Diere maak amok in Suid-Afrika en elders met ‘n tier wat uit ‘n bakkie gebreek en loslopend in Mpumalanga is, terwyl ‘n man deur drie leeus in die Oos-Vrystaat aangeval is.
Volgens ‘n berig van Times LIVE het ‘n beer ook in Denver, Amerika, ‘n motor afgeskryf op soek na ‘n toebroodjie van grondboontjiebotter.
Die betrokke gesin het van die beer bewus geword nadat die dier die motor se deur oopgemaak, ingeklim en vasgesit het en die voertuig se toeter geblaas het. Tydens die dier se gespartel het die voertuig se rathefboom in neutraal vasgehak, waarna dit teen ‘n steilte afgeloop en teen bome tot stilstand gekom het.
Die beer was vir twee ure in die voertuig vasgekeer voordat reddingswerkers haar kon bevry.
Tier op vrye voet
Intussen het Panjo, ‘n 17 maande oue tier, uit ‘n bakkie ontsnap op die R25 tussen Groblersdal en Delmas terwyl hy na ‘n veearts in Springs vervoer is. Die Dierebeskermingsvereniging vermoed dat die dier onwettig aangehou word, aangesien geen tier in Mpumalanga of Gauteng geregistreer is nie.
Sowat 10 000 boere in Mpumalanga is gevra om te help met die soektog na die dier. Panjo is glo ‘n mak tier.
Man deur drie leeus aangeval
‘n Werker van die plaas Mara naby Bethlehem in die Oos-Vrystaat is intussen Maandag (26 Julie) deur drie leeus aangeval terwyl hy karkasse uit die diere se kamp moes verwyder.
Luidens ‘n berig op News24.com is die 62 jarige mnr. Ronnie Odendaal na die naaste hospitaal gehaas waar hy onder meer deur ‘n plastiese chirurg geopereer is.
Reddingswerkers het aanvanklik verwag dat Odendaal een van sy niere weens die voorval sou verloor. Me. Karien Collett, woordvoerder vir MediClinic op Bethlehem, het bevestig dat Odendaal in ‘n stabiele toestand is.
Die plaas het tans glo 15 leeus wat in vyf kampe aangehou word.
27 Julie 2010
Kommentaar
Alani, gee tog die diertjies ook n slag n kans om hulle beurt intekry ek hoor nie die koedoes praat van daar is al weer n jagter los in die bos of ou bosbok het alweer n mens in die pens gegaffel nie, die dinge gebeur maar ons moet maar reg wees daarvoor, ons kan hulle eet maar ook beskerm
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)