Sommige verslae oor die
groenskrif oor grondhervorming is eensydig verander sonder kennisgewing aan of goedkeuring deur afgevaardigdes wat deel vorm van die groep wat die dokument bestudeer, sê die TLU SA.
Derhalwe oorweeg die organisasie om hom moontlik aan dié
NAREG-taakgroep en die proses te onttrek.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter, sê hulle is nie tevrede met die uitkoms van die openbare deelname oor dié dokument nie. Hy het ’n brief in dié verband aan mnr.
Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gerig.
AkademiciIn die brief sê Meintjes die weergawes van die dokument, wat ’n produk van NAREG is, en dit wat oorspronklik deur die werkkomitee ter tafel gesê is, verskil. Hy meen die veranderinge is voorgestel deur ’n groep akademici om “voorsiening te maak vir ideologiese voorwaardes wat deur die Regering gestel is.”
“Indien dit inderdaad die geval is en deelname aan ’n proses wat veronderstel is om deursigtig te wees, in werklikheid gemanipuleer word, tas dit die legitimiteit van die hele proses aan en is dit niks meer as ’n voorgeskrewe reeks van gebeure nie, wat aangebied word om aan die vereistes van ‘deelname’ te voldoen,’’ aldus Meintjes.
HeroorwegingMeintjes wys die minister daarop dat die verskille in die dokumente ’n slegte impak op die proses sal hê.
Verder stel hy die minister in kennis dat die
TLU sy deelname aan die proses sal heroorweeg. ‘‘Ek vertrou dat ‘publieke deelname’ voortaan finale verslae sal weerspieël, wat vry sal wees van ideologiese manipulering buite die omvang en raamwerk wat deur die wet bepaal word. As dit nie die geval is nie, sal die TLU SA sy samewerking en deelname in die huidige proses moet heroorweeg.”