Grootvoete kan wildstropers jag

 
'n Olifant "handig" 'n vuurwapen oor. Foto: LANDBOUWEEKBLAD
'n Olifant "handig" 'n vuurwapen oor. Foto: LANDBOUWEEKBLAD

In die Laeveld is daar olifante wat met groot sukses wildstropers kan jag, landmyne en dwelms kan uitruik asook beeste in ruigtes bymekaarmaak.

Mense weet nog betreklik min van olifante. Maar met hul ultrafyn sintuie, uitstekende geheue, werklus en aangetrokkenheid tot mense kan hulle uiters waardevol aangewend word om só ’n waarde te verwerf wat hul volhoubare voortbestaan in die natuur sal verseker.

Mnr. Rory Hensman sê die huidige wetgewing wat daarop gemik is om die “groenes” se saak te dien pleks van om natuurlewe volhoubaar in stand te hou, maak van olifante in die meeste gevalle ’n oorlas omdat hulle weens oorbevolking bestaande hulpbronne bedreig en op baie plekke verwoes.

Uittog uit Zimbabwe
Hensman was ’n boer in Zimbabwe wat in Maart 2002 van sy grond van 3 000 ha by Chinhoyi afgeskop is. Hy het daar met 800 beeste geboer en gewasse, soos tabak, mielies, katoen, sojabone en koring, verbou. Hy het altyd in die natuurlewe belang gestel en was nou betrokke by die bekamping van wildstropery.

In Zimbabwe is daar in die 18 jaar voor hy daar weg is 33 000 renosters deur wildstropers uitgeroei. Dit was duidelik dat dié land se natuurbewaringsowerheid iets nodig gehad het om die situasie te beredder. Maar die Zambezi-vallei waar dié stropery hoogty gevier het, is groot en onbegaanbaar.

Vlymskerp sintuie
Toe het hy besef as ’n mens olifante kan oplei, is dít die antwoord. So het hy in 1988 sy eerste twee jong olifante gekry wat ’n uitdunningsproses daar oorleef het. Hulle was te klein om vry te laat en hulle moes opgepas word. Hensman het gou gesien hoe intelligent die diere is, hoe vinnig hulle leer en hoe gretig hulle was om saam met mense te werk.

Hy het lank honde en poloperde opgelei en besluit om te kyk wat hy met die olifante kon uitrig. In dié tyd het hy agtergekom hoe skerp olifante se sintuie werklik is. Hy het hulle begin leer om met beeste te werk, en hulle het veral daarin geslaag om Brahmane kalmer tydens hantering te laat bly.

Beeste aanjaag. Foto: LANDBOUWEEKBLAD

Uiteindelik het hy al sy werk met beeste met tien olifante gedoen. Volgens Hensman kan ’n olifant 14 keer beter ruik as ’n goeiehonden só ’nhondkan 2 000 keer beter ruik as ’n mens. Daarby is ’n olifant se oog basies soortgelyk aan dié van ’n perd en hy meen olifante kan baie  beter sien as wat mense in die algemeen dink.

Omdat ’n olifant so goed kan ruik, maak hy waarskynlik nie soveel staat op sy sig nie. Daarby het die olifant ’n goeie geheue en is ondervind dat hy ’n mens minstens 14 maande lank kan onthou, maar dit is die maksimum tyd wat Hensman die olifante getoets het.

Dit is waarskynlik baie langer. Met al dié eienskappe kan olifante geleer word om wonderlike goed te doen. Hulle kan geleer word om ’n landmyn, wat begrawe is, tot 100 meter ver te  ruik. Hulle kan wapenopslagplekke tot ’n kilometer ver ruik. Dink net hoe goed sal hulle dwelms kan opspoor.

Daar word selfs beweer dat olifante kan ruik as ’n mens kanker onder lede het. Dit is dalk nie so eties nie en hy sal self nie graag van ’n olifant wil hoor hy het kanker nie, sê Hensman. Maar ’n olifant kan dus maklik gebruik word om mense in verafgeleë landelike gebied te keur en die mense uit te wys wat vir ’n behoorlike ondersoek na ’n dokter behoort te gaan.

Die pad na Suid-Afrika
Voordat hy sy opgeleide olifante in Zimbabwe kon aanwend om wildstropery te bekamp, het die politieke toestand so versleg dat dit onmoontlik geraak het. Toe die oorlogsveterane hul plaas in Zimbabwe beset het, het twee van die olifante uitgebreek en tot binne-in hul huis gekom.

Hy is nie seker of hulle die gesin wou kom beskerm en of hulle beskerming kom soek het nie. Maar vir hom wys dit hoe slim en gevoelig die olifante vir spanning is. Hy het met die  olifante na ’n wildplaas naby Hoedspruit gegaan waar hulle vir ritte gebruik is om wild van naderby te besigtig.

Uiteindelik het hy hom op een van die ZZ2-plase gevestig waar hy wonderlike ondersteuning van die Van Zyl-familie van die Bertie van Zyl-boerdery gekry het. Die olifante het op die wildplaas agtergebly. Hy het weer ’n groep van ses olifante bekom wat hy nou in stalle op die plaas Lorna Dawn by Mooketsi aanhou en sedert 2003 begin afrig het.

In dié tyd het die projek werkgeleenthede vir sowat 120 mense geskep. Vandag word die olifante aan toeriste aangebied vir ritte, hulle help beeste bymekaar maak en het ook al geleer om wildstropers te agtervolg en uit te snuffel.

Wildstropers pasop
Daar is verskeie voordele daaraan verbonde om olifante teen wildstropers in te span. Dié diere kan sowat 25% van hul eie gewig dra, wat beteken wildbewaarders kan met hul toerusting op die olifante ry en tot langer as ’n maand in die veld deurbring. Hulle beweeg betreklik vinnig en stil deur die bosse en met hul fyn reuksintuig kan hulle reguit beweeg, al loop die spore draaie.

Dan het hulle die vermoë om aan voorwerpe te ruik en dit aan die regte mens terug te gee. Hensman sê hulle het al in 12 uur altesame 87 km ver met olifante getrek en dit het ’n paar rustye van ’n uur ingesluit. Hulle het proewe op die plaas van sowat 8 000 ha gedoen en vier mense laat “vlug”.

Die een het ’n geweer, die ander ’n stukkie renosterhoring, die derde ammunisie en die vierde draadstrikke gedra. In hul “vlugtog”, met die olifante op hul spoor, het hulle al die goed in bosse weggesteek. Toe die olifante hulle ingehaal en hulle “in hegtenis geneem” is, is van die
olifante teruggestuur om die voorwerpe te gaan soek.

Klein voorwerpe. Foto: LANDBOUWEEKBLAD

Hulle het alles gekry en aan elke draer sy voorwerp gaan teruggee. Hensman het intussen ook besef olifante kan verbale bevele uitvoer, weet wat links en regs is en kan uitstekende afleidings van ’n mens se liggaamstaal maak. Hulle verstaan baie meer as wat ’n mens dink.

Hy sê hy wil graag Sanparke met sy olifante help om wildstropery hok te slaan, maar hy kry die indruk almal is vrek bang vir die “groenes” en wil nie iets probeer wat hulle dalk ’n teiken  van die groepe kan maak nie.

Intussen gaan die wildstropery voort en die Kruger Nasionale Park het vanjaar al glo meer as 60 renosters verloor wat vir hul horings deur wildstropers gejag is. Die hoofbeswaar van die “groenes” is dat dit onmenslik is om olifante in gevangeskap te hou en hulle vir sulke take aan te wend.

Wil graag nog olifante oplei
Om te bepaal of daar enige waarheid daarin steek, is van die olifante se sterthare isotopies ontleed. Met dié ontleding kan bepaal word of die olifante tydens die tyd wat die sterthare gegroei het, honger of dors gely het en of hulle aan emosionele spanning onderwerp was. Dié ontledings is deur dr. Jacqueline Codron van die Universiteit van KwaZulu-Natal se skool vir  biologiese en bewaringswetenskappe in Pietermaritzburg gedoen.

Haar ontleding wys dat al drie die spanningsvlakke dramaties gedaal het sedert die olifante gevang is, sê Hensman. Sy verklaring daarvoor is dat die olifante in hul wilde staat nie weet wat om te verwag ten opsigte van die beskikbaarheid van kos en water en hoe die mens, hul vernaamste vyand, teenoor hulle gaan optree nie.

Hulle is syns insiens intelligent genoeg om hul situasie te evalueer en gou agter te kom dat hulle nie in hul nuwe omgewing bedreig word nie. Verder was hy bekommerd of die olifante letsels van die uitdunproses oorgehou het, maar ’n mens kan ’n geweer by hulle afvuur en hulle skrik effens, maar wys geen vrees vir ’n geweerskoot nie.

Hy sou graag nog olifante wou oplei, maar die Regering het nou ’n stokkie daarvoor gesteek. Hy is bekommerd dat wild deur oorregulering waardeloos gemaak word. In Suid-Afrika en Botswana is daar in die bewaringsgebiede meer olifante as wat die natuurlike hulpbronne kan dra en hulle verwoes dit,maar in die res van Afrika word die voortbestaan van olifante in die meeste gebiede bedreig.

Heg waarde aan diere
Dit is die regstreekse gevolg van ’n verbod op die benutting van die diere wat hulle vir die bevolking waardeloos gemaak het, maar terselfdertyd het die verbod op ivoorhandel en die skepping van ’n swartmark daarvoor die diere gesog vir wildstropers gemaak.

Die enigste manier waarop olifante en die hele wildlewebedryf volhoubaar kan bly, is om waarde aan die diere te heg vir die grondeienaar in die algemeen en swart mense in die besonder. Om dít reg te kry, moet die bedryf toegelaat word om homself te reguleer. Dit sal misbruik grootliks uitskakel en die grondeienaar ’n voordeel gee uit die gebruik van die hulpbronne op sy plaas deur die diere.

In Suid-Afrika is onomstootlik bewys dat deur goeie bestuur ’n gesonde en lewensvatbare olifantbevolking in stand gehou kan word. Dit is ook so dat hierdie wonderlike diere sinvol deur die mens gebruik kan word tot voordeel van die dier en die mens, meen Hensman.

Gepubliseer in Landbouweekblad van 23 Julie 2010

27 Julie 2010

4.866665
 
 

Kommentaar

Gert Meintjes - HOTGROUP 

Baie mooi artikel Andries.

Neil McGill 

I much enjoyed reading this article. Sounds very practical. Keep up the good work and remain positive.

Deon Botha 

'n Wonderlike artikel. Ja, as almal maar net so positief gestaan het teenoor ons omgewing en ons diere vriende. Maar ek is bevrees die meeste mense in ons land is so korrup en gierig en selfgerig dat hierdie wonderlike idees nooit tot uitvoer sal kom nie want dit kort harde werk. Dis mos makliker om net te stroop as om eers te plant en dan te oes. Dis tragies maar waar.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.