|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die reuse-swartwitpens, wat ‘n bedreigde spesie is, kom nie soos wetenskaplikes gehoop het, in Wes-Zambië voor nie.
Luidens ‘n verklaring het ‘n groep wetenskaplikes die genetiese samestelling van die bokke wat in Wes-Zambië gesien is, vergelyk met dié spesie, wat tans net in Sentraal-Angola voorkom en op die rooidatalys van bedreigde spesies is.
Proff. Bettine Jansen van Vuuren, Terry Robinson en Conrad Matthee van die Departement van Plant- en Dierkunde aan die Universiteit van Stellenbosch (US) het saam met navorsers van Angola en Amerika die studie onderneem.
Gesigspatrone vergelyk
Die studie het die genetiese samestelling van die reuse-swartwitpens met soortgelyke bokke in die westelike dele van Zambië, wat dieselfde kenmerkende patrone op die gesig het, vergelyk.
Op grond van die navorsing is bevind dat die twee groepe bokke noemenswaardig verskil en aan twee subspesies behoort. Die Wes-Zambiese bevolking behoort aan die subspesie, Hippotragus niger niger, terwyl die reuse-swartwitpens deel van die Hippotragus niger variani-subspesie is.
Volgens Jansen van Vuuren behoort die Wes-Zambiese bokke met hul donker gesigte en velkleur beslis tot dieselfde subspesie as die oorwegend meer rooierige suidelike swartwitpense wat ook in Suid-Afrika voorkom.
“Dit is nie net diere se genetika wat bepaal hoe hulle lyk nie, maar die omgewing waarin hulle voorkom het beslis ook ‘n uitwerking,” sê Jansen van Vuuren.
Reddingsboei vir reuse-swartwitpens
Wetenskaplikes het gehoop dat die teenwoordigheid van die Zambiese bokke ‘n reddingsboei vir die oorlewing van die skaars reuse-swartwitpens kon wees.
Voorheen is gevrees dat die reuse-swartwitpens in die natuur heeltemal uitgesterf het weens die invloed van die Angolese burgeroorlog. Twee klein bevolkings van dié bokke is egter in 2006, met behulp van ‘n versteekte kamera, in Angola afgeneem.
Verdere wildtellings het nog geen verdere bevolkings uitgewys nie.
21 September 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)