|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 87% |
| Wind: |
Die ongunstige uitwerking van probleemdiere op landbouproduksie is weer onder die loep en ’n groep landbou-organisasies in die Wes-Kaap span nou saam om dié kwessie aan te pak.
Luidens ’n gesamentlike mediaverklaring van Agri Wes-Kaap, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) en CapeNature word verliese van sowat R1,4 miljard jaarliks weens probleemdiere en rondloperhonde in Suid-Afrika gely.
In die Wes-Kaap ly boere groot verliese weens probleemdiere wat vee jag en plase beskadig. Volgens die bogenoemde organisasies het dié stand van sake ’n uiters ongunstige uitwerking op boerderye se winsgewendheid en werkskepping. Die groep het vergader om wanindrukke en onduidelikhede oot die veranderinge in jagmetodes in die Wes-Kaapse jagkennisgewing te bespreek.
CapeNature onderskei tussen die jag van probleem- en wilde diere en meen die jagkennisgewing is nie ’n “geskikte instrument om probleemdiere te bestuur nie”. Dié organisasie bied grondeienaars en boere nou die geleentheid om aansoek te doen om ’n gratis permit om enige van die nou verbode jagmetodes te gebruik.
Die hernuwing van permitte is egter onderhewig aan die verskaffing van inligting oor die beweerde probleemdier, soos die skade wat aangerig is, die ouderdom en geslag van die dier en die aantal roofdiere wat gejag is.
Permitte wat vir drie maande geldig is vir die “roep en skiet”-metode, wat vir jakkalse en rooikatte gebruik word, sal sonder inspeksies uitgereik word. As ’n grondeienaar iemand van buite op sy eiendom wil laat jag, kan hy dié mens as ’n medejagter op die permit byvoeg. Die groep organisasies gaan ook ’n werks- en beleidskomitee saamstel om moontlike toekomstige probleme aan te pak.
Verbode jagmetodes:
• Deur middel van vuur of gif.
• Met behulp van kunsmatige lig.
• Op of vanaf ’n openbare pad.
• Deur middel van ’n strik.
• Gedurende die tydperk een (1) uur ná sononder op enige dag en een (1) uur voor sonop die volgende dag.
• Deur middel van enige wapen op ’n openbare plek binne die regsgebied van die plaaslike owerheid.
• Deur middel van ’n vuurwapen wat ’n patroon met randontsteking en ’n kaliber van minder as 5,6 mm afskiet.
• Deur middel van ’n vuurwapen wat meer as twee skote afskiet sonder dat dit met die hand herlaai word.
• Deur middel van ’n pyl en boog.
• Deur middel van ’n gestelde geweer of enige dergelike apparaat.
• Deur middel van ’n toestel wat ’n bedwelmende of verdowingsmiddel of gif in sodanige dier inspruit.
• Deur die gebruik van ’n hond, uitgesonderd vir die jag van voëls of vir die doel om enige sodanige dier wat gekwes is, te volg of daarna te soek.
• In die geval van voëls in of op binnelandse waters deur die gebruik van ’n boot vir die doel om sodanige voëls te jag of dood te maak.
23 September 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)