Die Rooivleisbedryfsforum sê hy is tevrede met die uitspraak van die Noord-Gautengse Hooggeregshof rakende die invoer van swartwitpense vanaf Zambië, asook die invoer van gesplete hoefdiere in die algemeen. Mnr. Dave Ford, voorsitter, sê die hof het beslis dat ‘n permit vir die invoer van 153 swartwitpense van die land nie toegestaan moet word nie.
Hy sê volgens die hof kan die permitte eers goedgekeur word as die diere aan alle gesondheidsvereistes voldoen en alle betrokke partye tevrede is. Die forum het verlede week ‘n aansoek by die hof ingehandig na ‘n kennisgewing dat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, voorstel dat dié bokke - afkomstig van die Kafue National Park - ingevoer moet word, in die Staatskoerant van 21 Desember verlede jaar verskyn het. Volgens Ford wou hulle die goedkeuring van dié transaksie verhoed voor daar terugvoer in dié verband van die Minister en ander rolspelers ontvang is.
Kon bek-en-klouseer die land inbring
Luidens ‘n berig in Business Day het daar gevaar bestaan dat die diere bek-en-klouseer die land kon inbring. Die koerant het berig dat drie verskillende bek-en-klouseervirusse al in die betrokke Zambiese wildtuin uitgeken is.
Mnr. Louis Grab, die forum se regsverteenwoordiger, sê ‘n konsortium van sakemanne, wat ‘n beampte van Zimbabwe se Zanu-PF insluit, het beplan om die diere in te voer. Hy’t bygevoeg dat die invoer van die diere teen die bepalinge van die Wet op Dieresiektes sou indruis, en kon lei tot ‘n verbod op die uitvoer van rooivleis van Suid-Afrika deur die Office International de Epizooties (OIE) – ‘n internasionale organisasie vir dieregesondheid.
Departement kommunikeer nie met bedryf
Volgens Ford moet daar nou met die departement vergader word om dié kwessie, asook deelname in die vasstelling van wetgewing in dié verband te bespreek. “Ons hoop dat die departement nou sy deure vir ons sal open rakende onderhandelinge en besprekings. Ons het nog altyd ervaar dat hy ‘n sogenaamde “geslote deur-beleid” rakende kommunikasie met die bedryf toegepas het”.
Hy het vroeër aan landbou.com gesê hy was ook ontevrede met die wyse waarop die kennisgewing geplaas is. “Ons meen die protokol gevolg om die kennisgewing in die Staatskoerant te plaas was onvoldoende. Dit is op ‘n snaakse tyd geplaas gevind, wat mens laat dink dat dit vir een of ander rede spoedig afgehandel moet word”.
“Regering sal aan protokol voldoen”
Intussen sê me. Pricilla Sehoole, hoof van kommunikasie by die departement, die Regering is daartoe verbind om aan nasionale standaarde en protokol te voldoen wat die invoer van gesplete hoefdiere aangaan. Sy sê alle partye betrokke by dié invoer sal verseker die diere word nie ingevoer as hulle nie aan die regte standaarde voldoen en die regte prosedures nie gevolg is nie.
“Ons verbind ons daartoe om die hoogste standaard van sanitasie toe te pas ten bate van die internasionale mededinging van ons landboubedryf. Die verbintenis sal die Regering egter nie verhoed om geleenthede vir handel binne Afrika te soek nie.”
1 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)