Veediefstal kwel in Noordwes

 
Afrikaner-beeste. Foto: THEUNS BOTHA
Afrikaner-beeste. Foto: THEUNS BOTHA

Noordwes se Rooivleisprodusente-organisasie is bekommerd oor veediefstal in dié provinsie. Mnr. Jaco Maré, voorsitter, sê dit lyk of veediefstal oor die afgelope vyf maande toegeneem het. Hy sê waar die situasie in April vanjaar erger in die omgewing van Hartebeesfontein was, kom veediefstal tans meer gereeld in die omgewing van Swartruggens voor.

Maré sê veral vleisbeeste word in dié gebied gesteel. ’n Paar skape is ook al vir potslagtings gesteel waarvoor net een of twee diere per slag gesteel word omdat die verdagte gewoonlik die dier slag en die vleis so gou moontlik vir persoonlike gebruik aangewend word. Daarteenoor word gewoonlik handel gedryf met groter troppe diere wat gesteel word.

Die RPO in Noordwes het vroeër vanjaar met die Polisie en veediefstaleenhede vergader om beter samewerking tussen hulle te probeer bewerkstellig. Maré sê hulle meen egter dat huidige bestrydingsmaatreëls nie goed genoeg uitgevoer word nie.

Boere moet tydens die feestyd hul veegetalle goed dophou om moontlike neigings te identifiseer.  “Ons doen ’n beroep op boere om hul diere oor die feestyd gereeld te tel sodat hulle kan seker maak ál hul diere is daar en sodat hulle moontlike diefstalle onmiddellik kan aanmeld”.

Intussen sê supt. Lesego Metsi, mediawoordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Noordwes, hulle is nie bewus van ’n ernstige toename in veediefstal in die omgewing van Swartruggens nie. Hulle is slegs bewus van een bees wat die afgelope maand in die omgewing geskiet is en waarvan die karkas glo verkoop is.

Hy sê veediefstaleenhede is bekommerd oor die toename van dié misdaad in die provinsie en hulle doen alles in hul vermoë om veediefstal te probeer hokslaan.

7 Desember 2009

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.