Probleemdiere: DLV's gee permitte

 
Jakkals. Foto: KOOT MARAIS
Jakkals. Foto: KOOT MARAIS

Die 16 distriklandbouverenigings in die Wes-Kaap gaan voortaan permitte vir die jag van probleemdiere hanteer, sê die Wes-Kaapse roofdierkomitee, wat dié ooreenkoms met CapeNature aangegaan het.

Mnr. Thys Delport, voorsitter van dié komitee, sê hulle is baie bly oor die besluit. “Dit is vir al die partye betrokke ‘n wen-wen-situasie”.

Delport sê die komitee het met CapeNature vergader aangesien veeverliese weens roofdiere en ander probleemdiere, soos vlakvarke en selfs koedoes, toeneem. Hy sê tans is die situasie veral erg in die Beaufort-Wes-omgewing, waar sommige boere tot 80% van hulle lammers verloor weens probleemdiere.

Boere moes die afgelope paar jaar elke kwartaal vir permitte by CapeNature aansoek doen, en sommige van hulle was hoogs ontevrede daarmee. Delport sê dit was egter belangrik, aangesien die boere sodoende terugvoer oor die situasie aan CapeNature gegee het. Met die nuwe ooreekoms sal dié verenigings dié terugvoer moet gee.

Binne twee maande van krag
Volgens Delport sal die verandering oor twee maande van krag wees. Dit beteken dat die distriklandbouverenigings permitte aan boere sal kan uitreik, en die verenigings sal jaarliks heraansoek moet doen om dié permitte te kan toeken. “Só vat elke vereniging verantwoordelikheid vir sy eie gebied”.

Delport sê hy het reeds die nuus van die verwikkelinge met van die verenigings gedeel, en dit word wyd verwelkom. “Veral die ouens op Lainsburg is baie bly daaroor”.

Die komitee sal Vrydag reeds begin om die riglyne wat die verenigings sal moet toepas, saam te stel. Daarna sal dit vir kommentaar aan die verenigings en boere beskikbaar gestel word, voordat die finale riglyne goedgekeur word.

Die gebruik van honde goedgekeur
Die gebruik van honde tydens die jag van probleemdiere is ook by die vergadering goedgekeur. Delport sê: “Die honde mag egter nie in ‘n kontaksituasie gebruik word nie, hulle mag dus nie die probleemdiere verskeur nie”.

Volgens die jongste statistieke wat uit jaarlikse verslae van Alpro en studies wat prof. H.O. de Waal van die Universiteit van die Vrystaat se departement van dier-, wild- en grasland-wetenskappe ontvang is, verloor die veeboerbedryf jaarliks sowat R1,108 miljard weens probleemdiere.

26 Januarie 2010

0
 
 

Kommentaar

E-forum

Ek het gou die berig gelees en dis definitief 'n positiewe stap, maar.....
1. Die meeste ouens wat betrokke is hierby ,waarme ek korrespondeer of in kontak is, is heeltemal teen hierdie permitte en weier spesifiek om dit uit te neem, sodat daar nie enige legimiteit aan die belaglike stelsel verleen word nie. Ek weet Thys Delport-hulle dink nie so nie, maar dis seker hulle keuse. Ek sou graag wou hoor wat sê Lukas-hulle hiervan, aangesien hulle ook tot dusver die hele permitstelsel as sodanig teengestaan het. In ons area is die kanse bitter skraal dat enige permit uitgeneem gaan word.
2. Dan hierdie belaglike stukkie: "Die gebruik van honde tydens die jag van probleemdiere is ook by die vergadering goedgekeur. Delport sê: “Die honde mag egter nie in ‘n kontaksituasie gebruik word nie, hulle mag dus nie die probleemdiere verskeur nie”." Vertel julle my nou asseblief tog, gaan die honde nou geleer word om die jakkalse uit te ruik, te jaag totdat hulle die jakkalse ingehaal het en dan.....? Hulle seker natlek tot hulle versuip of iets of oor 'n koppie tee bietjie gesels oor al hul sondes of wat? Onthou ook dat hierdie tipe honde op die oomblik geleer word om jakkalse vrek te maak, nie te probeer oortuig om hulle nonsens te los nie.
Ek reken hulle moet eerder iewers gaan speel as om ons tyd so te mors. Ek sien juis CN is so goed hulle steek nou al boere se wingerde "per ongeluk" aan die brand!
Skrywe deur Pieter op die gespreksforum.

Pieter
Ek glo ook dit is `n stap in die regte rigting.
Die permitte maak nie veel sin, maar as dit op `n sinvolle manier en sonder verdere onnodige las op die boer, asook die onnodige vervolging wat daarmee saamgaan kan uitskakel, moet mens dit seker vir die huidige aanvaar. Alles sal maar afhang van die voorstelle wat nou op die tafel gaan kom.
Wat die honde betref is dit ook positief. Jy mag nie met honde jag omdat hulle die diere glo verskeur. (Die anatoliese hond wat skape vermink, jakkalse wat lammers vermink is toelaatbaar.)
Om jou vraag te beantwoord Pieter, dit is moontlik om die honde te leer om net die probleemdier uit te jaag, dan kan jy hom skiet ens. Daar is al honde wat so afgerig is. Dit word veral by bosvarke gebruik as ek reg is. (Anders jag jy maar met jou honde in die nag)
Ek vermoed dit is waarna hier verwys word, want selfs die manne sukkel om toestemming te kry om te jag met hul goed geleerde honde.
Geskryf deur Lukas op die gespreksforum

Sakkie 

Darm iets positiefs in ons land!!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.