Deur ALANI JANEKE
Die Rooivleisbedryfsforum het hofstukke by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien om die invoer van 153 swartwitpense van Zambië te verhoed. Mnr. Dave Ford, voorsitter, sê ‘n kennisgewing dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, voorstel dat die bokke van Zambië af ingevoer moet word, het in die Staatskoerant van 21 Desember verlede jaar verskyn.
Ford sê die forum het briewe met vrae in dié verband aan Joemat-Pettersson, dr. Pieter Mulder, haar adjunkminister, me. Buyelwa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, en dr. Mpho Maja, direkteur van die Direktoraat vir Dieregesondheid, gestuur.
Ontevrede oor kennisgewing
Volgens die Staatskoerant kan die publiek 31 Januarie kommentaar oor die voorstel lewer. “Ons wil egter verhoed dat die diere ingevoer word voordat ons terugvoer van die minister ontvang. Derhalwe het ons aansoek gedoen vir ‘n interdik teen die invoer van die diere”.
Volgens Ford is die forum ontevrede oor die wyse waarop die kennisgewing geplaas is. “Ons meen die protokol gevolg om die kennisgewing in die Staatskoerant te plaas was onvoldoende. Dit is op ‘n snaakse tyd geplaas gevind, wat mens laat dink dat dit vir een of ander rede spoedig afgehandel moet word”.
Plaaslike vleismark kan skade ly
Luidens ‘n berig in die Business Day kom die diere van die Kafue National Park, waar drie verskillende bek-en-klouseervirusse al uitgeken is. Sommige rooivleisprodusente meen die invoer van die diere kan bek-en-klouseer die land inbring, en dit kan katastrofiese gevolge vir die plaaslike rooivleis, wild- en volstruisvleismarkte inhou.
Mnr. Louis Grab, die forum se regsverteenwoordiger, het aan Business Day gesê die diere word deur ‘n konsortium van sakemanne, wat ‘n beampte van Zimbabwe se Zanu-PF insluit, ingevoer. Die diere word glo tans onder kwarantyn in ‘n Zambiese natuurreservaat aangehou voordat hulle met lugvervoer na Suid-Afrika gebring sal word.
Hy sê die invoer van die diere druis in teen die bepalinge van die Wet op Dieresiektes, en kan lei tot ‘n verbod op die uitvoer van rooivleis van Suid-Afrika deur die Office International de Epizooties (OIE) – ‘n internasionale organisasie vir dieregesondheid.
Moontlike onreëlmatighede
Luidens ‘n berig in die Landbouweekblad se uitgawe van 30 Oktober 2009 blyk dit of daar onreëlmatighede met die invoer van die diere is. Volgens dié tydskrif is daar verlede jaar al bewerings gemaak van korrupsie en politieke druk op hoë vlak om invoerpermitte vir die diere te kry.
Die tydskrif het berig dat dr. Alex Lewis, veearts en wildboer van Hoedspruit in Limpopo, gesê het die beoogde invoer voldoen nie aan riglyne van die OIE nie. “Daar is wel veilige maniere om Zambiese swartwitpense na Suid-Afrika in te voer. Die beoogde manier waarop dit egter nou gedoen gaan word, gee nie waarborge vir veiligheid nie. Dit is onverantwoordelik.”
Lees ook oor die kwessie in Landbouweekblad se uitgawe van 29 Januarie.
Bron:
Business Day
28 Januarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)