Die grootste fout wat hy nog gemaak het, was om landbou te gaan swot terwyl “ysters, kettings en ratte” éintlik sy kos is.
Anders as wat ’n mens sou verwag, het mnr. Hannes (Rooikat) Esterhuyse van die plaas Sandtuin naby Williston se liefde daarvoor nie op die plaas lewe gekry nie, maar in Engeland waar hy onder meer kabeltelevisie geïnstalleer het en ’n groot bakkery se versienwerk behartig het.
Hy het ook plaatmetaalwerk gedoen by ’n onderneming wat kaggels vervaardig. Vandag spog hy met ’n ten volle toegeruste werkwinkel waarin hy heelwat werk vir ander boere doen. Sy selfvoerder is uiters gewild en hy het al meer as ’n duisend daarvan gemaak en verkoop.
Hy maak ook skaaphekke, swaaihekke, rooikathokke en eintlik enige ding waaraan iemand ’n behoefte het (hy het tot vir sy buurvrou ’n kaaspers gebou).
“In die Karoo het ons nie baie geleentheid vir diversifikasie nie. Ek het myself ’n ruk gelede afgevra wat ek ekstra kan doen en het toe die staalbesigheid begin. Ek het vir my die beste en duurste sweismasjien wat ek kon bekostig, gekoop en tot vandag toe is dit een van die beste beleggings wat ek in my lewe gemaak het,” vertel hy in sy sonkamer op die plaas.
Die res van sy gereedskap het mettertyd bygekom. Hy het onlangs ’n plasmasnyer aangeskaf wat sy lewe baie makliker maak en heelwat ure bespaar. Vra jy hom oor die nuwe patente waarmee hy woeker, sê hy die blaasbalk wat hy uit ’n ou stofsuier gemaak het, trek altyd mense se aandag.
Kyk hier na 'n video van Esterhuyse se nuttige blaasbalk. Kontak Esterhuyse by
rooikat@williston.za.net vir meer inligting.