Aftreebeplanning vir plaaswerkers was ook bespreek. Foto: VERSKAF
Strukture en prosesse saam met vennote word beoog om betyds aan arbeidsprobleme aandag te gee, sê Agri SA.
Oortreders van arbeidswette sal en kan nie deur
Agri SA en sy affiliate verdedig word nie. Dít is een van die stellings wat die organisasies ná ’n werksessie oor werkskepping gemaak het.
Mnr.
Anton Rabe, voorsitter van die komitee vir arbeid, sê op die werksessie is sterk standpunt ingeneem teen landbouers wat nie die wette gehoorsaam nie. "In die enkele gevalle waar werkgewers wette doelbewus minag, moet die reg sy gang gaan.”
Die organisasie het onderneem om prosesse en strukture saam met ander maatskaplike vennote in te stel om arbeidsprobleme in die bedryf betyds reg te stel. “Die verhouding tussen werkgewer en werknemer op plase is van deurslaggewende belang vir 'n stabiele landelike omgewing. Daarom kan die waarde van ’n gelukkige en produktiewe werkerskorps nooit onderskat word nie,” aldus Rabe.
VerblydendLuidens ’n verklaring sê Rabe: “Dit is vir my verblydend om op so ’n geleentheid van die baie gevalle te hoor waar boere en hul vrouens projekte bedryf om die welstand van die werkers en hul afhanklikes te bevorder.” Hy meen voorbeelde hiervan moet wyer publisiteit geniet.
Volgens Rabe is
arbeidskwessies op plase uniek vanweë die omstandighede waar werknemer en werkgewer hulle woon- en werksplek deel, en van die werkgewer verwag word om huisvesting, vervoer en ontspanningsgeriewe te verskaf. “Hierdie verpligtinge het nie net koste-implikasies nie, maar ook regs- en ander aanspreeklikhede wat ’n besondere verantwoordelikheid op landbouers plaas."
WerksessieDie werksessie is gehou om te besin oor wat nodig is om werkskepping in die landbou te bevorder en werksverliese teen te werk.
Aftreebeplanning vir plaaswerkers is ook bespreek. Rabe sê hulle meen dat werkgewers aangemoedig moet word om werkers te laat inskakel by bestaande voorsorgfondse, wat reeds spesifiek op werkers in die landboubedryf konsentreer.