Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Steun vir invoer van Zambiese bokke

 
Swartwitpens. Foto: ANDRIES GOUWS
Swartwitpens. Foto: ANDRIES GOUWS

Die SA Wildhervestigingsvereniging (WTA) het Vrydagoggend op sy algemene jaarvergadering gesê hy steun die invoer van Zambiese swartwitpense mits die protokol aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) se vereistes voldoen.

Die protokol moet ook nie as ’n eenmalige insident gehanteer word nie, maar as ’n algemene protokol geld vir die invoer van alle gespletehoef diere. Kommentaar oor die protokol moet voor 31 Januarie gelewer word.

Tydens ’n bespreking van die onderwerp het lede gesê die wildbedryf in Suid-Afrika word “versmoor” sonder sulke invoere.

Protokol is nodig
Die Vleisbedryfforum het voorlopig ’n stokkie voor die invoer gesteek met ’n dringende interdik wat Vrydag aangehoor is en waartydens tot ’n vergelyk gekom is dat geen diere die land ingebring mag word nie alvorens ’n protokol in samewerking met die bedryf opgestel is.

Die bedryf was deurgaans ongelukkig daaroor dat die Departement van Landbou - ten spyte van herhaalde versoeke - hom in die duister gehou het oor die voornemende invoer en die protokol. Die Forum het vroeër ’n private ondersoeker, mnr. Johan Odendaal, en ’n veearts en wildboer, dr. Alex Lewis, na Zambië gestuur om die situasie ten opsigte van die voorgenome invoer te evalueer. Die verslag vorm deel van die interdik.

Lewis is in 2008 deur die Veterinêre Raad skuldig bevind aan onprofessionele gedrag toe hy bloedmonsters van buffels uit Zimbabwe ingebring en dit onder ’n kollega se naam ingedien het sonder dié se medewete. Hy het die feit verbloem dat die bloed uit Zimbabwe kom en volgens inligting was van die bloed besmet met bek-en-klouseer.

Hy het vroeër aan Landbouweekblad gesê hyself het male sonder tal probeer om swartwitpense uit Zambië te bring maar sy aansoeke was nie suksesvol nie.

Volgens hom was die invoer “onverantwoordelik”.

Mnr. Ikey van Wyk, wildvanger vir die swartwitpens-projek, het op die vergadering gesê die bokke in Zambië is deur dié land se staatsveeartsenydienste getoets, sowel as deur die LNR Onderstepoort Instituut vir Veeartsenydienste. Die bokke is vir 23 siektes getoets.

Al die toetse was tot dusver negatief.

Lees ook Landbouweekblad vir verdere berigte oor dié saak.

29 Januarie 2010
 

4
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.