Twee bekende wynkelders, met ’n gesamentlike wynmaak-geskiedenis van sowat 170 jaar, het die kollig gedeel tydens die 2012 Veritas-toekennings.
KWV, verlede jaar se Veritas-kampioen, was weer eens aan die voorpunt in terme van die meeste dubbelgoud medaljes (5) vir sy wyne. KWV het ook twee dubbelgoud, gesogte simbole van uitmuntendheid, vir hul brandewyninskrywings verwerf.
Nederburg was op sy hakke met vier dubbelgoud medaljes. Terwyl KWV se dubbelgoud-oes met 7 goud medaljes aangevul is, het Nederburg daarin geslaag om 12 goud medaljes te versamel.
Ander wynkelders wat presteer
Die ander toppresterende wynkelders is: Jordan (3 dubbelgoud), Simonsig (2 dubbelgoud, 7 goud), Boplaas Familie Wingerde (2 dubbelgoud, 3 goud), Cederberg Private Cellar (2 dubbelgoud, 2 goud), Windmeul (2 dubbelgoud, 2 goud) en Guardian Peak (2 dubbelgoud, 1 goud).
Die kategorie vir brandewyn het 33 standaard, oesjaar en potketel-inskrywings gelok. KWV en Van Ryn’s neem vanjaar die leiding met twee dubbelgoud medaljes elk, gevolg deur Oude Meester, Klipdrift Gold en Flight of the Fish Eagle met een elk.
Altesaam 1744 wyne en brandewyne het vanjaar hul visier op Veritas-medaljes gehad en 58 (3%) uitstaande produkte het dubbelgoud gewen, terwyl 147 (8%) goud verdien het, 499 (29%) silwer en 677 (39%) brons – dus ’n totaal van 1 381 medaljes.
Wenwyne van 2012
Agt Suid-Afrikaanse wynkelders het vanjaar die voortou geneem in terme van dubbelgoud en goud medaljes en byna die helfde van die totale aantal dubbelgoud -oekennings sal op hulle bottels pryk.
Vyf van KWV se voorste wyne is met dubbelgoud beloon: The Mentors Pinotage 2010, The Mentor Shiraz 2010, 1933 White Jerepigo Limited Edition, 1969 Hanepoot Jerepigo en ‘n nie-oesjaar Classic Collection Cape Tawny.
Nederburg het beïndruk met vier dubbelgoud medaljes vir hul Nederburg Winemaster’s Reserve NLH 2010, ‘n Private Bin Edelkeur Chenin Blanc NLH 2008, ‘n Private Bin Edelkeur Chenin Blanc 2004 en die Private Bin R181 Merlot 2007.
Jordan Wynlandgoed van Stellenbosch spog met ‘n trio van dubbelgoud medaljes vir hul Nine Yards Chardonnay 2011, die Jordan Chardonnay 2010 en die Cobblers Hill 2008.
Boplaas wen dubbelgoud
Boplaas ontvang twee dubbelgoud medaljes vir hul Cape Vintage Reserve 2009 en 2010.
Twee dubbelgoud-medaljes gaan aan Cederberg Private Cellar, SA se hoogste kelder bo seespieël, vir hul Five Generations Cabernet Sauvignon 2010 en die Shiraz 2010.
Stellenbosch-gebaseerde Guardian Peak is met ‘n dubbelgoud-duo vereer vir hul Guardian Peak Lapa Cabernet Sauvignon 2010 en die Guardian Peak SMG 2010.
Simonsig, waar generasies van Malans reeds sedert 1688 wynmaak, wen ook twee dubbelgoud-medaljes vir die Redhill Pinotage 2009 en die Sunbird Sauvignon Blanc 2012.
Dubbelgoud vir pinotage
Windmeul Cellar, geleë in die hartjie van die Paarlse wynlande, is toenemend bekend as ‘n dubbelgoud-wenner vir Pinotage. Hierdie jaar is geen uitsondering nie met ’n dubbelgoud vir hul Reserve Pinotage 2011, sowel as vir hul Sauvignon Blanc 2012.
Dubbelgoud medaljes is toegeken aan KWV se 15- en 20-jaar brandewyn, sowel as Van Ryn’s se 10- en 15-jaar oue brandewyn. Ander toppresteerders sluit in Flight of the Fish Eagle, Klipdrift Gold en Oude Meester 12-Jaar Reserve.
Sauvignon Blanc is bo- aan vanjaar se lys van inskrywings met 211, gevolg deur Shiraz (181) en Cabernet Sauvignon (146).
Besoek www.veritas.co.za vir die volledige uitslate. Die webwerf het ook n soekgerief wat spesiaal ontwerp is om Veritas-medaljewenners sedert die begin van die kompetisie in 1991 aan te dui.