Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Nuutjie vir saalperdbedryf

 
Die vul, Sir Clarence Ronald. Foto: ROSS MILLIN
Die vul, Sir Clarence Ronald. Foto: ROSS MILLIN

‘n Saalperdteler het ‘n kompetisie met ongekende prysgeld in Suid-Afrika vir dié ras geloods. Dié kompetisie gaan nie net ‘n geweldige finansiële inspuiting vir die bedryf beteken nie, maar ook die speelveld vir groot en kleiner telers gelyk maak.

Die teler, mnr. Ross Millin, is landwyd bekend vir sy kennis aangaande Saalperd-bloedlyne en sy vaste oortuiging dat die merrie se bloedlyn ‘n bepalende aandeel in enige vul se potensiaal speel.

Die kompetisie is gebaseer op die All American Cup en die Blue Grass Futurity in Amerika, terwyl duiweboere in SA vir etlike jare ‘n soortgelyke konsep met sukses toepas. Die vul, Sir Clarence Ronald (op foto) , was beide die ‘Bluegrass Futurity Weanling Champion’ en die ‘World’s Champion Weanling Breeder’s Stake. Dié vul was die inspirasie vir Millin was om die kompetisie in Suid-Afrika te loods. Sir Clarence is ‘n fratsongeluk dood.

Dit behels die opveil van een dekking per hings van Suid-Afrika se voorste Saalperde, wat ook klein telers die geleentheid bied om met top-bloedlyne te kan teel.

Eerste veiling
Hoewel dit vir baie telers aanvanklik ‘n vreemde konsep was, het die eerste hingsveiling, wat tydens die Paryse Binnemuurse Saalperdskou vroeg in Desember 2009 plaasgevind het, ongekende belangstelling uitgelok. Altesaam 28 van die land se top-teelhingste was vir dié veiling ingeskryf. Die duurste dekking is vir die hings Hot Ticket van Junior Smith van die Juhanta Stalle vir R10 500 verkoop. Net minder as R70 000 is op die veiling ingesamel.

Hoe werk dit?
Hings-eienaars nomineer ‘n hings, waarvoor die minimum prys vir ‘n dekking R1 000 beloop. Slegs een dekking per genomineerde hings word opgeveil. Die eienaar van die hings kan ook ‘n merrie van sy keuse nomineer teen ‘n bykomende R1 000. Daar sal dus ‘n maksimum van twee vullens van ‘n genomineerde hings per jaar kwalifiseer.

Die vullens word nie genomineer nie, maar kwalifiseer op grond daarvan dat die eienaars die merries in vul moet nomineer. Sulke vullens wat geteel word van die genomineerde hingste en merries sal outomaties aan die Afrika Speenoud Futurity (ASF) klas deel kan neem. Elke teler wat die bloedlyne bestudeer het en aan die kompetisie gaan deelneem, sal die geleentheid kry om nie net nóg ‘n perd te teel nie, maar moontlik ‘n kampioenvul.

Die eerste Afrika Speenoud Futurity sal volgende jaar gedurende Maart tydens die Middelburg (Oos-Kaap) skou plaasvind. Middelburg is volgens die organiseerders sentraal geleë en het ook die tuiste van ‘n aantal eerstes in die Suid-Afrikaanse perdebedryf.

Prysgeld van R25 000
Slegs speenoud-vullens van genomineerde merries sal aan dié klas mag deelneem. Vyf beoordelaars sal die vullens beoordeel. Die eienaar van die vul wat as die kampioen aangewys word, sal ‘n gewaarborgde prysgeld van R25 000 ontvang, terwyl die ander sewe plasings en die eienaar van die wenvul se hings, ook prysgeld sal losslaan. Die prysgeld is ongekend hoog vir beide streek- en die nasionale skou-standaarde.

Daar word ook voorsiening gemaak dat dié vullens later as driejarige perde aan vertoningsklasse sal deelneem.

Die tweede hingsveiling vind vanjaar tydens die Nasionale Saalperdkampioenskap in Bloemfontein plaas. Hingseienaars kan nou reeds hulle perde vir die veiling inskryf. Die verwagting is dat tot 30 hingste vir die veiling ingeskryf sal word.

8 Februarie 2010

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.