Een van die skouspelagtigste en waaghalsigste perdesportsoorte ter wêreld sal op die jaarlikse perd-en-wynfees in die Agter-Paarl te sien wees. Die fees word op 15 November gehou.
Die laaste twee bene van die driefase-perdesportwedstryd van die Wes-Kaapse perdevereniging, naamlik die hindernisbaan en skouspring, word dan afgehandel. Die eerste fase van die driefase-wedstryd, dressering, word die vorige dag gehou.
Die hindernisbaan van internasionale standaard is ontwerp deur mnr. David Evans van Engeland. Hy het ook die baan vir die vorige Olimpiese Spele in Hongkong gebou. Deelname aan dié sportsoort, wat wêreldwyd in gewildheid toeneem, stel beslis die hoogste vereistes aan perde waartydens hul veelsydigheid tot die uiterste beproef word.
Dit is ook ’n toets by uitnemendheid van ruiters se veelsydigheid. ’n Vertoning van perde in die tuig voor ouderwetse rytuie vind ook op 15 November plaas. Vir meer inligting oor die fees, bel Hennie Basson by sel 072 273 6042.
Lees meer in Landouweekblad we uitgawe van 6 November 2009.
4 November 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)