|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Boere en ondersoekbeamptes van die SAPD is dronkgeslaan deur die onverklaarbare vrektes van beeste waarvan slegs die geslagsdele en ander spesifieke liggaamsdele verwyder word.
Die verminking van beeste vir vermoedelik moeti-doeleindes het in die laaste jaar 'n beduidende toename getoon op veral die Platorand en in die suidelike Hoëveld nadat dit in die vroeë negentigerjare daar kop uitgesteek het. Die SA Polisiediens (SAPD) gaan die landwye omvang daarvan nou deeglik ondersoek.
Boere in die omgewing van Belfast loop veral erg deur. Hulle meen dit is moontlik "moeti-slagtings" wat verband hou met bedrywighede om onvrugbaarheid mee te besweer of ter voorbereiding vir inisiasieskole. Ander boere meen egter dit kan die werk van jakkalse of selfs kraaie wees.
Die voorkoms van die "verminkings" is in feitlik ál die gevalle dieselfde: Die teiken is hoofsaaklik vroulike diere waarvan die geslagsdele, uier, 'n oog en lid, 'n stuk lip en 'n stuk van die oor af- of uitgesny word. Gevalle het wel al voorgekom waar bulle of bulkalwers ook deurgeloop het en die geslagsdele verwyder is, maar sover bekend is dié gevalle beperk tot twee. In die meeste gevalle kom die verminkings aan die regterkant van die karkas voor.
Wat die boere en die Polisie dronkslaan, is dat tot dusver nie met sekerheid vasgestel kon word hoe die diere vrek nie. Daar is geen waarneembare merke, bloed of tekens van worsteling nie. Die res van die karkas word net so gelos. Plaaswerkers sê die bees is getoor en hulle wil niks daarmee te doen hê nie.
Van die karkasse is sowat ses jaar gelede en weer onlangs in Mei vanjaar na Onderstepoort verwys, maar die oorsaak van die vrektes kon nie vasgestel word nie. Ontledings van binnegoed en voer het ook niks opgelewer nie.
Die jongste voorvalle was in Mei en Junie vanjaar toe mnr. Nico Kriek, 'n boer van Belfast altesame agt beeste op dié manier verloor het. Volgens insp. Braam Louw van die SAPD op Belfast wat die voorvalle ondersoek, is dit die eerste keer dat soveel vrektes (ses in Mei) op een slag aangemeld is. "Gewoonlik is dit een bees op 'n slag."
Daar is boere wat oor die afgelope tien jaar 40 en meer beeste op dié manier verloor het en derduisende rande se skade gely het.
Volgens mnr. Johan Burger, wat al sowat R80 000 se skade gely het, was die meeste beeste dragtig en is die kalwers uitgehaal. Hy meen die wortel van die kwessie lê by die vraag oor wat met die uitgeslagte dele gedoen word.
Hy verskaf nie meer huisvesting aan werkers op sy plaas nie, maar gaan haal elke dag werkers en bring hulle saans terug. Sedertdien is daar nie weer diere op dié manier op sy plaas dood nie, sê hy.
Mnr. Danie van Wyk van Wonderfontein het altesame sowat 20 beeste verloor. "Die vrektes kom sporadies voor, gewoonlik een op 'n slag per week oor 'n tydperk van drie weke en dan hou dit vir 'n tyd lank op."
In 'n radius van sowat 30 km om Belfast het minstens 11 boere al beeste op dié manier verloor. 'n Geval het ook by Dullstroom voorgekom. In die sewe voorvalle wat van Januarie vanjaar tot nou by die SAPD op Belfast aangemeld is, is 14 beeste van drie boere betrokke. Die skade word op altesaam R56 000 geraam.
Insp. Louw is nou besig om landwyd inligting oor die voorkoms van sulke gevalle in te samel. Hy sê daar sal aandag gegee word aan alle moontlike verklarings vir die vrektes en verminkings in 'n poging om agter die kap van die byl te kom. Hy het reeds inligting ontvang van wat lyk na soortgelyke gevalle by Sannieshof, Wolmaransstad, Vryburg, Mafikeng en Melmoth, en hy versoek boere of polisiekantore wat voorheen met sulke gevalle te doen gekry het, om met hom in verbinding te tree.
Volgens insp. Louw lyk dit of die vrektes 'n hoogtepunt tussen Februarie en Mei/Junie bereik, en dan stiller raak in die winter voordat dit weer begin kop uitsteek.
'n Veearts wat weier dat sy naam genoem word, het heftig gereageer en gesê "dis 'n bogstorie waaroor niks geskryf moet word nie". Hy sê die vrektes is veroorsaak deur rooiwater, galsiekte of ureumvergiftiging en die "verminkings" is die werk van rooikatte.
Antropoloë van die universiteite van Pretoria (UP) en Suid-Afrika (Unisa) sê die onverklaarbare vrektes is vreemd en hulle is nie bewus van bepaalde stamseremonies wat moontlik daarmee verband kan hou nie. Hulle stem egter nie saam dat die voorvalle summier verwerp of verswyg moet word nie.
Prof. Johann Kriel van die UP sê die gebruik van moeti in die vestiging van magiese kragte het nie net op die platteland nie, maar ook in stedelike gebiede skerp toegeneem weens die groter naywer en mededingendheid onder mense in die nuwe bedeling. Dit is 'n bekende feit dat bepaalde liggaamsdele van diere in verband gebring word met bepaalde kragte en dat dit in spesifieke rituele gebruik word.
"Tradisioneel sou dele van wild gebruik word, maar omdat wild nie meer so geredelik beskikbaar is nie, kan vee as plaasvervangers gebruik word."
Dit sou interessant wees om te weet watter spesifieke kenmerke by elke geval voorkom, sê hy.
Dr. Christo van Vuuren van Unisa sê dit lyk nie of die voorvalle enige spesifieke kuturele verbintenis het nie. "Die gebruik van die dele van dierekarkasse kom redelik wyd voor, maar nie op die manier wat hier ter sprake is nie. Ander moontlike verklarings sal ook ondersoek moet word, veral omdat dit lyk of dié voorvalle redelik geïsoleerd voorkom."
In die jongste geval wat by die afdeling patologie van die Fakulteit Veeartsenykunde van die Universiteit van Pretoria by Onderstepoort ondersoek is, kon die oorsaak van die vrekte hoofsaaklik weens die gevorderde stadium van ontbinding van die karkas nie vasgestel word nie, maar vergiftiging word nie uitgeskakel nie.
Volgens 'n woordvoerder kon die bees ook gevrek het weens die toediening van 'n oordosis van 'n spesifieke verdowingsmiddel. Dit is egter 'n skedule sewe-middel wat net in die besit van veeartse mag wees.
Daar is ook bevind dat die dele van die karkas wat verwyder is, ná die vrekte met 'n mes of ander skerp voorwerp uitgesny is en dat dit onwaarskynlik is dat kraaie of roofdiere daarvoor verantwoordelik kan wees.
Boere kan meer inligting kry by insp. Braam Louw, tel. 013 253 0591 en 082 839 3038, insp. Shane Coetzee, tel. 084 510 4761, en kapt. Peet Swanepoel, nasionale ondersoekbeampte in die Veediefstaleenheid se hoofkantoor in Pretoria, by tel. 012 339 1197 en 082 808 6686.
19 Julie 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24