Kanola. Foto: PHILLIPE DU PREEZ
Ná swaar reën in die Wes- en Oos-Kaap voorgekom het, het boere in die Suid-Kaap gars en kanola begin oes.
Dit is die laatste nóg wat die begin van die
oestyd vir wintergewasse, spesifiek gars, in die Rûensgebied in die Wes-Kaap aangebreek het.
Mnr. Schalk Viljoen, ’n boer van die distrik, sê ná die reën wat
twee weke gelede in die gebied voorgekom het, moes boere geduldig wag dat landerye droog word voor die oesproses kon begin.
“Die meeste het Donderdag (1 November 2012) begin stroop en dis tussen drie en vier weke later as gewoonlik,” vertel Viljoen. Die reën het skade aan verskeie boere se garsoeste veroorsaak, met van die pitte wat begin ontkiem en uitloop het.
Minder skadeGars en kanola word tans meestal in die omgewing geoes, want koring is op baie plekke nog te groen om te oes. Viljoen sê die boere is egter baie positief oor die koring-oes. “Die koring lyk baie, baie goed. Die gars lyk ook goed, maar ons gaan nie
verlede jaar se rekord-oes haal nie. Die manne is ook baie tevrede met hul kanola-oeste.”
Intussen sê mnr. Andries Theron, ondervoorsitter van
Graan SA, hulle is baie dankbaar dat die skade aan oeste in die Suid- en Wes-Kaap minder is as wat aanvanklik verwag is. Hy sê dit wil ook voorkom of die koring-oeste nie skade gely het nie.
“Die nat grond is tans die lastigste, en werktuie sukkel in landerye,” vertel Theron.