Navorsers en veldwagters in die Kruger Nasionale Park (KNP) het vanjaar reeds 13 dooie en talle siek krokodille in die Olifantsrivier gevind en doen ’n beroep om beter samewerking om besoedeling in Suid-Afrikaanse riviere hok te slaan.
“Ons navorsing toon dat dié sterftes nou elke winter voorkom en as dit só voortgaan, sal daar teen 2010 baie min krokodille in die Olifants- en Letabarivier wees,” sê mnr. Danie Pienaar, hoof van die KNP se departement vir wetenskaplike dienste. Krokodille in die Olifantsrivier het verlede jaar in Mei teen 20 krokodille per week begin vrek.
Teen November verlede jaar het 170 krokodille reeds gevrek. “Dit is onwaarskynlik dat bestuursaksies wat binne die KNP aangepak word dié probleem sal oplos. Ons behoort ’n veel groter en meer omvangryke herstelprogram vir die hele Olifantsrivier-stelsel aan te pak, wat kwessies, soos die dreinering van sure by myne, afvalbehandeling, die gebruik van gifstowwe en kunsmis en industriële en huishoudelike bronne van besoedeling in ag neem,” sê Pienaar.
“Ons sal aanhou om die krokodilkarkasse te verbrand om die verspreiding van siektes te beperk.”
22 Junie 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)