In verskeie dele van Suid-Afrika, veral in landelike gebiede, vervul
private sekerheidsmaatskappye ’n belangrike rol. Mense sal voorvalle eerste by dié maatskappye aanmeld en dan by die Polisie. Mnr. Henry Combrink, ondervoorsiter van die
TLU SA, sê dié neiging kom voor omdat baie mense nie die Polisie vertrou nie.
Hy sê hy kan verstaan dat die bedryf gereguleer moet word, soos deur die staat voorgestel, maar hy meen dat die bedryf nie daardeur benadeel moet word nie. Mnr.
Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, het Dinsdag (30 Oktober 2012) in die Parlement aangekondig dat die land die 'grootste private sekerheidsbedryf' ter wêreld het en dat dit gereguleer moet word.
Die minister sê hulle wil veranderings aan die
Wet op Private Sekuriteit Bedryfsregulering van 2001 aanbring in ’n poging om misdaad in dié bedryf te beperk.
WerksverlieseDie stap volg omdat baie maatskappye en individue nie by die regulatoriese owerheid vir private sekerheid (Prisa) registreer nie, terwyl sowat 20 000 nuwe lede die bedryf maandeliks betree. Volgens ’n opname van die Polisie waaraan sowat 170 700 sekerheidswagte in 2008 vrywilliglik deelgeneem het, is sowat 14 700 van dié wagte geïdentifiseer as individue wat moontlik
aan misdaad kan deelneem.
Die voorgestelde verandering het onrus in die bedryf veroorsaak, want daar word gevrees dat dit tot ’n verlies aan werksgeleenthede kan lei. Mthethwa het egter die versekering gegee dat dít nie die geval sal wees nie.
Combrink sê hy weet nie hoe dié regulering moet plaasvind nie, aangesien dit blyk dat die Polisie homself nie kan reguleer nie. “Kyk net hoeveel beamptes se wapens het weggeraak. Die saak is nou so ernstig dat elke beampte wat ’n wapen moet hanteer, ’n bevoegdheidstoets moet slaag en ’n sertifikaat daarvoor moet ontvang.”
’n Nuwe maatreël gaan glo ook ingestel word waarvolgens ’n beampte op ’n elektroniese stelsel moet registreer as hy ’n wapen in ontvangs neem of teruggee, vertel Combrink.