Jong boer wen studiebeurs

 
Marno in sy kuikenboerdery. Foto: VERSKAF
Marno in sy kuikenboerdery. Foto: VERSKAF

Marno Els, die 19 jarige jongboer van Kroonstad, het ‘n studiebeurs van R100 000 oor drie jaar losgeslaan in Senwes se vyfde entrepreneurskompetisie.

Hier is Marno se verhaal van hoe hy sy onderneming begin het:

“Ek was ongeveer 16 jaar oud toe ek met my braaikuikenboerdery begin het. As plaasseun was ek gedurig met diere omring. Ek is baie lief vir hoendervleis maar hou nie van die waterige, smaaklose soort wat in die winkels te koop was nie en het besluit om ‘n plan te maak om my eie hoenders aan te hou.

“Ek het my hanslam verkoop en toe het ‘n geleentheid opgeduik om speenvarkies te koop. Ek het my varkboerdery gebruik om my hoenderboerdery te finansier. Ná deeglike navorsing het ek begin om my wins uit die varke te gebruik om my hoenderhokke self te bou. Ek het self water en krag aangelê, my eie verhittingstoerusting self gebou en later my eerste kuikens aangekoop.

Heelwat nagelees
“Soos ek dit grootgemaak het ,het ek heelwat nagelees oor bv. voere, siektes, ens. Ek het uitgebrei soos die vraag na my hoenders groter geword het. Ek het ook boekgehou oor al my inkomste en uitgawes, sodat ek my wins kon bepaal. My broer het my gehelp om ‘n groot vrieskamer uit tweedehandse materiaal - wat ek oor ‘n tydperk aangekoop het - te bou.

“Soos reeds genoem, het ek my oog op hoenders gehad omdat ek dit self maklik kan hanteer en beheer oor kon uitoefen. Die groot varke was moeilik om hanteer en was ek baie bly toe ek die laastes verkoop het.

“Dit was maklik vir my om dit alles self te hanteer omdat ek vanuit die huis skoolgegaan het en dus soggens voor skool en saans self my hoenders te versorg. Deur alleen in beheer te wees het ek self entstowwe toegedien, met voere geëksperimenteer om die beste resultate te kry en omdat ek sover moontlik alleen in die hokke gegaan het ek baie min kuikens weens siektes verloor.

Byskrif hieronder: Marno in sy koelkamer.

ompetisie

"My ma het my vir die Senwes-wedstryd ingeskryf. Dit was drie jaar se harde werk. My ouers het ons van kleins af geleer dat sukses met harde werk saamgaan. Dit het my volharding en deursettingsvermoë geleer. Dit is maklik om tou op te gooi, maar elke terugslag het my net meer gemotiveer om aan te hou. Alle eer kom die Here toe wat die geleenthede en talent gegee het om tot hier te kom.

“My pa het ons geleer om iets te doen of voor te gaan leer waar jy vir jouself kan werk skep.

“Ek beplan om nog heelwat in die toekoms uit te brei en het groot planne waaroor ek nie nou wil uitbrei nie. Onderhandelings met ‘n groot maatskappy om hoenders te verskaf, is in die finale stadium. Daar is ook ander onderhandelings in die vooruitsig. Ek was tot 2009 in die Hoërskool Kroonstad (die Blou Skool) waar ek akademiese, tegniese en landbouvakke geneem het. Omdat ek só gesukkel het om iemand te kry om die finale koppeling en gas vir my vrieskamer te kom doen, het ek besluit om my eers as elektrisiën te bekwaam en dan gaan ek landboubestuur swot. My boerdery sal egter nog onder my ouers se toesig aangaan en sal ek self soveel moontlik huis toe kom om my hand daarop te hou.”

Al is Marno jonk, is hy klaar 'n klant van Senwes. Hy koop sy voere, dieremedisyne, kosbakke en elektriese toerusting by Senwes Village op Kroonstad aan.

Nota: Marno gaan oor 'n paar maande deur Soltech College studeer ('n driejaar-kursus in elektries en elektronies). Daarna is sy droom om 'n graad in landboubestuurswese aan die Vrystaatse Universiteit te voltooi.

19 Julie 2010

4.5
 
 

Kommentaar

Susan Truter 

Dit is nou in plesier om te hoor van Marno. Baie geluk jong. Mag die ander jong mense ook jou voorbeeld volg. Sterkte en voorspoed vir die toekoms

Onbekende besoeker 

Ek dink Senwes doen goed as 'n korporatiewe landsburger.
Geluk Marno!

Olivier Kritzinger 

Wys maar net! Waar 'n wil is,is 'n weg. Ek hoop ons jong seuns lees hierdie artikel en volg Marno se voorbeeld. Knap gedaan!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.