Een van die voorste
Afrikanerbeestelers in Suider-Afrika wil die ras weer help regruk. Hy glo hy en
ander telers het daartoe bygedra dat dié beeste in onguns verval het en beskou
dit nou as sy plig om dit op die regte spoor te bring.
"Ons het ons te veel aan modegrille en -giere oor die voorkoms van die Afrikanerbeeste gesteur en te min na die diere se agterkwarte, waar die duur vleis is, gekyk. Ek had 'n aandeel daarin en nou wil ek dit help regmaak," sê mnr. Oubaas van der Merwe, bekende teler van Gobabis in Namibië.
Hy het 'n teelprojek met sy dertig beste koeie begin wat met die saad van top-bulle geïnsemineer word op soek na "uitskieters" wat die groei en vleis kan gee wat nodig is om die ras in ere te herstel sonder dat gehardheid en langlewendheid ingeboet word.
Terselfdertyd gebruik hy sy top- koeie wat oor is om die ras, Afrigus, wat 'n paar jaar gelede tot stand gekom het, te help vestig en uitbrei.
Albei die projekte is nog in hul kinderskoene, maar sy aanvoeling sê vir hom hy is op die regte pad, aldus mnr. Van der Merwe. Hy het 'n dekade gelede op Kroonstad stof in die oë van Suid-Afrika se voorste Afrikanerbeestelers geskop met 'n span skoudiere uit Namibië.
Maar dit is waarskynlik waar die fout begin het. Hoewel sy diere gereeld kampioenskappe gewen het, het die vraag na sy bulle begin krimp, en dit het hom laat dink.
Hy het in 1969 saam met sy pa, Schalk, op die plaas Harzburg van 4 700 ha, digby Gobabis, begin boer en in 1987 die boerdery oorgeneem. Net soos sy pa het hy 'n "oog" om goeie teeldiere raak te sien. Hulle het nie noodwendig die duurste bulle gekoop nie, maar die meeste wat hulle aangeskaf het, het vir hulle uitstekende diere geteel.
In 1963 is die stoetery wat in die Afrikanerbeeswêreld baie bekend geword het, begin bou met bulle van die Rasse, Geldenhuyse, Van Rensburgs en Gar Muller. Maar die bul wat waarskynlik die grootste impak op die stoetery gehad het, was Jomaco 16 van mnr. Kobus Oosthuizen van Frankfort.
Mnr Van der Merwe was op 'n kursus by mnr. Gar Muller toe hy dié bul tussen 'n groep jong bulle opgemerk het. Hy het belangstelling in die kursus verloor, die eienaar van die bul gaan opsoek en hom vir R500 op sy pa se naam gekoop.
Sy pa was glad nie geneë daarmee nie en hom aangesê om die bul by die koeie te sit, maar net nie by die goeie koeie nie. Hy het die opdrag so effens gekook en dié bul het uiteindelik verskeie skouwenners geteel.
Van dié bul is die bekende Harzburg Speelman en die Maatjie-koeifamilie geteel. Maar ondanks die puik skoudiere het hy mettertyd gevind die vraag na sy bulle begin afneem. Daarby het hy ook nie eintlik meer vleis gehad om te verkoop nie.
Uiteindelik het hy besef dit is sy plig om te help regmaak wat hy help verbrou het, want met die Afrikanerbeesras is daar geen fout nie. Daar is net op verkeerde eienskappe gekonsentreer.
Daarom loop sy 30 beste koeie nou by mnr. Frans Nel, bekende Afrikanerteler, ook van Gobabis, waar hulle die KI-projek van stapel laat loop het.
Die koeie is hoofsaaklik die nageslag van Speelman en Zebu Basjan. Aan die bulkant word daar sterk geleun op die Raka-bloedlyn, bulle uit die Schutstals-kudde, Jan Basson se Pietman en bulle van die Van Greunens van Baltimor.
Die saad van die 15 bekendste bulle wat na hul mening die beste moontlikheid bied om hul oogmerk te bereik, word in die projek gebruik.
Die oogmerk met die projek is om sterk groeiers te identifiseer en daaruit weer 'n Afrikanerbees te teel wat sy regmatige plek langs enige ander beesras kan inneem.
Mnr. Van der Merwe glo die Afrikaner het sy plek verloor omdat te veel gekyk is na modegrille en giere wat finansieel min beteken en te min na die agterkwart waar die vleis gedra word en wat die geld inbring.
"Ek is self skuldig daaraan. Ons telers het uit vrye wil die mode gevolg om bulle te gaan koop by die telers wat skoupryse gewen het," sê mnr. Van der Merwe.
Die eerste kalwers wat in die projek aangekom het, lyk belowend, maar dit is nog te vroeg om te sê hoe vinnig die vordering is. Maar hulle is kliphard besig om binne die ras met bloedlyne te spook op soek na die regte kombinasie om 'n geharde vleisdraer te teel wat lank kan lewe en kan produseer.
Op sy plaas is hy met 'n basterprogram besig, spot hy goedig. Hy kruis die afgelope drie jaar Afrikaners met rooi Angusse om die helfte.
Die Afrigus is 'n nuwe ras wat 'n klompie jaar gelede tot stand gekom het en wat deur die SA Stamboek goedgekeur is. Me. Lexie Gradwell, wat naby Bloemfontein boer, het al die verste gevorder met die nuwe ras en is ook die voorsitter van die Afrigus-klub.
Daar is drie Afrigus-telers in Namibië en sowat ses in Suid-Afrika. Toe hulle oor die nuwe ras begin gesels het, het hy besef hy het niks om te verloor nie. Sy koeie sou steeds kalf en hy was oortuig dat die kalwers beter sou presteer as wat sy Afrikanerkalwers toe gepresteer het.
Hy het twee top rooi Angusbulle by mnr. Gert Malherbe in die omgewing van Bothaville gekoop en by sy beste Afrikanerkoeie gesit.
Hy het met 85 koeie begin, waaronder die bekende koei Maatjie.
Die eerste kalwers het hom baie moed gegee vir die nuwe onderneming toe hulle van 240 kg tot 260 kg van die veld af gespeen het. Hy het toe 'n Afrigusbul by mnr. Mark Hattingh van Ventersdorp gekoop. Dié bul, wat geteel is uit Anguskoeie waarop 'n Afrikanerbul gebruik is, het hy toe op Anguskoeie gebruik.
Die eerste F1-diere is pas gepaar en hy wil die diere só opteel tot hulle suiwer Afrigusse is.
Mnr. Van der Merwe gebruik nie vaste dekseisoene nie, want hy glo die natuur wag nie op 'n bul nie. Die koeie kalf dus deur die jaar, en sowat 50 % van die kalwers kom van November tot Januarie aan.
Die diere loop deur die jaar op soetveldweiding teen 'n belading van een grootvee-eenheid per 10 ha. Hulle kry heel jaar 'n sout- en fosfaatlek waarby 10 % melassemeel (vir smaaklikheid en beter spysvertering) gevoeg is.
Hy volg ook nie 'n vasgestelde weistelsel nie, maar pas dit van jaar tot jaar by die toestand van die veld en die klimaatstoestande aan.
Die koeie word in twee troppe verdeel met 'n bul by elke groep. Die volgende jaar word die twee bulle omgeruil. Nadat die koeie gekalf het, word hulle van die veld af ingebring sodat die kalwers gemerk kan word. Daarna gaan hulle weer veld toe.
Net vier van die eerste groep kalwers het horings gehad, wat baie arbeid bespaar omdat almal nie onthoring hoef te word nie.
Sy oogmerk met die projek is om mediumraamdiere te teel wat swaarder kalwers speen. As hy die gemiddelde gewig van sy diere met net 20 % kan opstoot sonder om sy weiding skade aan te doen, sal hy hoog in sy skik wees.
Hy glo die Afrikaner sal sorg dat die diere gehard bly en lank lewe en produseer, terwyl die Angus gaan sorg vir die gewig.
Daarby is al twee die rasse daarvoor bekend dat hulle goeie vleis produseer. Hy wil die vleis van die nuwe ras vir sagtheid en ook die pH van die vleis te laat toets.
Van die begin af het die Afrigus sy belangstelling geprikkel en het hy 'n gevoel dat hy sy mikpunt sal bereik. Wat hom meer moed vir die toekoms gee, is die feit dat hy drie F1-Afrigus-ossies verlede jaar in die slagoskompetisie op die plaaslike skou ingeskryf het.
Op die hoef het hulle nie veel reggekry nie en die omstanders het na hulle verwys as Afrikaner-ossies. Maar toe die velle af is, het hy 'n eerste, tweede en vierde plek met die karkasse verower. En dié diere was nie net eerste kruisings nie, maar ook sy eerste poging om slagossies te voer.
18 Oktober 2002