Twintig van die sowat 150 swartwitpense van Zambië wat na Suid-Afrika ingevoer sou word, het in kwarantyn gevrek weens swaar reën en die feit dat hulle nie na hoër gebiede kon beweeg nie.
Luidens ‘n berig in Business Day sê Mnr. Aitjie van Wyk, een van die invoerders, op tye het van die bokke tot by hulle knieë in die modder gestaan.
Dié bokke sou op 16 Februarie met lugvervoer na Suid-Afrika vervoer geword het, maar ‘n hofinterdik het dié invoer vir eers gestop. Volgens die interdik moet die bokke eers aan gesondheidsregulasies voldoen, en die voorwaardes vir openbare reaksie op dié invoer moet eers nagekom word, voor hulle die land ingebring kon word.
Die bokke, wat elkeen sowat R1 miljoen werd is, is in die Kavue Nasionale Park gevang. Drie tipes bek-en-klouseer is glo al in dié park geïdentifiseer.
Forum vra interdik
Intussen het die Rooivleisbedryfsforum vroeër die week aan landbou.com gesê hy is tevrede met die uitspraak van die Noord-Gautengse Hooggeregshof ten opsigte van die interdik.
Mnr. Dave Ford, voorsitter, sê die forum het verlede week ‘n aansoek by die hof ingehandig ná ‘n kennisgewing dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, voorstel dat dié bokke ingevoer moet word, in die Staatskoerant van 21 Desember 2009 verskyn het.
Volgens Ford wou hulle die goedkeuring van dié transaksie keer voor hulle terugvoer in dié verband van die minister en ander rolspelers ontvang het. Hy sê die forum was ook ontevrede met die wyse waarop die kennisgewing geplaas is.
“Ons meen die protokol wat gevolg is om die kennisgewing in die Staatskoerant te plaas, was onvoldoende. Dit het op ‘n snaakse tyd plaasgevind, wat mens laat dink dat dit vir een of ander rede spoedig afgehandel moet word.”
Intussen sê Me. Pricilla Sehoole, die hoof van kommunikasie by die departement, die Regering is daartoe verbind om aan nasionale standaarde en protokol te voldoen vir die invoer van gesplete-hoef diere.
Sy sê alle partye betrokke by dié invoer sal verseker die diere word nie ingevoer as hulle nie aan die regte standaarde voldoen en die regte prosedures gevolg is nie.
Bron:
5 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)