|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
‘n Hondsdol dier kan ‘n mens maklik onkant betrap, soos dr. Jan van Wyk, bekende veearts, op die gespreksforum verduidelik.
Oor hondsdolheid wat tydens my in die noorde van Namibië voorgekom het en sekerlik nog 'n probleem sal wees. Aan die ander kant kan sekere jakkalse blykbaar aggressief raak, soos 'n geval vanuit die Etosha-wildreservaat wat by my (destyds as Staatsveearts, met 'n gedeelte van die Etosha wat onder my area gesorteer het) aangemeld is - ek sien juis dat die Ongava-wildtuin aan die Etosha grens.
Destyds (1964-1965) was daar weens beskadiging deur kameelperde (soos ek verneem het) geen landly- telefoonverbinding tussen Otavi (my Staatsveeartskantoor) en die Etosha nie, maar slegs radiotelefoon, en dit slegs met die Polisie. Op 'n Saterdagoggend kry ek toe die kennisgewing van die Polisie dat 'n jakkals een van die veldwagters aangeval en gebyt het. Die jakkals was teen daardie tyd gevang en in 'n hok. Terwyl ek gereedgemaak het om na Namutoni (ongeveer 180 km afstand) te vertrek, kom die Polisie weer daar aan met die boodskap dat een van die veldwagters die spesifieke jakkals ken en meld dat hy/sy?) van nature aggressief is.
Die Semple-tipe hondsdolheid entstof wat destyds vir immunisering van mense gebruik is, het die gevaar van ernstige newe-effekte, soos enkefelomiëlitis, en selfs gevolglike verlamming ingehou, met die gevolg dat enting teruggehou is totdat redelike sekerheid verkry is dat die betrokke persoon wel aan hondsdolheid blootgestel is. Weens laasgemelde was die gebruik dat die lokale medici by my raad gevra het voordat vermoedelik blootgestelde mense geïmmuniseer is. Ten einde raad, en omdat die betrokke veldwagter nie erg gebyt is nie, het ek toe aanbeveel dat die jakkals vir 10 dae onder observasie gehou word. So waarlik was die jakkals ná die 10 dae perdfris en gesond, is vrygelaat en leef seker nou nog "happily ever after" aangaan.
Mense kon selfs verlam raak
Interessantheidshalwe, enting met die Semple-entstof (vervaardig van hondsdolheid-besmette skape se breinweefsel) het toediening van iets soos 14 of 10 daaglikse onderhuidse inspuitings van die skaap-brein entstof al om die naeltjie behels en bo- en behalwe ernstige gevare, soos 'n klein proporsie mense wat selfs verlam kon raak, was allergiese reaksies baie algemeen tot die mate dat enting in sommige gevalle gestaak moes word.
Die les uit bostaande relaas - enige buitengewone reaksie van diere moet met groot agterdog bejeën word totdat hondsdolheid absoluut uitgeskakel kan word. Voorbeelde is meerkatte of enige ander wilde diere wat by die werf aankom of mens in die veld nader en buitengewoon mak voorkom.
Hondsdolheid verander die gewone gedrag van aangetaste diere en mense drasties. 'n Baie kwaai hond sal skielik "vriendelik" raak, terwyl selfs 'n besonder mak hond (soos 'n skoothondjie) bykans vir die eerste keer sal knor wanneer hy gehanteer word (nie noodwendig byt nie, veral vir die baas).
Slaan veral ag op 'n baie mak hond of ander diersoort wat skielik op 'n donker plek soos onder die bed wegkruip. Veral katte is uiters gevaarlik as hulle hondsdolheid opdoen omdat hul so rats is.
Beeste wat abormaal kras bulk
Enige bees wat besonder hard en abnormaal kras bulk, is uiters verdag, dus gevaarlik tot die moontlikheid van hondsdolheid uitgeskakel kan word, maar ook gevalle met abnormale speekselloop, veral wanneer dit gepaard gaan met onvastheid op die voete, veral die agterlyf. Simptome van hondsdolheid by beeste kom dikwels baie ooreen met dit wat te siene is met 'n vreemde voorwerp wat in die keel of die slukderm vassit. By honde is abnormale hoeveelhede speekselloop ook verdag.
Ná blootstelling aan die hondsdolheid virus duur dit tot so lank as 2 jaar voordat die siekte merkbaar is. Intussen is die moderne entstowwe baie doeltreffend, maar wanneer die eerste simptome van die siekte voorkom, is dit reeds te laat en die dood is onafwendbaar.
Andre Terre Blanche skryf:
So ongeveer 50 jaar gelede was ek as jong vakkundige werksaam op die navorsingstasie op Jan Kempdorp. Op ‘n dag merk ons op dat een van die koeie wat pas uit die veld uit ingebring is, geweldig kwyl, met die bek oop loop, oor die algemeen baie ongemaklik lyk en alle tekens toon dat daar iets in haar keel vassit.
Ek laat haar in die drukgang inbring en met die hulp van die plaasvoorman, Elias Coetsee wat die bek probeer oop hou, doen ek my bes om my hand in haar keel afgedruk te kry. In die proses doen ek en Elias natuurlik albei skrape en snye van haar tande op, maar kan niks vreemd in haar keel kry nie. Die trop word teruggejaag kamp toe en ek gaan sit rustig in my kantoor, totdat die man wat die beeste kamp toe gejaag het doodsbleek in my kantoor instorm met ‘n bloedstollende beskrywing van wat die betrokke bees alles gedoen het toe sy by die water kom.
Ek het dadelik besef dat sy waarskynlik hondsdol was en het onmiddelik die Staatsveaarts op Kimberley in kennis gestel, wat ‘n paar uur later die brein van die koei, wat toe natuurlik alreeds dood was, kom verwyder en vir verdere ondersoek geneem het.
Alhoewel ek natuurlik effe bekommerd was het ek besef dat ons eintlik niks kon doen (veral in die lig van die gevare verbonde aan die insluiting, soos jy dit ook beskryf.) Voordat ons nie ‘n waterdigte positiewe diagnose gekry het nie. Binne minute nadat die bevestiging dat dit hondsdolheid was die volgende dag telefonies deurgekom het, hou daar twee ambulanse met loeiende sirenes voor die kantoor stil, ‘n stuk of ses mans in wit oorpakke spring uit en wil weet waar die twee mense met hondsdolheid is; hulle moes dadelik buite aksie gestel, onaktief gemaak en verdoof word en na die hospitaal op Kimberley vervoer word.
As dit nie so gevaarlik was nie
As die situasie nie so potensieel gevaarlik en dramaties was nie, sou ons seker daaroor kon lag. Ná heelwat ooreding en nadat die plaaslike Distriksgeneesheer ook ingebring is, het die span uit Kimberley ingestem om ons nie hospitaal toe te vervoer nie en het ons dadelik begin met die reeks inspuitings - en jy is heeltemal reg: Dit is 14 inspuitings al om jou naeltjie. Die eerste vier of vyf was geen groot probleem nie, maar omdat die inspuitings ‘n vreemde proteïen bevat het het dit redelik ernstige plaaslike swelling veroorsaak en moes latere inspuitings in hierdie opgeswelde en pynlike weefsel gedoen word - beslis nie iets wat ek enigiemand sal toewens nie.
Voordat die behandeling nog voltooi was het Elias ‘n bilaterale Bells se verlamming van die gesig ontwikkel, wat gelukkig mettertyd weer herstel het. Ek het ongeskonde daarvan afgekom totdat ek ‘n paar maande later enkefolitis ontwikkel het wat nooit bo enige twyfel aan die hondsdolheid episode verbind kon word nie.
Die internis wat my behandel het was egter baie opgewonde toe hy daarvan hoor en het in baie detail en met groot smaak aan my vertel hoe bevoorreg hy was dat hy ‘n jaar of wat tevore in sy praktyk wel te doen gekry het het met ‘n geval van menslike hondsdolheid. En wat meer is; “a text book case” - iets wat baie min dokters kan sê. Ek kon, met effense huiwering, begrip hê vir die stimulis wat hy as wetenskaplike uit die geval gekry het, maar was tog maar bly dat ek nie sy “text-book case” was nie.
Vir my vrou en vir sekere van my vriende is dit natuurlike ‘n handige wapen wanneer ek iets doen waarmee hulle nie saamstem nie: “Ja, dis duidelik dat die hondsdolheid van 50 jaar gelede nog steeds newe effrekte toon!
Dr. Jan van Wyk skryf:
Baie dankie vir die interessante beskrywing, Terra, van persoonlike blootstelling aan 'n hondsdol bees. Dit illustreer die situasie baie beter as dit wat ek uitgestuur het. Omdat dit so 'n belangrike en lewensgevaarlike siekte is, het ek die volgende saamgestel.
Volgens ander navrae wat ek ontvang het, is dit duidelik dat ek sekere aspekte van die siekte nie goed verduidelik het nie, byvoorbeeld die tydsverloop tussen blootstelling aan 'n hondsdol dier, en die manifestering van die siekte.
Wat uniek in die geval van hondsdolheid is, is dat die virus met die senubane na die brein beweeg, en nie soos by die meerderheid besmetlike siektes met die bloed- of limfstroom versprei nie. Die gevolg is dat hoe groter die bytwond en hoe nader aan die kop, des te korter die prepatente periode (vanaf blootstelling tot die siektesimptome waarneembaar is). Tot tyd en wyl die virus die brein bereik, manifesteer die mens of dier nog nie met enige teken van dolheid nie en kan immunisering nog doeltreffend wees. Daarna (ná verskyning van tekens van dolheid) is die koeël egter deur die kerk, met die dood ná 'n relatiewe kort verloop onafwendbaar. Immunisering kom dus neer op 'n wedloop tussen ontwikkeling van immuniteit in die blootgestelde mens of dier en die aankoms van die virus in die brein.
In die geval waar 'n mens of dier byvoorbeeld aan die been gebyt word, beweeg die virus met die senubane na die rugmurg, en dan op met die rugmurg tot in die brein, maar as die bytwond byvoorbeeld in die gesig is, dan is die verspreiding direk na die brein.
Die uiterste gevalle wat betref die prepatente periode is so kort as 10 dae en so lank as 2 jaar. Maar volgens 'n boek van Henning (1956) is een geval selfs aangemeld waar dit 3 jaar geduur het voordat die siekte by 'n mens gemanifesteer het.
Kan ook siekte oordra
Die grootste sondaars by oordraging van hondsdolheid na mense is, soos saamgevat deur Henning (1956), meerkatte, veral die vleisvretendes (Viverridae of meerkatfamilie, Engels "suricates" - ons het hul “geel-“ en “rooimeerkatte” in die Noord Kaap genoem). Die korrekte Afrikaanse benamings is blykbaar nou name soos “witkwas muishonde” - "yellow mungoose", ens.). Grond eekhorings (“waaierstert meerkatte”, soos ons hul genoem het) kan ook die siekte oordra al is hul herbivore. Hierdie diertjies raak relatief onaktief na mate die dolheid hul affekteer, kom mak voor en gee nie pad as hul genader word nie. Veral kinders is geneig om sulke diertjies op te tel en dan in die spervuur te kom; hulle moet dus baie spesifiek gewaarsku word teen enige wilde dier wat mak voorkom.
'n Ander belangrike faktor is dat hoewel bytwonde of blootstelling van wonde aan virusbesmette speeksel die belangrikste vir oordraging is, hondsdolheid ook met kontak met slymvliese kan versprei, hoewel dit blykbaar nie so algemeen gebeur nie. As mens byvoorbeeld 'n dol dier sou ondersoek of oopsny en van die speeksel kom in die oë of in die mond, kan daar wel 'n gevaar van oordraging van die siekte wees. Die belangrike punt is dat hondsdolheid 'n verklaarde siekte is, en dat dit by selfs die geringste vermoede van hondsdolheid aangemeld moet word sonder om die dier te ondersoek of oop te sny ('n staatsveearts is die aangewese vir aanmelding, maar as die staatsveearts nie beskikbaar nie, sal 'n privaatveearts die diagnose maak en die korrekte monsters vir ontleding neem en instuur). Enige moontlike kontak met die dol dier moet dan ook beklemtoon word, sodat die distriksgeneesheer betrek kan word.
Goeie voorbeelde van verspreiding tussen herkouers is veral koedoes maar moontlik ook beeste. 'n Dol bees se slukderm is ook soos by honde gedeeltelik verlam (dus die oormatige speekselvloei), sodat hy nie veel indien enige water kan inneem nie. Maar die bees raak wel dors en mens sien alklaps dat 'n dol bees sy bek in die water druk om te probeer suip (ek het selfs gesien dat 'n bees sy bek redelik diep in die water indruk), en intussen staan hy by die drinkbak, bulk alklaps baie hard en kras en die kwyl drup in die drinkbak se water.
Nuuskierige beeste en dol jakkals
Daarna kom daar dikwels gevalle voor waar 'n aantal beeste oor 'n kort periode dol raak, hoewel letsels in die bek van beeste sekerlik gedeeltelik verantwoordelik kan wees. Hierdie situasie sal ook kan ontstaan waar nuuskierige beeste aan 'n dol jakkals sou ruik (soos hul gewoonte is), en dan aan die kop (dikwels die neus) gebyt word, met soortgelyke kort verloop voordat die siekte waarneembaar is.
By koedoes is uitbrekings van hondsdolheid onder toestande van hoë konsentrasies van die diere waargeneem. Dit is bekend dat die virus 'n aantal dae voor die simptome waarneembaar is, in die speeksel uitgeskei word en wanneer die koedoes saam wei, is daar tussen-dier kontak deur middel van die bosse se blare, met uitbrekings van die siekte tot gevolg.
* Almal skrywes op landbou.com se gespreksforum.
1 Februarie 2012
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)