‘Vat hande teen plaasaanvalle’

 
Plaaswerker. Foto: THEUNS BOTHA
Plaaswerker. Foto: THEUNS BOTHA

Boere, werkers en plaasbewoners het mekaar nodig as teenwig vir plaasaanvalle en -moorde, en hulle moet hande vat, sê die voorsitter van die portefefeuljekomitee vir Polisie, me. Sindy Chikunga.

Sy het ‘n spesiale vergadering van dié komitee byeengeroep nadat landbou.com se petisie, Stop plaasmoorde, op 25 Maart aan haar oorhandig is.

Verskeie organisasies in die landbou is genooi om voorleggings aan die komitee voor te hou, waarna ‘n tyd vir vra toegelaat is. Mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee was eerste aan die beurt en in vraetyd moes Botha vrae van komiteelede beantwoord.

Ander voorleggings was deur mnr. Ishmail Motala van die United South African Agricultural Association (USAAA), wat sowat 1800 boere in die Wes-Kaap verteenwoordig; deur die vakbond Food and Allied Workers Union (Fawu), en deur Rudnet, ‘n nie-regeringsorganisasie wat hom beywer vir die opheffing van plaaswerker-gemeenskappe.

Botha het Agri SA se afkeer in plaasmoorde uitgespreek en die moorde van boere, werkers en hul gesinslede ten sterkste veroordeel. “ ‘n Veiligheidsaanslag alleen kan nie die pobleem oplos nie, ‘n geïntegreerde misdaadvoorkomings- en bestuursplan is nodig. Doeltreffende optrede teen korrupte elemente in die SA Polisiediens is ook nodig.”

Haatspraak sal aangemeld word
Hy het onder meer na haatspraak verwys en gesê dit moet uitgeroei word. “Agri SA sal elke voorval van haatspraak by ‘n polisiekantoor aanmeld.”

Ander probleme wat hy uitgewys het is:
Altesaam 11 785 aanvalle en 1 804 moorde op plase sedert 1991.
Betroubare misdaadstatistiek is nodig op probleme te kan identifiseer.
Sowat 121 000 stuks vee van R365 miljoen is van April 2008 tot Maart 2009 gesteel. Opkomende boere kry die swaarste weens dié misdaad.

Motala, van USAAA, het by Botha aangesluit en gesê : “Ek is ‘n boer.” Hy het gesê die werkersgemeenskappe op plase is in die besonder kwesbaar vir misdaad, en dat hulle minder vermoëns het om hulself teen misdaad te beveilig. “As 40 uit 3 000 skape van ‘n kommersiële boer gesteel word, is dit nie só ‘n groot leemte as wat 10 skape uit ‘n kudde van 40 wat aan ‘n swart boer behoort, in veediewe se kloue beland nie.”

Motala en die verteenwoordiger van Fawu, mnr. Mlamaleli Pukwana, het verwys na sekere aspekte van boerdery waar probleemareas kan voorkom, soos:
Problematiese werksomstandighede.
Sekere huisvestingprobleme.
Buitelanders wat onwettig op plase werk.
Geweld teen plaaswerkers.
Kinderarbeid.
Eienaarskap van grond.
Openbare vervoer vir plaaswerkers.

Pukwana het gesê alle rolspelers moet saam oplossings vir dié knelpunte soek.

Mnr. Vukile Mafilika van Rudnet het gesê die misbruik van middels, soos alkohol en verdowingsmiddels, is een van die grootste probleme in die plaaswerkergemeenskap.

Rolspelers moet gesels
In haar samevatting van die vergadering het Chikunga gesê: “Ons kan nie in stilte wag oor die misdaad op plase nie: Hier is duidelik nuwe uitdagings wat aandag verg. Die werksverhouding tussen die rolspelers, waarin almal as een behoort saam te staan, bestaan nog nie.”

Chikunga wil ál die rolspelers betrek om weer byeen te kom - ook die TLU SA, wat nie na die vergadering genooi is nie - om dié knelpunte te bespreek. “As ‘n mens in silo’s werk, is jy swak, as ons saamstaan, sal misdadgers deeglik daarvan bewus wees. Ons wil hê plaasgemeenskappe moet voordeel trek uit hierdie samewerking. As ons mekaar blameer, trek die misdadiger voordeel daaruit.

“Suid-Afrika het talle uitstekende kommersiële boere, maar daar is ook brutale boere. Ons moet hulle aan die kaak stel. Wie is die misdadigers wat betrokke is by veediefstal?” Chikunga meen dat veediefstal in Mpumalanga ‘n arm van georganiseerde misdaadsindikate in Suid-Afrika is.

Chikunga het met Botha saamgestem dat die opruiende aanmerkings deur hoë-profiel mense (wat Botha uitgewys het as een van die probleme in plaasaanvalle) vermy moet word.

Ten slotte het sy opgemerk dat dié vergadering hopelik die begin is van ‘n kommunikasieproses tussen die parlementêre komitee oor Polisie, die boeregemeenskap en al die betrokke rolspelers. “Daar is so baie wat ons, as Suid-Afrikaners, deel: Dit hou ons bymekaar.”

Lees Botha se kommentaar ná die vergadering hier.

Lees ook: Dit is die boere se skuld in Die Burger

21 April 2010
 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.