Aussies woeker met tegnologie

 

Australië het waarskynlik die beste vleisbees-navorsers in die wêreld, wat doelgerig werk om hierdie land met die nuutste tegnologie op die voorpunt te plaas. Dié tegnologie word deurdag gebruik om die gehalte van hul diere en vleis vinnig te verbeter.

Sy oë het oopgegaan. Hy sien Australië en sy boere in 'n heeltemal nuwe lig, sê mnr. Brian Angus van Arlington in die Oos-Vrystaat oor sy besoek aan Doer Onder wat hy as prys gewen het toe hy einde verlede jaar in die Landbouweekblad-Breedplankompetisie as Teler van die Jaar aangewys is.

Tydens sy besoek het hy tien van dié land se voorste telers besoek van wie vyf vorige wenners van Australië se Breedplankompetisie is. Dié boere gebruik die nuutste inligting en tegnologie in hul boerdery.

Hy glo van die wêreld se beste kennis en inligting vir veeboere is daar beskikbaar omdat dié land se regering ruimskoots geld voorsien vir die landbou. Die bedrywe bestee die geld deurdag om die beste navorsers wat daar is, daarheen te lok.

Dit bring mee dat die beste teeldiere met KI en embrio-oorplasings volgens die nuutste tegnologie vinniger vermeerder word om vordering in die bedryf te versnel.

Daarby is Breedplan syns insiens 'n wêreldleier wat prestasietoetsing betref. Baie lande maak van die organisasie se dienste gebruik. Terwyl hy in Australië was, was daar verskeie onderhandelings aan die gang met nuwe toetreders.

Die skandering van beeste met sonar vir vleisgehalte is vir hulle baie belangrik. Dit is een van die hulpmiddels wat hulle inspan om in die behoeftes van spesifieke markte te voorsien.

Die Australiese beesboere het hoofsaaklik drie markte. Dit is die Japanse mark wat 'n bepaalde karkas vereis, die binnelandse mark en Saoedi-Arabië, waarheen beeste lewend uitgevoer word. Australië is die grootste uitvoerder van beesvleis ter wêreld met 'n 21%-aandeel in die wêreldmark.

Japan se verbruikers verkies karkasse met sagte vleis en baie vetmarmering. Van die navorsing is daarop toegespits om beeste te identifiseer wat sulke vleis kan lewer en wat vir die land valuta inbring en premiepryse vir beesboere verseker.

Hulle verkies ook swaarder karkasse. Beeste vir dié mark word in voerkrale, wat dikwels deur Japanners besit of deur hulle help bestuur word, afgerond totdat hulle sowat 700 kg weeg en 'n karkas van ongeveer 450 kg gee.

Daarvoor word hoofsaaklik Britse rasse en Japanse Wagyu-beeste, wat die sagste vleis ter wêreld produseer, gebruik.

Die beeste wat lewend na Saoedi-Arabië uitgevoer word, is hoofsaaklik Bos indicus-rasse, waaronder Belmont Red, Bonsmara- en Branguskruisings. Die beeste word op die reuse-beeslandgoedere in die droër noordelike dele geteel, na die kus gebring en daar afgerond voordat hulle uitgevoer word.

Omdat daar net sowat 20 miljoen mense in Australië is en hulle nie al die vleis kan gebruik wat die boere produseer nie, is die hoogs mededingende uitvoermarkte vir dié land lewensnoodsaaklik.

Die manier waarop die regering daar die boere help, het 'n groot indruk op Angus gemaak. Afgesien van die sowat 300 miljoen Australiese dollar wat die regering aan die beesbedryf gegee het vir onder meer navorsing, markbevordering, bemarking en droogtehulp, is sy departement van landbou met 'n doeltreffende voorligtingsdiens nou betrokke by die boere.

Voorligters is op plaasvlak beskikbaar om boere met raad en daad by te staan. Op 'n veiling wat hy bygewoon het, was 'n paar voorligters voortdurend tussen die diere om boere se vrae te beantwoord en raad te gee.

Elke maand of twee publiseer die landbouvoorligtingsdiens inligting in plaaslike koerante waarin boere gewaarsku word oor siektes wat kan uitbreek, inentingsprogramme wat gevolg moet word en ander noodsaaklike inligting.

Daar bestaan 'n besondere verhouding tussen die regering en die landboubedryf omdat hulle hul onderlinge afhanklikheid erken en 'n welvarende bedryf groot voordele vir die land inhou.

Die resultate van die goeie navorsing wat ingespan word om in die mededingende uitvoermarkte vastrapplek te kry, spoel noodwendig oor na die binnelandse mark, en die gehalte van die vleis wat daar op die winkelrakke beland, het die afgelope tyd aansienlik verbeter.

Met dié beter gehalte vleis en 'n doelgerigte reklamepoging het hul beesvleisbedryf daarin geslaag om die binnelandse verbruik, wat ook soos hier 'n afwaartse neiging gehad het, om te draai en dit te laat groei. Dié groei is hoofsaaklik ten koste van hoendervleis en in mindere mate skaapvleis.

Vir die binnelandse mark word alle tipes beeste gebruik. Bulle is geïdentifiseer wat beter karkasse teel en hulle word ruimskoots gebruik.

In hul teelprogramme word die rekenaar saam met die Breedplan-program ingespan. Telers voer hul beste koeie se kenmerke in die rekenaar in en dié blikbrein beveel dan die beste bul of bulle aan wat hulle kan gebruik om hul teeldoelwit te bereik.

Omdat al die KI-bulle wat beskikbaar is ook in die Breedplan-program beskikbaar is, kan hulle die beste parings vir hul topkoeie só bewerkstellig. Die meeste voorste telers spoel ook embrio's van hul topkoeie.

'n Interessante nuwe ontwikkeling in die bulmark is om bulle te verkoop as hulle 'n jaar oud is. Hoewel dit nog nie 'n algemene gebruik is nie, vind dit ál meer byval.

Die gedagte hieragter is om die bulle 'n langer aanpassingstyd in hul nuwe werksomgewing te gee. Sulke bulle is noodwendig goedkoper, wat meebring dat kopers meer bulle kan aanskaf en dié wat die beste by sy toestande aanpas, kan selekteer as hulle twee tot drie jaar oud is.

Vir die bulteler beteken dit laer voerkoste en 'n vinniger omset in teelmateriaal. Bultelers wat dit nou al doen, sê hul inkomste het omtrent dieselfde gebly, want hoewel bulpryse gedaal het, verkoop hulle meer en spaar hulle voerkoste. Dit skep 'n situasie waarby almal baat vind tot voordeel van die bedryf.

Al die boere wat hy besoek het, maak ruimskoots gebruik van aangeplante weidings waarin peulgewasse 'n vername rol speel. Suid-Afrikaanse inheemse grasse soos Rhodes- en bloubuffelsgras, wat daar veredel is, word algemeen gebruik.

Op een plaas het hy gesien dat witloof (sigorei) saam met weigewasse geplant word. Daar is 'n beperkende kleilaag onder die grond en die witloof se sterk penwortel dring daardeur om tonneltjies te skep vir die weigewasse se wortels om ook by die vog onder die klei uit te kom.

Peulgewasse is goeie voer en word ook gebruik om stikstof neer te lê om die verbouingskoste van weigrasse laer te hou. Hoofsaaklik meerjarige grasse word gebruik en die boere laat dit meesal eerder bewei as om hooi te maak.

Die aangeplante weidings help om hul produksiekoste af te bring en die drakrag van hul grond te verhoog. Een groot boer hou 4 000 beeste op sowat 3 200 ha aan.
Groot dele van Australië wurg ook in 'n baie ernstige droogte nadat dit die afgelope drie jaar bitter min gereën het. Duisende skape en beeste staan op kaal grond waar hulle gevoer word. Die regering help dié boere met subsidies vir voer en boere in streke waar toestande beter is, help met weiding.

Angus sê die boere wat hy besoek het, is ook baie bewaringsbewus. Hulle pas hul weidings besonder goed op en plant baie bome vir skadu, skuiling en om erosie te bekamp.

Daar is 'n aansporingsprogram en boompies is goedkoop by staatskwekerye beskikbaar. Op een van die plase waar 'n pa en seun saam boer, het hulle die afgelope tien jaar 60 000 bome geplant.

Die Australiese regering wil aanstaande jaar 'n identifikasiestelsel vir alle beeste in die land instel. Dit is daarop gemik om beter naspeurbaarheid te bevorder en groter beheer oor siektes uit te oefen. Dit sal dit ook makliker maak om aan die vereistes van die uitvoermarkte te voldoen.

Van die nuutste tegnologie wat hy daar raakgeloop het, is die Eazi-Breed CIDR-stelsel vir die sinchronisering van koeie en verse. 'n T-vormige toestelletjie word in die vagina geplaas wat natuurlike hormoon-progesteroon in die behandelingstydperk van sewe dae verskaf.

Op die sewende dag word dit verwyder en die diere kom dan ná drie tot vyf dae op hitte, wanneer hulle binne 'n tydperk van agt tot twaalf uur kunsmatig geïnsemineer of gepaar word. Navorsing het ook bewys dat dié tegniek verder verfyn kan word as bestaande sinchroniseringsmiddels saam met die toestel gebruik word.

Op die plaas The Grange, sowat 300 km noord van Perth, is 'n skaapteelprogram aan die gang waarin die invloed van elite-ooie op die kudde verhoog word met 'n program van veelvuldige ovulasies en embrio-oorplasings. Daardeur word die lammers van dié keurooie wat met topramme gepaar is, beduidend vermeerder.

'n Kloningsprogram is ook op dreef. Die eerste gekloonde skaaplam, 'n ram wat Macarthur heet, is in 2001 gebore. Sy groei word noukeurig dopgehou en tot nou toe was daar geen afwykings nie.

Nog 'n verbeeldingryke teelprogram is die Juvenile In Vitro-embrio-oorplasingsprogram. Dit behels die produksie van nageslag uit onvolwasse ooilammers.

Die lammers word geselekteer aan die hand van hul ouers se prestasie en stamboom. Ses weke ná geboorte word so 'n ooilam met hormone behandel. Wanneer haar eierstokke eierselle begin produseer, word dit tydens 'n operasie verwyder en in 'n proefbuis tot volwassenheid ontwikkel en met semen van 'n uitgesoekte ram bevrug.

Die embrio's wat in die proefbuis ontwikkel, word in ontvangerooie oorgeplaas en wanneer die ooilam sowat agt maande oud is, is haar eerste nageslag al op die grond. Só word veelvuldige nageslag van elke ooilam geproduseer met 'n aansienlik korter geslagsinterval.

Angus kom gereeld in Amerika waar hy talle beesplase besoek, maar dié besoek aan Australië het hom laat besef dat dit wat die Aussies doen, meer toepasbaar is in Suid-Afrika.

Hy het baie geleer en gaan gewis aanpassings in sy boerdery maak deur meer peulplante te gebruik, KI en embrio-spoelings in te span om sy beste teelmateriaal vinniger te vermeerder, en Breedplan as hulpmiddel beter te benut om sy teelvordering te versnel en bestuur te verge-maklik.

Daarby glo hy dat as Suid-Afrika die voorbeeld volg deur meer aandag aan vleisgehalte te gee en dit met 'n doelgerigte reklamepoging steun, die dalende neiging in die verbruik van beesvleis omgedraai kan word.

6 Augustus 2004

0