SA kan 300 renosters verloor

 
Renosters. Foto: LBW
Renosters. Foto: LBW

Suid-Afrika kan vanjaar moontlik 300 renosters verloor nadat 152 reeds deur wilddiewe doodgemaak is, sê Animal Rights Africa.

“Dit is ‘n gevolgtrekking dat ten minste 300 renosters vanjaar wreed en pynlik doodgemaak gaan word in Suid-Afrika,” sê Animal Rights Africa (ARA). Dit volg nadat Sanparke bekend gemaak het dat 152 renosters tot dusver vanjaar vir hulle horings geslag is.

Luidens ‘n verklaring van ARA is meer renosters sedert 2008 in Suid-Afrika doodgemaak as in die afgelope 90 jaar.

Verander die wetlike benadering
Die organisasie meen dat die probleem nie behoorlik aangespreek kan word as wilddiewe op aanklagte van onwettige besit van wildprodukte aangekeer word nie. Me. Michele Pickover, woordvoerder vir ARA, sê die verdagtes moet vervolg word onder die Dierebeskermingswet.

“Ons moet nie verbaas wees dat welstand- en anti-wreedheidswetgewing nog nie ingestel is nie, want om renosters as ‘n verhandelbare kommoditeit te sien, is die sleutel van Suid-Afrika se benadering tot omgewingsbewaring.” Pickover beskryf die feit dat renosterbewaring voorrang geniet terwyl trofee-jag, handel in renosters, die verkoop van renosters deur nasionale en provinsiale natuurreservate aan jagters en die aanhou van ‘n renosterhoring-voorraad deur die Regering toegelaat word, as “oneties en onvanpas”.

Wêreldwye insiatief nodig
Volgens ARA is ‘n wêreldwye inisiatief nodig om die onwettige mark vir renosterhoring in die Ooste te takel. Die organisasie meen Suid-Afrika moet ook sy aandeel in die aanmoediging van die mark deur trofee-jag en die aanhou van ‘n voorraad renosterhoring erken.

Pickover sê beleide toorn oor die welstand van diere: “Hierdie kan letterlik vertaal word as ‘n oorlog teen wild.”

Oor die afgelope 19 maande het die jag van renosters vir hulle horings toegeneem tot op ‘n vlak wat ses keer hoër is as die voorafgaande agt jaar. Die meeste renosterhorings wat Afrika verlaat, is volgens ARA van Suid-Afrika afkomstig.

Lees ook:
Grootvoete kan wildstropers jag

Jagbedryf vies oor aantygings

6 Augustus 2010
 

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.