Deur CELINDA GROENEWALD
Die eerste studie op knaagdiere om die skakel tussen hul morfologiese verandering en die veranderinge in bevolkingsdigtheid en die klimaat te vind, het gewys dat spesies baie vinniger aanpas as aanvanklik gedink.
Mnr. Oliver Pergams, ’n navorser in biologiese wetenskappe by die Universiteit van Illinois in Chicago, het nagenoeg 17 000 afmetings van knaagdiere se liggame en skedels van 1 300 voorbeelde uit 22 plekke in Afrika, die Amerikas en Asië opgeteken. Die diere is vanaf 1892 tot 2001 versamel en Pergams het dié wat voor 1950 versamel is, met dié daarna vergelyk.
Hy het ook voorbeelde van yl bevolkte eilande teenoor die van digbevolkte vastelande vergelyk en gevind dat tien uit die vyftien anatomiese veranderinge met die mens se bevokingsdigtheid, die huidige temperatuur of tendense in die temperatuur en neerslag verband hou. Die vorm van knaagdiere se koppe en hul algehele grootte het oor die afgelope eeu heelwat verander.
Pergams sê dat die begrip van watter spesies en bevolkings oor die grootste vermoë beskik om te verander ’n belangrike rol in die bewaring van biodiversiteit speel. “Daardie soogdiere wat vinnig kan aanpas het ’n veel groter kans om groot mensgemaakte omgewingsveranderinge te oorleef.”
4 Augustus 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)