rug vasgehou (foto 11). Die aanvaller staan té ver van haar af
om 'n teenaanval te loods. Daarom moet sy probeer om eers uit sy greep los te
kom. Sy tree vorentoe en sak terselfdertyd af, draai haar bolyf in die rigting
van die arm wat vasgehou word en maak haar arm reguit (foto 12). Die slagoffer
skop die aanvaller dan met die kant van haar voet teen sy knie (foto 13). As sy
knie in haar rigting wys, moet sy hom van voor op sy knie skop, maar as hy
skuins staan, moet sy hom van die kant af skop. Hierdie skoppe is pynlik, en as
sy hard genoeg skop, kan sy sy knieligamente beseer en sal hy moeiliker beweeg.
Hy is egter nog nie onskadelik gestel nie. Direk ná die skop moet sy haar arm
uit sy greep losruk en onmiddellik 'n teenaanval uitvoer. Sy kan hom byvoorbeeld
op die keel slaan of op sy oor klap. Indien hy reg staan, kan sy hom tussen sy
bene skop.
Die aanvaller staan agter die slagoffer en wurg haar (foto 14).
Daar is twee maniere om iemand só te wurg. Indien hy haar só verwurg dat die
bloedtoevoer na die brein afgesny word, sal sy haar bewussyn binne 'n paar
sekondes verloor. Gelukkig weet aanvallers gewoonlik nie hoe om hul slagoffers
"reg" te verwurg nie. As hy haar probeer versmoor, kan dit meer as 'n halfminuut
duur voordat sy haar bewussyn verloor. Die aanvaller weet dat sy slagoffer gaan
teenstand bied terwyl hy haar verwurg - daarom sal hy probeer om styf teen haar
te staan en dít maak dit moeilik om uit die greep te kom.
Die slagoffer moet
so hard as wat sy kan met haar skoen se hak op die brug van sy voet kap (foto
15). Sy moet hom dan met haar agterkop in sy gesig stamp. Dit behoort die
aanvaller se greep te verswak. Sy moet dan effens vooroor buig en effens draai.
Sy moet dan so hard moontlik met die elmboog agter toe slaan (foto 16). Maak
dieselfde arm dan reguit en slaan hom tussen die bene. Ná 'n hou tussen sy bene
behoort die aanvaller die aftog te blaas, maar sy slagoffer kan die geveg afrond
deur hom op sy oor te klap (foto 17) of op sy keel te
kap.
Veg terug!
Soms het die slagoffer van 'n aanval geen ander keuse nie as om hom- of haarself teen sy of haar aanvaller te verdedig. Kennis van basiese tegnieke en kwesbare plekke op 'n mens se liggaam kan dán die verskil tussen lewe en dood beteken.
Mnr. Koos Geldenhuys, 'n gewese Springbok-joejitsoe-kaptein en 'n voormalige wêreldkampioen in dié Japannese selfverdedigingskuns, gee waardevolle wenke in hierdie artikel. Dit vorm deel van Landbouweekblad se reeks oor plaasveiligheid.
In dié artikel word selfverdediging bespreek. Teikenareas en drukpunte op die liggaam word bespreek. In 'n volgende artikel bespreek mnr. Geldenhuys nóg kwesbare plekke op die menslike liggaam.
Lesers kan hom kontak by Posbus 1786, Lichtenburg 2740, sel 082 852 1793, of 'n e-pos stuur na aman da@mjvn.co.za
22 November 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24