Die karkas van nóg ‘n renoster is in KwaZulu-Natal gevind nadat die bul vermoedelik verlede week (17 Augustus) deur wilddiewe doodgemaak is.
Luidens ‘n berig van Eyewitness News is dit die veertiende renoster wat vanjaar in dié provinsie doodgemaak is.
Volgens die Ezemvelo KwaZulu-Natal Wildlife Trust is die dier in die kop geskiet waarna beide sy horings “baie vaardig” afgesaag is.
Dié organisasie het ‘n beroep op die Polisie en Interpol gedoen om dié misdaad te ondersoek. Die koeël is tydens ‘n nadoodse ondersoek verwyder en sal vir ballistiese toetse gestuur word.
Groot kommer oor renosters
Mnr. Jeff Gaisford, woordvoerder vir die Trust, sê daar heers groot bekommerd oor die meer as 150 renosters wat tot dusver vanjaar vir hul horings van kant gemaak is.
“Dié verliese bedreig nie tans die voortbestaan van die spesie nie, maar ons werk saam met die owerhede wêreldwyd om dit (die probleem) die hoof te bied.”
‘n Tweede renosterkarkas is Donderdag (19 Augustus) deur Natuurbewaringsbeamptes in Mpumalanga gevind. Die dier se horing is ook verwyder.
23 Augustus 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)