Mnr. Philip du Preez oorhandig ’n tjek aan mnr. Schalk Burger Snr. Foto: verskaf
Nadat die Wellington-wynroete in Maart vanjaar tot onafhanklike wyndistrik verklaar is, word dié vryheid gevier.
Die Wellington-wynroete het sy onafhanklikheid as ’n wyndistrik asook die aankondiging van sy naamborg met styl gevier. Die wynroete het op 16 Maart vanjaar sy status as onafhanklike wyndistrik gekry, en het verlede maand aangekondig dat die versekeringmaatskappy Mutual & Federal Bpk. sy naamborg sal wees.
’n Tjek van R200 000 is tydens die geleentheid aan mnr. Schalk Burger sr., voorsitter van die wynroete, oorhandig. Hy sê hulle is baie dankbaar vir en opgewonde oor hul status.
“Vir die eerste keer kan ons streek sy unieke terroir en ons landgoedere hul spesialis wyn- en wingerdboukunde, wat reeds deur vele kenners en verbruikers bewonder word, as wyn van ons eie streek ten toon stel. Hierdie tipe streek-spesifieke opbrengs gaan ’n groot rol speel in toekomstige wêreld-wyn-ikone. Wees dus op die uitkyk vir Wyne van Oorsprong Wellington,” aldus Burger.
Nuwe planne
Mnr. Philip du Preez, hoof van landbou by Mutual & Federal sê: “As een van die land se voorste wynlandgoedversekeraars, sien ons baie uit na die verhouding en om nuwe planne te beraam wat albei partye voordelig sal beïnvloed.”
Wellington het histories, saam met Franschhoek en Tulbagh, as wyke van die Paarl-wynstreek geressorteer. In November 2010 het produsente tydens ’n vergadering met die Wyn-en-spiritusraad begin met onderhandelinge om die gebied as onafhanklik afgebaken te kry.
Dié nuwe status verleen aan die 22 produsente langs die roete die geleentheid om met trots, en soos bepaal deur die Wyn-en-spiritusraad, die beskrywing “Wyn van Oorsprong Wellington” op hul etikette te plaas. Hulle moet ook hul eie wyke, gebaseer op die terroir, bekend te stel.
Terrior-borde is by al die toegangsroetes tot Wellington aangebring sodat toeriste en wynliefhebbers die roete kan besoek.