Die aantal renosters wat tot dusver vanjaar die slagoffers van veediewe was, staan op 152, sê Sanparke.
Luidens ‘n mediaverklaring sluit dié syfer renosters wat in provinsiale sowel as private natuurreservate vir hul horings doodgemaak is, in.
Die Kruger Nasionale Park het reeds een swartrenoster en 65 witrenosters verloor. Provinsiale natuurreservate het drie swartrenosters en 42 witrenosters verloor, terwyl private reservate een swartrenoster en 40 witrenosters minder het.
Kalfies word by dodetal getel
Sanparke tel ook die aantal kalfies wat dood gevind word weens die doodmaak van hulle ouers by die syfer . “As ‘n renosterkoei doodgemaak word, en sy het haar kalf by haar, het die kalf byna geen kans op oorlewing as die owerhede nie die dier betyds bereik nie.”
Die kalf kan weens honger vrek of dit kan die prooi van roofdiere word. Dié praktyk word ook as veediefstal gereken, aangesien dit bydra tot die agteruitgang van ‘n spesie. Verlede jaar was daar 19 409 witrenosters in die land, en 1 678 swartrenosters. Hoewel dit voorkom of die getalle van veral witrenosters relatief stabiel is, maak die styging van die doodmaak van dié diere owerhede bekommerd.
Gespesialiseerde bedryf
“Dit is dalk nie meer korrek om na die doodmaak van renosters as veediefstal van renosters te verwys nie weens die gesofistikeerde vlak waarop dit plaasvind, asook die geweld, doelgerigtheid en geld daaragter. Ons het hier met ongekende hoë vlakke van georganiseerde misdaad te doen wat die Polisie en verskeie ander veiligheidsdienste help teenwerk,” sê dr. David Mabunda, hoof uitvoerende beampte van Sanparke.
Hy sê die land het hard gewerk om renosters van uitwissing te beskerm en sal voortgaan om die diere te beskerm. Mabunda het weereens die publiek gevra om enige verdagte praktyke aan hulle bekend te maak. Tot dusver is 47 verdagtes vanjaar vir dié misdaad aangekeer.
Veeartse dalk betrokke?
Intussen het die SA Veeartsenykundige Raad en die SA Veeartsenykundige Vereniging dié praktyke ten sterkste veroordeel. “Ons is geskok deur die brutale slagting van die diere en sal alles in ons mag doen om die verantwoordelike persone te stop,” lui hul gesamentlike verklaring.
Die organisasies is ook geskok oor beweringe dat van hul kollegas na bewering hierby betrokke is. Hulle beklemtoon dat slegs geregistreerde veeartse enige verdowingsmiddels in hul besit mag hê.
Die publiek word versoek om die organisasies in te lig oor enige individue wat enige verdowingsmiddels of -aparate in hul besit het sonder die nodige dokumentasie.
29 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)