Seekoeie blind weens mynwater?

 
Seekoei. Foto: away.com
Seekoei. Foto: away.com

Seekoeie wat in die Hippodam in die Krugersdorp-wildtuin leef, is moontlik blind weens die hoë konsentrasie swaar metale wat in die water voorkom, sê die Federasie vir ‘n Volhoubare Omgewing (FVO). Me. Mariette Liefferink, hoof uitvoerende beampte, sê ‘n veearts van die Nasionale Dierebeskermingvereniging (DBV) het die diere ondersoek.

“Ek wag nog vir die veearts se volledige verslag, maar daar is ‘n groot moontlikheid dat die seekoeie weens die groot hoeveelheid swaar metale wat in die dam voorkom, blind kan wees. Die DBV het ook aanbeveel dat die diere ‘n skoon dam kry,” vertel Liefferink. Sy sê ‘n laag slik kom ook glo op die diere se velle voor.

Die diere leef glo in dié dam omdat ander damme in die omgewing, weens mynwaterbesoedeling, te suur is vir hulle om in te leef.

Vordering rakende suur mynwater aan die Rand
Liefferink sê hoewel ‘n strategie vir die behandeling van suur mynwater aan die Wes-, Oos- en Sentrale Rand nog nie saamgestel is nie, het sy die afgelope tyd goeie terugvoer van die Departement van Waterwese en Omgewingsake ontvang.

“Die portefeuljekomitee vir waterwese en omgewingsake het my genooi om die Parlement op 21 Julie oor die situasie in te lig, en stuur ‘n span wat op 27 en 28 Julie inspeksies in betrokke gebiede gaan doen,” vertel sy.

Geen stappe sal tot ‘n waterkrisis lei
Liefferink het vroeër vanjaar aan landbou.com gesê die groot hoeveelhede reën wat in die land geval het, kon ‘n grootskaalse waterkrisis ingehou het. Na die reëns het suurwater vanuit die Witwatersrand se westelike myngebied die Limpoporivier- en Vaalrivier-opvangsgebiede ingestroom. Dié suurwater het dus in die Tweelopiespruit, die Krokodilrivier en Wonderfonteinspruit ingeloop.

“Ons verwag dat suurwater uit dié dele binne twee jaar na ander waterstelsels gaan oorspoel, wat ondenkbare gevolge kan hê,” het Liefferink gesê. Die FVO het die Regering met regsaksie gedreig, waarna me. Buyelwa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, die myngebiede besoek het en die departement begin optree het.

7 Julie 2010

3.8
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.