Ongeldige grondeise op honderde plase is reeds teruggetrek en nog kan volg namate boere die geldigheid van dié eise in die Grondeisehof beveg.
Altesame 30 grondeise is tot dusver ongeldig bevind en 29 daarvan is reeds in die Staatskoerant teruggetrek. Van dié eise is 11 in Limpopo, 7 in Noordwes, 3 elk in die Vrystaat en Mpumalanga, 2 in Gauteng en 1 elk in KwaZulu-Natal, die Noord-, Oos- en Wes-Kaap.
(Foto: Makadamias)
Dít het aan die lig gekom in ’n skriftelike antwoord van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondsake, op ’n vraag van die DA-LP me. Annette Steyn. Dié syfers verklap nie die hele storie nie.
‘‘Dertig eise beteken letterlik honderde plase. Onthou ook, dit is slegs geregistreerde eise wat in die Staatskoerant afgekondig is. Eise op nóg honderde plase is teruggetrek voordat dit afgekondig kon word omdat dit met ’n plaaslike ondersoek reeds ongeldig bevind is,’’ sê mnr. Piet Kemp, hoofbestuurder van die TLU SA Oos. Hy ondersoek die geldigheid van eise op meer as 2 000 boere se plase.
Boere beveg eise
Duisende boere beveg die geldigheid van eise op hul plase. Dit beteken die kwessie moet na die Grondeisehof verwys word en dit lyk of die staat nie meer geld het om sake te verdedig nie, sê Kemp.
Die regspan van eisers wat ’n eis in die Grondeisehof verdedig, het skriftelik aangedui dat hulle net bereid is om werk te doen waarvoor hulle betaal word. Die Departement van Grondsake het nog nie betaling bevestig nie.
In Limpopo moet 422 eise nog ondersoek word. Dít terwyl die Grondeisekommissie al in 2004 ophou navorsing doen het omdat hy gemeen het grondeise gaan in 2005 afgehandel wees, sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA.
‘‘Ons stuur op ’n geweldige bottelnek af in die Grondeisehof, want feitlik alle eise in die provinsie word beveg as ongeldig.’’
Volgens die minister is ’n ‘‘toegewyde taakspan’’ in Limpopo aangestel om die uitstaande eise te hanteer met die oog daarop om oor 180 eise in die huidige boekjaar, 180 in 2010/’11 en die oorblywende 62 eise in 2011/’12 te beslis.
Nie een eis in dekade afgehandel nie
‘‘Om dit af te handel, is ’n ander storie. Nog nie één eis is die afgelope tien jaar afgehandel nie. Daar is meer plase uitstaande as wat gekoop is. Van die 685 plase wat by die Magoebaskloof-eis betrokke is, is 42 gekoop,’’ sê De Jager.
Kemp meen ‘‘meer as 80 % van alle grondeise sou nie geslaag het as dit in die hof beland het nie’’.
Die grondeisekommissarisse in Mpumalanga en KwaZulu-Natal het in meer as een geval skriftelik erken dat grond wat nie oorspronklik geëis is nie, op eie houtjie ‘‘foutiewelik’’ deur die kommissie bygevoeg en in die Staatskoerant afgekondig is.
By Standerton in Mpumalanga is ’n eis op ’n hele plaas van meer as 26 gedeeltes afgekondig, terwyl slegs 2 gedeeltes werklik geëis is. By Loskop het dieselfde gebeur met honderde plase wat nou van ’n eis onttrek word omdat die eise slegs op enkele gedeeltes van toepassing is.
Die plase Doornhoek by Pelgrimsrus, Sukkelaar by Bethal, Roodepoort by Groblersdal en Mooifontein by Amersfoort is in dieselfde bootjie.
Ongeldige eise
Dit het die kommissie 18 maande gekos om die ongeldige eise by Standerton terug te trek.
Die grondeisekommissie in KwaZulu-Natal sê in ’n brief aan Kemp (in Landbouweekblad se besit) dat sy regsafdeling hom daarop gewys het dat ‘‘die kommissie slegs die eiendomme soos op die eisvorm aangebring en vanwaar die eisers verwyder is, moes afgekondig het (pleks van hele plase)’’.
Hy erken dat die eisvorm na ’n spesifieke eiendom verwys en dat die dele wat bygevoeg is – tien plase waarvan Kemp die eise gehanteer het – nie deel van die oorspronklike eis is nie.
Die kommissie sê hy het dié ‘‘tegniese punt’’ onder die gemeenskap se aandag gebring en gee die onderneming dat die eis op die betrokke plase teruggetrek sal word. Die meeste van die ongeldige eise kan voor die grondeisekommissie se deur gelê word. Honderde mense is daardeur geraak.
Ses jaar gelede
Ongeldige eise wat tot so lank as ses jaar gelede in die Staatskoerant afgekondig is, is nog nie teruggetrek nie. In ander gevalle is eise wat in 2006 afgekondig is, in Julie vanjaar eers teruggetrek.
‘‘Dit beteken boere word etlike jare lank uiters onregverdig benadeel, want banke staan nie lenings aan hulle toe voordat dit op skrif is dat ’n eis teruggetrek is nie,’’ sê Kemp.
In die geval van die plaas Witkranz, by Ermelo in Mpumalanga, is dit verkeerdelik verwar met die plaas De Wittekranz, 70 km daarvandaan.
Vier eisers het laasgenoemde plaas geëis, maar eise teen albei plase is in die Staatskoerant afgekondig. Drie van die eisers het bevestig dat hulle De Wittekranz eis en nie Witkranz nie, maar die Grondeisekommissie weier om die eis te laat vaar voordat die vierde eiser opgespoor kan word om dit ook te bevestig. Landbouweekblad het ook bewyse van ander soortgelyke gevalle.
Landbouweekblad, 25 September 2009