|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Die behoorlike voorbereiding van vleisbeeste vir 'n skou verg meer as om hulle net op die vragmotor te laai. Dit begin maande voordat die skou plaasvind.
Om suksesvol teen strawwe kompetisie mee te ding, verg gewoonlik jare se harde werk, kennis en ervaring voordat alles gereed is om die eerste grootkampioen-toekenning te wen.
Hoewel heelwat inderdaad bereik kan word deur 'n klomp geld te bestee, kan niks die sorgvuldige seleksie van en lang werksure met die dier, tesame met 'n deeglike voedingsprogram vervang nie. Skoubeeste is beslis meer mededingend in die ring as hulle genoeg van die regte voer kry. As die boer nie 'n geskikte voedingsprogram met sy skoubeeste volg nie, kan dit van 'n potensiële kampioen 'n onafgeronde, middelmatige dier maak.
'n Skoukampioen behoort uiteindelik die volgende eienskappe te hê: Behoorlike bespiering, balans en konformasie, vry van strukturele gebreke, behoorlike afronding, 'n gesonde voorkoms en blink haarkleed.
Hierdie artikel word gewy aan die voedingsbestuur van vleisbeeste wat vir die skouring bestem is en sal help om die gewenste eienskappe te verbeter. Een van die belangrikste beginsels is dat skoubeeste geensins van ander beeste verskil nie. Hulle het dus ook 'n volledige, basiese voerprogram nodig om hul genetiese potensiaal ten volle tot uiting te bring, tesame met goeie bestuursvernuf deur die skouman.
Beginsels van skouvoeding
Dit is belangrik dat elkeen wat 'n skoudier voer, moet besef daar is nie so iets soos 'n wondervoer of -produk wat 'n eerste plek vir 'n dier gaan waarborg nie. Daar is wel sekere voedingsbeginsels en hulpmiddels beskikbaar wat verskeie faktore van die dier se voerprogram kan versterk en hom teen strawwe mededinging kan laat wen. Niks kan goeie voeding en deeglike voedingsbestuur vervang nie.
Skoubeeste het 'n unieke voerprogram nodig waarmee minstens drie maande voor hul eerste skouverskyning begin behoort te word. Die voorsiening van 'n geskikte rantsoen sal verseker dat skoubeeste behoorlik uitsit, kondisie en 'n sterk immuunstelsel behou en die gesonde glans kry wat 'n bees in die skouring laat uitstaan.
Om skoudiere geleidelik in die kondisie te kry waarin hulle uiteindelik op die skoudag moet wees, moet die skouman eers na die klein dingetjies omsien. Hy moet vasstel of die diere die regte hoeveelhede van die regte tipe energiebronne kry. Behoort hulle minder of meer proteïen te kry, en watter soort proteïen? Kry hulle genoeg en die regte kombinasies van vitamiene en minerale? Gaan hulle ophou vreet sodra hulle by die skou kom?
Die kern is 'n goeie balans. Daarom het elke dier volledig balanseerde voeding nodig, ongeag sy teling, om sy genetiese potensiaal te bereik.
Benewens die basiese dinge sal elke voerder van skoubeeste natuurlik sy eie mening hê oor die quot;korrekte manierquot; van dinge doen en wat vir hom die beste werk. Daar is geen volmaakte metode nie. Dit is een van die redes waarom dit tyd kos om 'n deeglike voerprogram vir skoubeeste te ontwikkel. Die skouman moet vasstel wat werk die beste vir hom en sy bestuurstyl, sowel as die tipe dier of diere wat hy voer. Onthou egter, om die program te laat werk, moet eers aan die basiese vereistes voldoen word. Elke dier het dieselfde basiese voedingstowwe nodig, naamlik proteïen, energie, minerale en vitamiene. Hulle het egter verskillende vlakke en tipes van hierdie voedingstowwe nodig. Dit hang af van verskeie faktore, soos:
Funksies van die verskillende voedingstowwe in die skoudier
Die onderskeie voedingstowwe het verskillende funksies in die liggame van die verskillende klasse skoudiere.
Proteïen
Dit is die boustene van die liggaam en die primêre komponent van spier- en beenontwikkeling. Proteïen is saamgestel uit kleiner eenhede (bekend as aminosure) en deur die verteringsproses word die proteïen afgebreek, opgeneem en hersaamgestel tot die komponente wat vir die liggaam se groei, ontwikkeling en instandhouding nodig is.
Benewens spier- en beenweefsel word aminosure en proteïen gebruik om onder meer ensieme, hormone, vel en hare te vervaardig. 'n Goeie gehalte (korrekte aminosuurbalans) en genoegsame hoeveelhede opneembare proteïen is uiters belangrik vir die optimale groei en ontwikkeling van die skoudier. Onder voedingskundiges is die term quot;ruproteïenquot;, wat vir baie jare die proteïenvereistes van vleisbeeste beskryf het, vervang deur die term quot;metaboliseerbare proteïenquot; (MP). Dit is meer beskrywend van die proteïen wat die vleisbees werklik nodig het. Dit is die deel van die totale aminosuurproteïen wat deur die dunderm opgeneem en vir produksie en onderhoud van die diere aangewend word.
'n Groot gedeelte van die MP is afkomstig van mikrobiese proteïen wat in die rumen vervaardig word van rumen-afbreekbare proteïenbronne (insluitend nie-proteïen stikstofbronne soos ureum) en die res van die MP word verskaf deur verbyvloeiproteïen by die rantsoen in te sluit.
Energie
Dit is die quot;brandstofquot; wat groei bevorder (gewigstoename) en die funksies van al die stelsels in die liggaam aan die gang hou. Energie word geproduseer vir hierdie doel wanneer die liggaam voedingskomponente soos stysel, vesel (albei koolhidrate) en vet afbreek. Energie word ook vrygestel wanneer proteïen afgebreek word.
Die vernaamste energiebron vir die skoudier is stysel, wat die primêre koolhidraat is wat in grane soos mielies, koring, hawer en gars voorkom. Skoubeeste het meer stysel in hul rantsoen nodig as beeste wat wei, maar 'n te hoë styselinhoud kan hoefprobleme veroorsaak (byvoorbeeld laminitis) en 'n skoudier se toekoms kortknip. Die sleutel tot behoorlike voeding is om 60 dae tot 90 dae voor die skou 'n gebalanseerde vlak van stysel en ander energiebronne in hul ransoen te handhaaf. Dit sal die geleentheid bied om die diere meer lyf te gee en sal nie die nadelige uitwerking op hul pote hê wat oorvoeding met hoër styselgebaseerde rantsoene dikwels het nie.
Vet is die volgende ryk energiebron. Feitlik alle voerbestanddele bevat 'n hoeveelheid vet en dit is gebruiklik om vet (van hoofsaaklik plantaardige bronne) by die rantsoen te voeg om die voer se energiedigtheid te verhoog en daardeur ook gewigstoename verder te verbeter. 'n Interessante feit is dat 1 kg vet wat by die rantsoen gevoeg word, 2,25 keer meer energie verskaf as 'n kilogram mielies (bron van stysel). Dis egter belangrik om nie te veel vet te verskaf nie, omdat dit die vertering van veral veselbronne kan belemmer (tensy rumen-verbyvloeivette gebruik word) of dit kan veroorsaak dat die dier oormatige kondisie aansit of die ideale kondisie te vroeg bereik.
Die derde energiebron is vesel. Vesel se molekulêre samestelling is soortgelyk aan dié van stysel, maar geringe verskille maak dit moeiliker om te verteer. Daarom is vesel nie 'n ewe goeie bron van energie nie, maar dit is wel belangrik in die rantsoen, omdat dit spysvertering stimuleer, veral in die rumen (grootpens) deur die rumen se werking meer aktief te hou. Gevolglik help vesel om verteringsteurnisse soos suurpens en opblaas te voorkom. Die insluiting van geskikte veselvlakke kan dus ook help met die quot;vullingquot; van die groter spysverteringskanaal of die voorkoms van volheid by die dier, maar dit moenie oormatig wees nie.
Minerale
Dit word in relatief kleiner hoeveelhede benodig, maar is noodsaaklik vir alle fisiologiese stelsels en veral belangrik vir groei, ontwikkeling en immuniteit. Minerale word in twee groepe verdeel. Makro-minerale, naamlik kalsium, fosfor, kalium, magnesium, natrium, chloor en swael, is dié waarvan groter hoeveelhede nodig is en wat in die liggaam by veral groei (bene en tande), senuweetransmissie en waterbalans in die selle betrokke is. Mikro-minerale of spoorelemente, soos kobalt, koper, yster, jodium, mangaan, selenium en sink, word in kleiner hoeveelhede vereis en word oral in die liggaam benut. Ander mikro-minerale wat nodig is, maar minder goed verstaan word, sluit chroom en nikkel in.
Vitamiene
Vitamiene word in lae vlakke gevoer, maar is noodsaaklik vir die normale werking van fisiologiese prosesse vir behoorlike groei. By beeste word gewoonlik slegs vitamiene A en E (en soms D) aangevul. Ander vitamiene soos die B-vitamiene word nie altyd bygevoeg nie, aangesien die bakterieë in die rumen gewoonlik voldoende hoeveelhede daarvan vir die dier se behoeftes vervaardig. Op 'n hoëgraanrantsoen wat tipies aan skoubeeste gegee word, kan die aanvulling van B-vitamiene, asook vitamiene C en K, soms nuttig wees.
Beginsels vir sukses
Die skouring bly 'n belangrike afdeling van die vleisbeesbedryf in Suid-Afrika. 'n Suksesvolle skouprogram verg egter baie tyd en groot uitgawes, en sukses word selde met die eerste skou of eerste skoudier behaal. Landbouweekblad begin in hierdie uitgawe met 'n reeks van drie artikels waarin gelet word op die fyner punte vir die afronding van beeste vir die skouring. In die eerste artikel val die klem op die voorbereiding van skoubeeste. Die tweede en derde artikel handel oor die rantsoenriglyne vir skoudiere en praktiese riglyne vir skoudiervoeding.
Dr. Hinner Köster is besturende direkteur van Scinetic, 'n afdeling van Afgri.
Landbouweekblad, 8 Junie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24