21 Augustus 2012
1872
keer gelees |
kommentaar
Vanjaar se Boertjiefees beloof om iets aan elke feesganger te bied.
Dit is weer tyd vir die Santam Landbou Boertjie-kontreifees en vanjaar se fees beloof om groter as ooit te wees.
Die Boertjiefees, wat vanjaar vanaf 30 Augustus tot 1 September op Bultfontein in die hartjie van die Vrystaat aangebied word, spog met talle nuwe trekpleisters.
Die organiseerders van die fees, me. Linda du Plessis en mnr. Volla du Plessis, sê daar is 120 nuwe perdestalle op die terrein aangebring om die sowat 300 perde te huisves wat op die fees geskou gaan word.
’n Splinternuwe arena is ook gebou, spesiaal om die derde wêreldkampioenskap vir Boerwindhonde te huisves. Hier word honde van oor die wêreld verwag. Daar is spesiale hokke ingerig om hulle te huisves. Die woonwapark is ook vergroot en al die badkamergeriewe het nuwe teëls en gordyne gekry.
Dit is duidelik dat die Du Plessis’s hul moue opgerol het en dat Bultfontein gereed staan om sommer ’n groot aantal besoekers vanjaar te verwelkom. Met meer as 300 uitstallers en vertoners beloof die fees om uit sy nate te bars.
Eetgoed gaan daar volop van wees, met die Rotariërs wat hul kroeg oopstel, terwyl die skole op Bultfontein en Nelsdrif restaurante sal bedryf.
Ander restaurante en die NG kerk Soutpan rol ook hul moue op om te help omsien na die feesgangers se behoefte aan iets om te eet en te drink. ’n Groot verskeidenheid groot- en kleinvee gaan tydens die fees ten toon gestel word. ’n Bul- en ramveiling word ook aangebied.
Merino Classic en colop vermaak
Een van die groot trekpleisters by vanjaar se Boertjiefees is die Merino Classic. Nie net gaan nasionale kampioene op vanjaar se Boertjiefees aangewys word nie, maar die Merino-ras se kenmerke gaan op allerlei maniere aan die publiek uitgewys word.
Vir diegene wat na afleiding soek, bied die Boertjiefees vanjaar ’n menigte bedrywighede. Trompoppies van oor die hele land kom teen mekaar te staan in ’n kompetisie, terwyl Bulletjierugby, Pienkhandjienetbal, sokker, ’n bergfietswedren, ’n pretdraf, vierwielmotorfietsritte, 4x4- en bestuursvernufkompetisies, volkspele, ’n sterkmankompetisie, armdrukkompetisie en ander bedry-wighede wat die adrenalien gaan laat vloei, by die fees aangebied word.
Feesgangers kan uitsien na ’n wye verskeidenheid van bedrywighede en werktuie wat op die fees te siene gaan wees. Aan vermaak is daar geen einde nie. Snotkop, Monique, DJ Ossewa, Abba Magic SA, Fran-Zel, Leme, Dillon Lerm, Christiaan van Zyl en nog ander musiekkunstenaars staan gereed om feesgangers deur die hele dag en tot laatnag te vermaak.
Die koste vir die Boertjiefees beloop R30 vir volwassenes en R15 per skoolkind om by die hek in te gaan en R50 vir volwassenes en R30 vir skoolkinders vir optredes saans. Die kaartjies vir die aandoptredes kan by die fees self gekoop word.
Pakket beskikbaar
Die Boertjiefees het ook ’n pakket vir al drie dae saamgestel van R150 vir volwassenes en R100 vir skoolkinders en pensioentrekkers, wat nog tot Donderdag 1 September by Die Lighuis te koop aangebied sal word, asook by die onderskeie skole op Bultfontein en Nelsdrif en by die CD Shop in Welkom.
Feesgangers gaan na gelang van die dag waarop hulle die fees bywoon ’n stempel en kleurarmbandjies kry. Die stalletjies open op Donderdag 30 Augustus om 12:00. Dit sluit om 18:00 met die oog op ’n onthaal vir borge en vertoners. Vrydag en Saterdag is die hekke oop van 08:00 tot 19:00.
Die organiseerders nooi besoekers hartlik uit om vanjaar ’n besoek by die Boertjiefees te kom aflê en hulle te verkyk aan al die interessanthede wat deel uitmaak van ’n uitsonderlike geleentheid.