Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Bestuur van probleemdiere

 
Rooikat. Foto: JOHAN NORVAL
Rooikat. Foto: JOHAN NORVAL

‘n Artikel oor die bestryding van roofdiere - wat verwarring kan veroorsaak - word toegelig in ‘n nuusverklaring deur Agri Wes-Kaap, RPO, NWKV en CapeNature.

‘n Gesamentlike nuusvrystelling deur CapeNature en Agri Wes-Kaap verwys na die onlangse elektroniese artikel “Probleemdiere: DLV’s gee permitte” wat op Landbouweekblad se webtuiste verskyn het.

Die artikel het verskyn ná afloop van die Wes-Kaapse roofdierkomitee-vergadering op 20 Januarie te Worcester. Die komitee bestaan uit verteenwoordigers van die georganiseerde landbou en CapeNature. Bogenoemde artikel het egter sekere inligting bevat wat verwarring kan veroorsaak, lui die verklaring.

Die korrekte inligting word hiermee weergegee:

Tydens bogenoemde vergadering is voorstelle bespreek waarvolgens roofdierbestuur tot voordeel van die produsent en bewaring sal strek. Dit sal ook die toekomstige bestuur van wilde diere, wat skade in die landbousektor veroorsaak, vergemaklik.

Dit is belangrik om onderskeid te tref tussen die bestuur van roofdiere (rooijakkalse, rooikatte) en ander wilde diere (bv. vlakvarke, bosvarke, kraaie, ens.) wat skade veroorsaak. Voorstelle wat bespreek word ten opsigte van roofdiere, sal onder andere insluit kleiner bestuursareas, bv. distrikslandbouverenigings (DLV’s), landbouverenigings (LVs). Voorstelle is ook bespreek waarvolgens die georganiseerde landbou ‘n groter rol gaan speel in die toekomstige bestuur van roofdiere op DLV- en LV-vlak.

Uitreik van permitte
In die artikel word die indruk geskep dat ‘n ooreenkoms tussen CapeNature en Agri Wes-Kaap bereik is wat die uitreiking van permitte gaan afwentel na DLV-vlak. Die uitreiking van permitte bly egter die mandaat van CapeNature. Tydens besprekings is daar ook voorstelle bespreek om die uitreiking van permitte deur CapeNature te vereenvoudig. Die bestuur van wilde diere (uitgesluit rooijakkalse en rooikatte) wat skade veroorsaak, sal die verantwoordelikheid van CapeNature bly, maar sal in samewerking met die onderskeie DLV’s en LV’s geskied.

Met verwysing na die artikel wat reeds verskyn het, word geïmpliseer dat hierdie voorstelle tans onder bespreking, binne twee maande geïmplementeer gaan word. `n Afvaardiging van die Wes-Kaapse roofdierkomitee het op 29 Januarie vergader om gesamentlike riglyne te bepaal waarvolgens hierdie voorstelle moontlik in die toekoms geïmplementeer kan word. Stappe wat gevolg moet word om die voorstelle te implementeer, is tans onder bespreking. Geen vaste datums vir implementering is egter nog bepaal nie.

Die voorstelle ter tafel behoort voordele in te hou vir die volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne, asook ondersteuning te bied aan grondeienaars wat tans verliese ondervind. CapeNature en die georganiseerde landbou is opgewonde oor die voorstelle wat tans onder bespreking is, en is hoopvol dat hierdie voorstelle vir al die partye tot voordeel sal strek.

2 Februarie 2010

3
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.