Geen keer aan nuwe byesiekte

 
Amerikaanse jongbysiekte Foto: VERSKAF
Amerikaanse jongbysiekte Foto: VERSKAF

Amerikaanse jongbysiekte (American Foulbrood, AFB), wat verlede jaar ‘n opskudding onder byeboere veroorsaak het toe dit die eerste keer in die Wes-Kaap waargeneem is, kom nou ook in KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Noord-Kaap en Mpumalanga voor.

Mnr. Jan-Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het bevestig dat, hoewel die siekte hoofsaaklik in die Wes-Kaap versprei het, monsters van die bakteriese siekte ook positief in dié ander provinsies getoets het.

Hy sê moontlike bestrydingsmaatreëls  met die samewerking van byeboere, die byebedryf, bedrywe wat bye vir bestuiwing benut en wetenskaplikes is steeds in ‘n ontwikkelingstadium. “Die konsepregulasies is pas die derde keer bespreek en sal binnekort vir openbare kommentaar gepubliseer word.”

Hy het daarop gewys dat dit nog onwettig is om antibiotika vir bye in Suid-Afrika te gebruik. Venter sê ingevolge bestaande wetgewing moet alle byeboere geregistreer wees. “Volgens die voorgestelde regulasies om AFB te bestry, word die registrasie van byeboere ook aanbeveel. Daar word egter voorgestel dat die department dit moet hanteer pleks van die SA Byebedryfsorganisasie (Sabio) en dat die registrasie jaarliks hernu moet word.”

Bestryding van die siekte
Op ‘n vergadering van byekenners in Swaziland einde verlede jaar is reeds aanvaar dat die siekte nie uitgewis sal kan word nie en dat dit sal versprei onder alle beheerde en wilde byekolonies in Suider-Afrika en selfs die res van Afrika.
Omdat geen land ter wêreld nog die siekte kon uitwis nie, sal dit waarskyhnlik ook nie hier gebeur nie. ‘n Langtermynstrategie is dus nodig. Niemand kan nog die omvang van die skade onder die Suid-Afrikaanse byebevolking voorspel nie.

Dr. Per Kryger, hoof van Denemarke se instituut vir byesiektes, het op Sabio se jaarkongres in Pretoria verduidelik hoe die siekte in Denemarke bestry word. Hy sê daar word al meer as ‘n 100 jaar sonder sukses gepoog  om die siekte uit te wis.

Die siekte word versprei deur ‘n spoorvormende bakterie (Paenibacillus larvae) wat uiters moeilik is om te vernietig. Die spore, wat net met ‘n ligmikroskoop sigbaar is, verdra hitte, koue, droogte en vog. Kryger sê daar is al spore gevind wat tot 38 jaar in die natuur oorleef het.

Wanneer ‘n besmette larwe vrek, word sowat 2 miljard spore vrygestel, wat weer 20 miljoen ander larwes kan besmet. Die siekte kan in heuning vesprei word. “Bye steel mekaar se heuning uit neste tot op ‘n afstand van sowat 3 km, en wanneer swerms wegbreek, kan hulle ook die siekte versprei,” sê Kryger. Daar word juis vermoed dat die siekte Suid-Afrika deur ingevoerde heuning bereik het en plaaslike bye dalk heuning uit ‘n leë houer opgeneem het.

In Denemarke,wat maar sowat 400 km by 400 km groot is, is daar 50 inspekteurs om die siekte te bestry. Daarbenewens is daar sowat 900 byeboere wat bekwaam genoeg is om die siekte te diagnoseer. “Boere wat die siekte waarneem, is verplig om dit binne 72 uur aan te meld. Toetse word dan uitgevoer en binne 24 uur moet die uitslag bekend gemaak word.”

In die foto word besmette korwe deur verbranding vernietig.

Hy sê waar moontlik word bye teen die siekte behandel deur hulle in nuwe korwe te plaas, maar as die besmetting te ernstig is, word die korwe vernietig deur dit te verbrand en te begrawe. Die staat betaal vir die diens. Wanneer korwe vernietig word, word boere vir die helfte daarvan vergoed.

Uitkenning van die siekte
Kryger sê ‘n eenvoudige toets kan gedoen word om te bepaal of die siekte in ‘n korf voorkom. As ‘n vuurhoutjie in ‘n verseëlde sel ingedruk word en daar is ‘n bruin, klewerige massa wat ‘n draad van sowat 2 cm lank vorm wanneer dit opgelig word, is die kans goed dat AFB aanwesig is.
Ervare boere kan ook die siekte uitken aan ‘n muwwerige reuk wat uit die korf kom.

Om die siekte egter finaal te bevestig, is gesofistikeerde laboratoriumtoetse nodig. Mnr. Mike Allsopp, byekenner van die Landbounavorsingsraad (LNR), sê die uitgangspunt toe die siekte in Suid-Afrika gevind is, was dat dit nog nooit voorheen hier voorgekom het nie. “Omdat dit endemies in Europa en ander dele voorkom, het ons met ‘n uitsonderlike situasie te  doen. Dit is nie moontlik om bloot ander lede se behandelingsmetodes oor te neem nie.”

Hy sê dit beteken nie dat ander lande se raad geïgnoreer  word nie. “Ons het vraelyste na 12 lande gestuur en waardevolle inligting oor die siekte bekom. Nogtans moet  mense besef dat ons bye heeltemal van bye in Europa verskil. Daar moet deeglik oor ‘n strategie besin word.”

‘n Parasitiese myt
Soms is dit selfs die beste om niks te doen nie, soos wat Suid-Afrikaanse heuningbye se oorwinning oor ‘n dodelik parasitiese myt, die Varroa destructor, ‘n paar jaar gelede bewys het. Nadat dit die eerste keer in 1997 naby Stellenbosch waargeneem is, is gevrees dat alle Suid-Afrikaanse bye uitgewis sou word.

Die myt het in daardie stadium op ander plekke in die wêreld al reuse-vernietingswerk verrig en bykans alle Westerse heuningbye in die natuur in Europa en Amerika uitgewis. Die myt is ook ‘n vektor vir onder meer russiektes by bye. Kommersiële byeboere daar het hul toevlug tot plaagdoders geneem om die myt te bestry en moet dit vandag nog doen.

Allsopp sê Suid-Afrikaanse bye het ‘n sterk en wye genegrondslag en daar is besluit om bloot die situasie te monitor en kommersiële boere te ontmoedig om enige behandelig toe te pas. Tussen 40% en 50% van kommersiële boere se bye het gevrek, maar uiteindelik was dit die regte besluit.

Hy sê die sterkes het weerstand opgebou, die bevolkings het weer vermeerder en geen behandeling is nodig nie. Venter sê in die geval van AFB dui vroeë waarnemings ook daarop dat Suid-Afrikaanse bye dalk nie so ernstig beïnvloed word as wat aanvanklik gevrees is nie.
Hy sê om die geldigheid te bepaal van laboratorium-toetsprosedures wat plaaslik gebruik word, is monsters ook na die internasionale organisasie vir dieresiektes (OIE) gestuur vir toetse. Die resultate dui daarop dat die Suid-Afrikaasne toetsprosedures wel akkuraat is.

16 Augustus 2010 

3.666665
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.