Deur RICHARD BELCHER
27 Junie 2012

5893 keer gelees | 15 kommentaar

Richard en Amanda Belcher boer sedert verlede jaar in Senegal in vennootskap met die Shropshire-groep. Richard vertel meer.


Goue sandstorms deur die droë seisoen, dramatiese donderstorms in die reëntyd of selfs net die dae wat ons eindelose uitdagings ervaar het met alledaagse tekortkominge – een ding weet ons verseker, dis hier waar ons hoort. Afrika is in ons bloed.

Ons plaas is geleë aan die onderkant van die Sahara-woestyn in die noorde van Senegal. Geen dreigende malaria of ander siektes kan ons opgewondenheid demper om in hierdie afgesonderde deel van Afrika te woon nie. Die skerpioene, slange en magdom insekte dra slegs by tot ons avontuurlustigheid.

Dit is tans 18 maande sedert ons van die vliegtuig afgeklim het en Afrika toe ‘‘getrek’’ het. Ons kritici het gesê ons pak die onmoontlike aan, maar ons het hulle verkeerd bewys toe ons in minder as 6 maande ons eerste vrag radyse na Engeland versend het.

Doelwit: Vind grond, voer uit

Vars uit Suid-Afrika met sakke vol idees het ons die onbekende binne gevaar. Ek was op Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal en Saasveld-kollege in George. Ons familieplaas is in Riversdal in die Suid-Kaap aan die voet van die Langeberge.

Ons doelwit met ons koms na Senegal was om grond te vind wat ons kon ontwikkel in ’n selfonderhoudende landbou-eenheid en om landbouprodukte uit te voer na ons vennote in Europese markte.

Ons het dadelik aan die werk gespring om die beste landbougrond vir ons ambisieuse projek te bekom. Ons kon voel hoe die druk opbou namate die tyd minder raak en hoe ons eerste produksiedatum in Augustus nader sluip.

Ons het van die een amptenaar na die volgende gegaan en gou besef om grond te kry, is nie so maklik soos ons aanvanklik gedink het nie. Dit is ’n demokratiese land en almal hou daarvan om hul stem te laat hoor en ’n mening te gee oor hoe en waar die “wit man” moet belê.

Vertroue is die sleutel

Vertroue is die kern en sleutel tot enige suksesvolle vennootskap en ’n goeie eerlike karakter moet duidelik sigbaar wees vir die mense rondom jou. Die nadeel aan die begin was dat ons nie net as buitelanders gesien word nie, maar ook as Toubabs, wit mense.

Hul begrip daarvan is nie net dat die wit man baie geld het nie, maar dis ook verstrengel met die kulturele persepsie dat jy alles moet deel wat jy het. Alhoewel ons vrygewige harte het, het dit sake tog gekompliseer, want soos in enige besigheid word van ’n begroting gewerk wat in ag geneem moet word en geld dryf nie rond in ’n bodemlose pit nie.

Van die eerste dag af het ons die belangrikheid ingesien om aan almal, veral aan die amptenare, bekend te maak dat ons ’n professionele maatskappy is en dat korrupsie en omkopery nie geduld sal word nie.

Potensiële belegging

Ons paaie het gekruis met iemand wat met die eerste oogopslag nie veel belangrikheid uitgestraal het nie. Dus toe alle opsies misluk en paaie tot doodloopstrate lei, het ene mnr. Sarr ons uitgenooi om na sy grond te kom kyk vir ’n potensiële belegging.

Teleurstelling was na aan die oppervlak toe hy vir ons sout en kleierige grond gewys het. Ons opgewondenheid het gou verflou. Maar soos God dit wou hê, het hy voortgegaan om vir ons ander grond rondom ’n meer te wys.

Soos ons hierdie pragtige panoramiese landskap nader, met geel gras, baobab- en akasiabome, met wonderlike, sanderige grond, vol tekstuur en oorvloedige water, het ek geroep: “Stop stop, dis is wat ek wil hê.”

Later het ons besef dat hy eintlik die president van die omgewing is en in beheer van die plaaslike ontwikkeling.

Ons het die projek en doelwitte bespreek en hul versoeke aangeteken. Twee pynlike maande later, wat baie geduld gekweek het, het ons die amptelike kontrak met die plaaslike bevolking en owerheid onderteken.

Hulle het vir ons 500ha grond uitgemerk met masjetties op vier bome, op elke hoek van ons nuwe grond.
Nuwe ondernemings word altyd in verskillende fases aangepak. En alhoewel ons eerste fase afgehandel is deur grond te bekom, was daar heelwat harde werk wat voorgelê het.

'n Wedloop teen tyd
Die ontwikkeling van die land en projek moes so gou moontlik aan die gang kom en die tyd was teen ons. Binne die opvolgende vyf maande moes die land skoongemaak word van bosveld, geboue moes opgerig word, die pakhuise moes gebou word, die besproeiingstelsels en pompe moes geënstalleer word en die eerste oes moes geplant word.

Tans het ons meer as 300 mense in diens wat nog nooit voorheen ’n werk gehad het nie. Ons is die eerste beleggers aan die een kant van die meer wat werk verskaf vir honderde mense en ons belê in hul maatskaplike gemeenskap en infrastruktuur.

Ons verskaf daagliks ontbyt aan die werkers en so is een maaltyd gewaarborg vir die dag. Op die oomblik is ons besig om ’n mediese kliniek te bou om die mediese infrastruktuur in ons onmiddellike omgewing en gemeenskap te help versterk. Werkers ontvang ook opleiding in velige werktoestande, voedselhigiëne en ’n veilige werkswyse, ens.

'n Geleentheid en avontuur
Op ’n geestelike vlak is hierdie geleentheid en avontuur bevredigend, want God het my kinderdroom vervul deur grond van ’n stamhoof in omgetemde Afrika te verkry, saam met ’n wonderlike vrou wat ook die Here dien.

Amanda leef haar eie droom uit deur met kinders te werk en onderwys te gee. Geleerdheid is iets wat ons gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar en nie aldag waardeer nie, tot jou pad kruis met mense wat minderbevoorreg is.

Ons het ons eerste seisoen afsluit en alles wat ons bereik het, was bo ons verwagtinge. Ons was geseën met ’n wonderlike span en sterk ondersteuning van ons Britse vennote wat gehelp het om hierdie plaas en projek in Wes-Afrika op te bou.

Tot ons verdere vreugde en toekomstige motivering het ons goeie terugvoering gekry van die Wêreldbank ná ’n verassingsbesoek ’n maand gelede. Hulle was so beïndruk met ons projek dat hulle dit gaan gebruik as ’n modelprojek om toekomstige beleggers te motiveer.

Kommentaar
Slegs in Afrikaans


ria van der westhuize

2012/06/27 06:18:15 PM

ek kan so identifiseer met dit wat hierdie 2 mense skryf ek loop amper elke tree saam,na amper 7 jaar in Afrika tans in Liberie!! ervaar ons net soveel probleme met die werk wat ons doen. Theuns,is in die rubber bedryf die industriele bestuurder van die SIFCA (Cavalla rubber plantation) GROEP en ons Suid Afrikaanse ewe kniee weet nie hoe bevoorreg hulle is om in SA te wees nie,hier in Liberie is minder as niks miskien moet Landbouweekblad eendag vir ons kom kuier en kom kyk watse reuse werk n oud Suid Afrikaanse boer doen. hanteer die fabriek vir n plantasie van 5000ha rubberbome!! groete uit Peeblo Liberie sterkte in Senegal ek glo daar is meer as hier!ons ken ook die harmatan winde en het meer as 4000mm reen per jaar geen brug oor die rivier en net grondpaaie. Amanda ek is ookj die enigste vrou op die plantasie Richard sterkte met die werksaamhede en geniet Afrika nie altyd maklik nie maar so verrykend. reengroete uit liberie


jacques

2012/06/27 07:50:34 PM

baie geluk pellie. Dit is n merkwaardige prestasie. Julle is werklik geseend. Baie voorspoed en seen vir die pad vorentoe. Sien uit na die kuier in SA. Groete J


Erik

2012/06/27 08:27:11 PM

Okay ons projek doen presies dieselfde aan nog meer minderbevoregte mense : gestremdes (dowes) maar sonder sukses. Hoe nooi ek die WereldBank na my Landbou projek vir Dowes in Gordonsbaai ?


Riaan

2012/06/27 11:29:12 PM

Well done Riekie, eks sommer baie trots op julle.


Colleen

2012/06/28 11:39:20 AM

HI julle tweetjies. So trots op wat julle bereik het so ver. Die Here sal julle altyd by staan. sussie jy maak my so gelukkig om te weet jy lewe jou droom saam n wonderlike man. lief julle albei


Eugene Belcher

2012/06/28 01:43:31 PM

Dit wat julle Bereik het is nie maklik nie Baie geluk en Dankie vir die verskil wat julle maak in daardie Honderde mense se lewens ons is trots op julle..


Piet Zwinkels

2012/06/28 02:12:13 PM

Heel bijzonder, heel uitdagend, heel mooie mensen! Richard and Amanda real King and Queen of Afrika! Big respect!


Olivier Kritzinger

2012/06/28 04:25:09 PM

Baie geluk en nog vele voorspoed vir julle daar. Kan julle regering nie ons president nooi om hom te wys, ons wit mense is eerlik en betroubaar en dat ons boere altyd bereid is om te help! Mag julle van krag tot krag gaan!


Talita en Richard BelcherSNR

2012/06/29 07:37:45 PM

Baie trots op julle!!Kan nie wag om julle bietjie te bederf volgende week met lekker dinge nie!!Pa ook baie trots en dat hy julle ook n bietjie kon help met die draad span!!


Lampies

2012/07/05 08:51:35 PM

Baie geluk ou Riekie. Mooi om te lees wat jy met harde werk en deursettingsvermoë kan bereik. Bulle bulle!!


Carla en Simon

2012/07/06 12:19:43 AM

Wel gedaan! Ons het na die noord ooste van Australie uitgewyk. Wonderlik, pragtig. Ons hoof bron van inkomste is suikerriet. Dis vir geen mens maklik om sy vaderland te verlaat nie. God het ons gelei en stap die pad vooruit, dag vir dag. Richard en Amanda, ek bid julle God se beskerming en liefde toe.


Adele

2012/08/27 01:47:46 PM

Is daar 'n manier wat ek kan kontak maak met hierdie mense?


Richard Belcher

2012/09/01 01:24:08 AM

w.africafarms@yahoo.com


Thiesa

2012/10/02 02:37:50 PM

Ons seën julle met die Vader se oorvloed! Wees sterk en vol moed!!!


Suné

2012/10/24 09:11:01 PM

Trots op julle Riekie,dis lekker om julle storie te volg,n ware inspirasie!

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights