Menu
 

MARLEEN SMITH
27 Julie 2004

1183 keer gelees | 0 kommentaar

Met optimale benutting van sy hulpbronne het dié skaapboer 'n interessante voervloeiprogram ontwikkel.


Met optimale benutting van die natuurlike hulpbronne en sonder besproeiingswater het dié skaapboer 'n interessante voervloeiprogram ontwikkel. Groenvoer, lusern en weimielies, alles op droëland, is die vernaamste onderdele hiervan.

Die stygende koste van grondbewerking het meegebring dat veeboere in die Suid-Vrystaat al hoe minder voer plant. Hulle het daarna begin streef om minder te ploeg namate brandstof en werktuie al hoe duurder geword het. Die klem het eerder verskuif na die teel van ooie wat hul lammers sonder probleme op die veld kry en hulle daar speen.

Die werklikheid is egter dat dié gebied, hoewel op die rand van die Karoo, nie genoeg bossieveld het om skape die volle twaalf maande van die jaar optimaal op die veld te laat produseer nie. Plant- en lekkoste moet nou teen mekaar opgeweeg word.

Mnr. Eddie Prinsloo van Smithfield, Merinoteler en die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika se Boer van die Jaar vir 2003, het lankal gekies: Hy laat die trekkers nog elke jaar op sy lande tussen Smithfield en Reddersburg dreun. Die natuurlike veld benut hy optimaal deur bergkampe (sowat die helfte van sy natuurlike weiding) die hele somer deur as winterweiding te spaar. Buiten 'n lek met buffers teen suurpens en deurvloeiproteïen, kry sy diere net klipsout.

Die eerste ryp val gewoonlik nie later as 20 April nie, en daarna begin sy veld se proteïeninhoud drasties daal. Boonop het sy skape 'n hoë persentasie meerlinge omdat hy daarvoor selekteer. (Baie van sy kliënte koop net ramme wat deel van 'n meerling was.) Verlede jaar het 35 % van sy ooie meerlinge gehad.

Hy benut 'n uitgebreide stelsel van aangeplante voer. Dit sluit in sowat 50 ha weimielies met groenvoer tussenin, 'n praktyk wat hy by sy pa, mnr. Hennie Prinsloo, geleer het, asook 250 ha met net groenvoer. Hy het pas sy ou lusernlande omgeploeg en 25 ha nuwe droëlandlusern gevestig. Voortaan wil hy jaarliks nog groenvoerlande na lusern omskakel, maar nie volgens die algemene gebruik dat die swakste groenvoerlande vir lusern gebruik word nie.

Ál Prinsloo se ooie, kommersieel sowel as uit sy Heuningkrans-stoetery, word in die somer op die veld gepaar. Sy winterweiding, in die berge, is afgekamp en kry die hele somer om goed uit te groei. Daar is heelwat beskutte weiding agter die klippe en onder bosse wat nie doodryp nie.

Rondom 10 April word ál die skape op die plaas teen verlammingsbosluis gedip. Daarna word hulle in die bergkampe gesit.

Einde Mei word die hamel- en ramlammers op die groenvoerlande (wat in Februarie geplant is) afgerond. Ná sowat ses weke is die hamels vir bemarking gereed. Die ramlammers word tot ses weke voor Prinsloo se produksieveiling in Augustus op die lande gehou. Daarna word hulle met voerpille afgerond wat op die plaas gemaak word. Hul rantsoen bestaan uit 25 % mielies, 10 % van 'n hoëproteïen-voerproduk met 'n suikerbasis en die res mieliereste of lusern. Hul aanvanklike groeitempo is sowat 250 g per dag. Uiteindelik groei hulle 500 g per dag. Dié wat nie hierdie groei kan handhaaf nie, word nie op die veiling te koop aangebied nie.

Ál die ooie word vir dragtigheid geskandeer. Dié met meerlinge word ses weke voor lamtyd uit die berge na die weimielie-en-groenvoerlande gebring. Om suurpens te voorkom, word hulle in die eerste week net twee uur per dag daar gehou.

Daarna word hulle aanvanklik net saans in die land gesit, en teen die vierde week permanent daar gehou. Reeds van twee weke vroeër kry hulle 'n lek met buffers teen suurpens en deurvloeiproteïen.

Prinsloo sê hy het nog nooit 'n groot probleem met suurpens gehad nie. Hy glo dit is danksy die groenvoer wat hy tussen die mielies plant en die ooie wat selektief vreet.

Teen 'n belading van sowat 30 ooie per hektaar vreet die meerlingooie die weimielie-en-groenvoerlande binne ses tot agt weke kaal.

'n Week voor lamtyd kry die meerling-ooie op die land dieselfde voerpille as wat hulle in die lamhokke gaan vreet. Die pille bestaan uit 30 % mielies, 16 % van 'n hoë-proteïenvoerproduk met 'n suikerbasis, en die res mielie- of grondbonereste of tweedegraadse lusern.

Drielingooie word sowat 'n week voor lamtyd na die lamhokke gebring, en die tweelingooie met lamtyd. Prinsloo sê hy gebruik lamhokke (net vir die meerlingooie) omdat so 'n groot persentasie meerlinge gebore word en sy verliese te groot is as hulle op die land lam. Die ooie met lammers bly sowat 'n week of minder in die hokke voordat hulle groenvoerlande toe gaan. Benewens die voerpille kry hulle in die lamhokke bale eerstegraadlusern.

Ooie dragtig met eenlinge word drie weke voor lamtyd uit die berge gehaal en groenvoer toe gebring. In die eerste week word hulle net in die aand in die groenvoer gehou, en daarna permanent. Die groenvoerlande dra dan sowat 15 ooie per hektaar.

Ál die lakterende ooie word tot Oktober op die groenvoerlande gehou die meerlingooie in groepies van nie meer as 50 nie. Dan skuif hulle veld toe, waar die lammers teen die tweede week in Januarie gespeen word.

Die meerlinge kry kruipvoer (die pille wat op die plaas gemaak word en wat die meerlingooie kry) vandat hulle drie weke oud is.

Prinsloo sê hy vind dat droëlandlusern meestal van April tot November die smaaklikste en voedsaamste is. Van Desember tot einde Maart is die veld weer smaakliker as die lusern.

Teen April laat hy sy diere nie meer die lusern vreet nie. Hy los die laaste drag op die land voordat dit ryp en laat die plante blom. Dié plantmateriaal beskerm die nuwe uitloopsels in Julie of Augustus, sodat die nuut uitgeloopte land dadelik weer bewei kan word. Hy het nog nooit opblaasprobleme gehad weens die lusern wat ryp gekry het nie, sê Prinsloo.

Groenvoer het nog nie misluk
Die omgewing waar hy boer, is nie vir kommersiële saaiboerdery geskik nie. Tog plant mnr. Eddie Prinsloo al jare lank droëland-groenvoer, en het hy nog nie een seisoen 'n misoes gehad nie. Selfs in 1999, toe dit besonder droog was, het hy hawer geplant. Toe die eerste reën eers teen die begin van die winter val, het dit in Junie opgekom en het sy ooie die Augustus daarop gelam.

Die weimielies met groenvoer het hy die afgelope nege jaar elke seisoen met sukses - sonder wisselbou en sonder kunsmis op dieselfde land geplant. In twee van die seisoene was die opbrengs selfs goed genoeg om vir eie gebruik te stroop.

Sy produksiekoste is laag. Hy kry dit reg deur onder meer net een keer elke vyf jaar te ploeg.

Hy plant die mielierye 2,1 m uitmekaar, met 'n mengsel van hawer en rog tussenin. Die groenvoer verhoog die land se drakrag aansienlik. Dié mielies wat nie 'n goeie stand het nie, sny hy af voordat dit verdroog en pak dit in hope. Dié reste gebruik hy later in voerpille vir meerling-lammers en veilingramme.

Prinsloo het by mnr. Jochem van den Berg, 'n boer van Dewetsdorp, droëland-lusern leer plant. Met die tradisionele plantmetode in dié streek - om die saad voor die trekkerwiel te strooi en dan met die wiel vas te trap - het Van den Berg nie sukses behaal nie. Die saad het baie swak opgekom.

Omdat hy 'n veteraan-planmaker is, het hy 'n doeltreffender manier ontwikkel. Hy het sy mielieplanter se bakke met gifbakke vervang waarin die saad gehou kan word. Soos die saad op die land gestrooi word, word dit net liggies deur die planter vasgerol sodat dit nie te diep ingetrap word nie.

Met dieselfde bewerking dien die planter ook kunsmis toe, sowat 80 mm onder die lusernsaad. Vyf kilogram saad word per hektaar geplant en 100 kg kunsmis toegedien.

Voorts plant Van den Berg die lusernrye 'n meter uitmekaar sodat die grond tussenin later losgemaak kan word om grasindringing te beperk.

Prinsloo het sy nuwe lusernland in Januarie met 'n vyftoon-skeurploeg bewerk. Ná die eerste reën in Februarie het hy die grond die eerste keer met 'n skottelploeg gesny. Nadat dit weer gereën het, het hy in die laaste week van April weer diep gesny. Daarna het hy die grond met 'n eg gekompakteer voordat hy met Van den Berg se omgeboude planter geplant het: 5 kg SA Standaard en 100 kg kunsmis per hektaar.

Sy totale vestigingskoste vir die nuwe lusernland was R600 per ha. Op sy weimielie-en-groenvoerlande het Prinsloo op 30 Desember verlede jaar die mieliekultivar SNK 2472 geplant. In Januarie en Februarie het hy die mielies drie keer geskoffel. Op 1 Maart het hy Maluti-hawer tussenin geplant.

Sy groenvoerlande het hy vroeg in Januarie met 'n vyftoon-skeurploeg bewerk, asook twee keer gesny, voordat hy begin Maart geplant het.

Hoewel hy gewoonlik Maluti-hawer plant, het Prinsloo vanjaar die eerste keer die kultivar Kompasberg ook beproef en groot welslae daarmee gehad.

Proef bevestig boere se geloof
Die resultate van 'n nabygeleë praktykproef het die afgelope twee jaar mnr. Eddie Prinsloo se geloof in droëland-voerverbouing bevestig. Dié proefneming, die Slikspruit-praktykproef, is onder meer daarop gemik om oor ten minste vyf jaar die waarde van droëland-groenvoer vir veeboere in dié streek te meet.

Voermol, CMW en Virbac is mede-verantwoordelik vir die projek, nou in sy derde seisoen. Die ooie word op mnr. Pieter Hanekom se plaas naby Smithfield gehou. Die ekonomiese prestasie van sewe skaaprasse se ooie word gemeet. Dit sluit wol-, vleis- en dubbeldoeldiere in. Met lamtyd word die helfte van elke rasgroep op droëland-groenvoer gesit (10 ooie per hektaar), terwyl die ander helfte met 'n lek (250 kg Maxiwol, 200 kg mieliemeel en 50 kg sout) op die veld gehou word.

Albei groepe kry die lek van drie weke voor lamtyd af, maar sodra die groenvoer-ooie lam en hulle na die lande geskuif word, word hul lek gestaak. In die seisoen van 2002/03, 'n gemiddelde groenvoerjaar, was die groenvoerooie se winsmarge bo voerkoste R418,62 per ooi, vergeleke met die veldooie se R359,92. Dit verteenwoordig 'n verskil van bykans R60 000 in inkomste per 1 000 ooie.

Die tabel hieronder gee die Slikspruit-praktykproef se produksie- en ekonomiese resultate vir 2002/03.

Dit vergelyk die prestasie van ooie wat op droëland-groenvoer gelam het met dié van ooie wat met 'n lek op die veld gehou is. Die groenvoerkoste het R475/ha beloop. Dié koste is saamgestel uit saad (R55), brandstof en smeermiddels (R150), arbeid (R35), herstelwerk (R120) en waardevermindering (R115).

Mnr. Hendrik van Pletzen, tegniese bestuurder van Voermol-Voere, wys daarop dat dié groot verskil in groot mate danksy die oordrag-effek van die vorige seisoen (2001/02) 'n besonder goeie groenvoerjaar was. Dit het die groenvoer-ooie se lam- en speenpersentasie in 2002/03 'n betekenisvolle hupstoot gegee. Hoewel die groenvoerlammers nie soveel swaarder as die veldlammers was nie, is 20 % meer lammers op die groenvoer gebore.

Van Pletzen sê boere moet besef dat die eisel-ontwikkeling in 'n ooi reeds sowat vyf maande voor paring begin. As ooie in laktasie baie gewig verloor weens onvoldoende voeding, word die volgende seisoen se lammeroes aansienlik ingekort. In die Slikspruit-projek was die groenvoerooie se gewig met speentyd in 2001/02 gemiddeld 54,1 kg, teenoor die veldooie se 49,9 kg.

Dit moet egter ook in gedagte gehou word dat dié lamseisoen in Augustus was, wat te vroeg is vir ooie om in hierdie streek op die veld te lam, sê Van Pletzen. Die proef se lamseisoen is sedertdien tot Oktober aangeskuif, en die verskil tussen die groenvoer- en veldgroep is nou aansienlik kleiner.

Kyk beter na grond
Veeboere wat droëlandvoer vir beweiding in gebiede soos die Suid-Vrystaat verbou, behoort hul lande se voedingstatus beter na te gaan, meen mnr. Hendrik van Pletzen, tegniese bestuurder van Voermol-Voere.

Hulle behoort gereelde grondontledings te laat doen sodat aanvullende voeding gegee kan word as dit nodig raak. As dit nie gebeur nie sal produksie een of ander tyd daaronder begin ly, want selfs net een tekort kan die opbrengs geweldig strem.

Van Pletzen beraam dat die hersirkulasie van voedingstowwe op sulke lande tussen 35 % en 40 % is.

Hoewel die produksiekoste weens die gebied se lae saaipotensiaal konserwatief gehou moet word, is dit tog nodig om wetenskaplike bewerkingpraktyke te volg. Met die regte praktyke kan opbrengste met tussen 50 % en 60 % verhoog word, sê Van Pletzen.

Een hiervan is om die kultivar met die hoogste opbrengs te kies. In groenvoerkultivarproewe is byvoorbeeld bewys dat verbeterde rog- en hawerkultivars dubbel die drakrag as tradisionele hawerkultivars lewer.

30 Julie 2004

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/04/14 15/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3415c 3422c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1723c 1719c down -0.2
Skaapvleis A2/A3 4638c 4636c down 0
Varkvleis (gem. prys) 2136c 2119c down -0.8
Braaikuikens 1712c 1721c down 0.5

Aandele

  • Namibiese Elite-koei: Bonsmara

    Funksioneel doeltreffende diere wat oral in alle toestande kan produseer, is die doelwit van mnr. Edward Hansen van Okahandja.

  • Sussex se Elite-koeie

    Met sý Sussex-beeste moet kommersiële boere op die veld wins kan maak, sê mnr. Chris Nel van Petrus Steyn.

  • Beefmasters se Elite-koei

    Mnr. Piet Human van Steynsrus se Beefmasters is die resultaat van die familie wat al 150 met beeste in die Vrystaat boer.

  • Drakensbergers se Elite-koei

    Jou oë kan vir jou jok, maar nie syfers nie, sê mnr. Edwin Schroeder van Dundee, eienaar van die Elite-koei in die Drakensberger-ras.