Die besluit van die Percheron-telersgenootskap van Suid-Afrika om jaarliks meer veilings aan te bied, is ’n aanduiding van die toenemende gewildheid van dié swaar trekperde.
Dié besluit is geneem op die genootskap se pas afgelope jaarvergadering op die Alkmaar-wynlandgoed by Wellington. Altesame 75% van die genootskap se lede het die vergadering bygewoon.
Volgens mnr. Jan Engelbrecht, die nuutverkose voorsitter van die genootskap, is daar weens die groeiende vraag na Percherons ’n toenemende behoefte aan méér as net die enkele veiling wat jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van landbou op Elsenburg aangebied word.
“Ná ’n aantal moeilike jare beleef die ras plaaslik ’n ongekende bloeitydperk. Die groei is nie net te bespeur op plase, kleinhoewes en in die toerisme-opset nie, maar ook op die skoubaan waar hierdie perde hul deeglik laat geld,” het Engelbrecht gesê.
Boonop het die invoer van een van Frankryk se top jong teelhingste, Sympa de Bellevue, bygedra tot die hernieude belangstelling in die ras. Met die invoer verlede jaar van dié perd was dit die eerste in 41 jaar dat ’n hoogs bruikbare hings van dié ras die land binnegekom het.

Sympa de Bellevue. Foto: www.studbook.co.za
Volgens Engelbrecht is daar groot afwagting op die deelname van Percherons in die twee onderskeie afdelings vir trekperde en deelsgeteelde trekperde wat op 3 September op die T-skou in Pretoria gehou word.
Die sluitingsdatum vir inskrywing is 26 Julie. Bel me. Mandé Siderfin by 082 897 9975 vir meer besonderhede.
20 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)