Die Suid-Afrikaanse veebedryf verloor jaarliks sowat R1,11 miljard weens roofdiere wat vee vang of probleemdiere wat skade aanrig.
Mnr. Thys Delport, voorsitter van die Roofdierkomitee in die Wes-Kaap, sê dit is volgens statistiek wat hulle jaarliks van Alpro en uit studies wat prof. H. O. de Waal, van die Universiteit van die Vrystaat se departement dier-, wild- en graslandwetenskappe, ontvang.
Verliese neem toe
Delport sê veeverliese weens roofdiere en ander probleemdiere, soos vlakvarke en selfs koedoes, neem toe. Hy sê die probleemgebiede in die Kaap is in die Karoo veral naby Touwsrivier en Lainsburg en ook Ladismith in die Klein-Karoo. “Ek dink in daardie gebiede is daar iets soos twee of drie boere oor; die boere kon die situasie net nie meer hanteer nie.”
Hy sê volgens statistiek van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het boere in 2008 nasionaal sowat 66 000 veeverliese gehad, terwyl meer as 6 300 jakkalse en 3 400 rooikatte doodgeskiet is. Dié opname is onder 404 boere op nagenoeg 4,7 miljoen hektaar grond gedoen.
In die Wes-Kaap het veeverliese in 2008 op 15 600 te staan gekom, met 600 jakkelse en 344 rooikatte wat doodgeskiet is. Altesame 75 boere en 900 000 hektaar grond was by dié opname betrokke.
CapeNature-wetgewing
Hoewel sommige boere in die Wes-Kaap meen die wetgewing van CapeNature waaraan hulle moet voldoen om probleemdiere van kant te maak, is onredelik, meen Delport dit is nodig. Delport sê CapeNature probeer die jag van roof- en probleemdiere met hul jagkennisgewing beheer.
Daarvolgens moet ‘n boer aansoek doen om sekere jagmetodes, soos om jakkalse in die nag te skiet, te gebruik. As ’n boer dié permit ontvang, mag hy ook slagysters gebruik.
Die permit moet egter elke drie maande hernu word. Delport sê hoewel die permitte ekstra administratiewe werk veroorsaak, moet dit gebruik word. “Dit help om die omvang van die probleem vas te stel, aangesien boere met hul aansoeke moet aandui hoeveel vee hulle verloor het en hoeveel probleemdiere hulle van kant gemaak het.”
Wetlike aanpassings
Delport sê die bedryfskomitee in die Wes-Kaap vergader volgende Woensdag om verskeie uitdagings te bespreek. “Die driemaandelikse hernuwings sal tien teen een net op kort termyn toegepas word.”
Hy sê verskille in die wetgewing tussen provinsies sal ook bespreek word, sodat aanpassings gemaak kan word en boere op die grens tussen die Oos- en Wes-Kaap net aan een stel regulasies hoef te voldoen.
Gee jou mening oor probleemdiere.
Lees ook:
Praktiese raad met probleemdiere
15 Januarie 2010
Kommentaar
Julle groenes verwag van ons veeboere (kleinvee, grootvee en wild) om onder die moeilikste, denkbare omstandighede kos op julle tafels te sit. Kom werk in my kantoor waar die afrika-son die dak is. Geen verwarmer in die winter en geen verkoeler in die somer. Koöperasies wat jou doodmaak met hoë winsgrense. Paaie wat onrybaar is en dan die kersie op die koek. Gee jy 35% tot 40% van jou salaris/inkomste vir iets wat more-aand terugkom en nog kom soek, want gister-aand se lam was nie lekker nie.
Jy kla oor duur kos maar hoe moet ons dit goedkoper produseer as mens en dier op die boer teer.
Dink bietjie daaroor voor jy weer die boer die skuld gee.
Wel al hierdie slim mense soos Cape Nature en die groenes ek nooi julle uit om te kom kyk hoe lyk 30 dood gebyte lammers Dit was een rooi kat en wie vergoed my vir die verlies
Ek hoor dieselfde storie in die Hoogland Karoo en ek het vrae. Waarom het boere nie meer skaapwagters soos in die "ou dae"? Waarom word skape in a kamp geplaas en daar gelos en die boer kom 1 - 2 keer 'n maand loer of als nog OK is. Raak 8 skape (nie lammers) weg laat weet hy die bure, maar daar is nie teveel bekommernis daaroor. Waarom word talle ander (getoetste) oplossings nie gebruik, bv. Donkies, honde? Is dit te maklik om terug te sit en kla dat sogenaamde "ongediertes" die lammers dood maak.
Weskaap se wetgewing bevoordeel probleemdiere en benadeel boere. Die regering luister na n klomp hoogsgeleerdes wat waarskynlik nog nooit n probleemdier probleem gehad het of geboer het nie.Sedert die Weskaap dit onwettig gemaak het om probleemdiere met behulp van honde te jag het hulle ongedierte probleme meer as verdubbel. Waarom verwys hulle na dit as probleemdiere maar beskerm hulle dit met wetgewing. Die mees effektiewe manier om sulke diere te beheer is om dit met honde te jag. Wettig weer die jag van probleemdiere met honde & dit sal n groot stap in die regte rigting wees. Geen dorps bewoner wil n dief of verkragter in hulle buurt toelaat nie maar hulle wil boere met wetgewing dwing om probleemdiere by die duisende op hulle plase te beskerm. Die selfde klomp huil dan die hardste as landbou produkte se pryse die hoogte in skiet oor probleemdiere wat dan letterlik die braaivleis uit hulle borde op vreet.
Dis vir my duidelik dat Thys Delport heeltemal uit voeling is met wat die gemiddelde Wes-Kaapse boer dink oor die permitstelsel. Ek het nog nie met een boer gepraat of gekommunikeer wat ten gunste van CN se permitstelsel is nie of wat dit gebruik nie.
Duidelik moet hy bietjie uitvind hoe die boere eintlik hieroor dink. Ek sou voorstel hy gaan lees bietjie op hieroor en sluit aan by die Landbougespreksforum en sommer ook die jagtersforum. Daar sal hy dalk agterkom wat boere eintlik dink hiervan
Geen wonder boere reken hul leiers weet nie wat aangaan nie. Wes-Kaapse boere voel juis hul leiers het hul verraai en ek verstaan nou ook beter hoekom.
Groete
Pieter E
Ek stem, dit is nie noodwendig die jakkalse wat die probleem is nie. Honderde beeste en lammers word deur "twee been jakkalse" gejag, maar as ons boere enige iets se dan is ons die verkeerde mense en daar word nie enige ag daarop geslaan nie. Dalk moet statistieke weer gaan kyk wat die probleem is en dan daarvolgens oordeel
Ek dink nie die statistieke kan geglo word nie. Baie boere is te trots om te erken hulle verloor groot getalle vee. Hier by ons het 'n baie groot boer gese hy verloor net 25 lammers per jaar - dit terwyl die res van ons, wat nie naastenby so groot boer nie, honderde verloor. Die meeste van my mede-boere praat van ten minste 30% lammerverliese. Die 6300 jakkalse wat geskiet word is ook ver buite die kol. In ons distrik het een professionele jagter oor die 300 geskiet. Elke boer skiet ook tientalle per jaar en vang menigte met ander metodes. Ek sal graag wil hoor van ander boere, maar ek dink die syfers is ver van die waarheid - die werklike prentjie is baie erger.
Ek het al heelwat gese oor die statistieke en sogenaamde "probleemdiere".
Ek het self die jaar so paar skape en lammers agv die probleem verloor.
In al die gevalle het ek slegs die troppe na ander kampe toe verskuif en die probleem is toe tot 'n mate verlig.
Snaaks maar die oomblik as ek my skape in my grenskampe laat loop word hulle gevang en as ek hulle in my binnekampe laat loop is die probleem opgelos. En ek is 'n sogenaamde naweekboer wat, volgens baie boere, verantwoordelik is vir die probleem?
Miskien moet ons almal anders begin dink oor die probleem en dan sal ons 'n oplossing kry.
Miskien kan iemand my miskien se waar ek 'n permit kan kry om my werklike probleem,die tweebeen jakkalse, te skiet. Hulle het my die jaar baie meer skade berokken en die aanhoudende "vrees" dat hulle weer gaan toeslaan maak boerdery heel onaangenaam vir my.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)