Die Chaco is ‘n gedeelte van Paraguay, baie goeie beeswêreld, maar redelik hard op die inwoners, maar met die koms van elektrisiteit is dit baie makliker: ‘n Beesparadys!
Die teerpad hou net aan en aan. Pylreguit, eentonig. Af en toe so ‘n effense draai. Die “Ruta Transchaco”. Plat, plat wêreld. Geen landmerk nie. Doring- en ander bome weerskant van die pad. Die horison bedek deur hierdie bome. Eentonigheid word verbreek deur die ingange na die verskillende estancias, oftewel beesplase. La Rossane, La Helvetica, Ganadera Isla Alta, Viradolce.
Dit is die pad deur die Chaco van Paraguay. Die oostelike deel van die land. Ongeveer 500 km van noord na suid en ook 500 van oos na wes. Vroeër het hulle dit, die Chaco, “the green hell of South America” genoem. Nou sê hulle dit is ‘n beesparadys. Veral die dele wat nie so nat, as gevolg van die platheid is nie.
Die Chaco is ‘n gedeelte van Paraguay, baie goeie beeswêreld, maar redelik hard op die inwoners, eintlik vroeër nou met die koms van elektrisiteit is dit baie makliker.
Reënval in die Chaco wissel van 700 tot 900 mm per jaar. Nie altyd so goed versprei nie. Onderaardse water is volop en vlak, maar soms té sout. Voorsiening word gemaak deur opvangdamme, “tajamares”, in laagliggende dele te bou. Die grond wat daaruit kom, word gebruik om ‘n dam langsaan, australiano, te bou. Die water word dan uit die opvangdam hierin gepomp en deur gravitasie oor die hele plaas versprei. Die opvangdamme kan nie te diep gebou word nie, 2-3 meter, dan word deur die kleilaag gedring tot in die sand en is die houvermoë swak.
Ontwikkeling
Onontwikkelde dele moet eers beplan word, voordat dit ontwikkel kan word. ‘n Deel van 25% moet ongeskonde gelaat word. Bruikbare bome word uitgesaag en met ‘n kruiptrekker word die res op hope of in rye platgestoot. Bome word ook gelos vir skaduwee vir die diere.
Agter die kruiptrekker word ‘n eenvoudige elektriese plantertjie gemonteer, wat die witbuffelsaad (Panicum maximum gatton) saai, terwyl die proses van skoonmaak aan die gang is. Hierdie gras is ‘n wenner in die dele. Vroeër is heelwat bloubuffel (Cenchris cilliaris) gebruik. Dié gras se onderhewigheid aan roes gedurende die nat tye, het sy gewildheid laat afneem. ‘n Veilige drakrag is ,75 GVE per hektaar vir die gevestigde gras. Sommige boere verkies om die bos net so te los, dan word ten minste 5 ha per GVE benodig.
Drinkwater vir die mens kan soms ‘n probleem wees. Huise word met ‘n groot dakoppervlak, groot stoepe, voorsien en die reën se afloopwater word in ondergrondse tenks, argiewe, opgevang vir latere gebruik. Muskiete en glyerige plaaspaaie is soms ‘n groot uitdaging en onplesierigheid.
Boerderybedrywighede is gesentreer om die Mennonietedorpe, Filadelfia, Loma Plata en Neuland , waar daar ‘n baie goed georganiseerde koöperasie is, wat in alle benodigdhede voorsien.
Selfs in hierdie vreemde wêreld is daar ‘n handjievol oud Suid-Afrikaners, soos Kobus Bondesio, by wie van die foto's geneem is, wat duidelik besig is om hulle stempel af te druk.
Klik hier om na foto’s van die werksaamhede te kyk. Al die foto's is verskaf deur Danie Coetzee, die skrywer van hierdie artikel.
Geskryf deur Danie Coetzee, wat in Paraguay boer. Lees sy blog hier.
8 Maart 2010
Kommentaar
Dagse.
As mede Suid-Afrikaner wat ook in Paraguay woon gaan ek dit waag om ook maar hier hallo te se. Oom Danie, hou aan met die goeie werk.
@kees, tajamar'es en australianos word meestal deur kontrak werkers gemaak. Wat hulle deesdae van prys het, het ek ongelukkig geen idee meer nie.
@mkruger, ek is maar jonk van SA weg, en ken nie alles nie, maar ek glo amper nie daar is iewers in SA 'n plek wat met die Chaco kan vergelyk ten opsigte van muskiete, en glyerige paaie nie, alhoewel, dit mag ook wees, ek weet nie.Wat ek wel weet is dat aangaande glyerige paaie, muskiete, stof en daai noord-wind die Chaco nie 'n grap is nie.Afgesien daarvan is dit 'n bees boer se paradys en ek sou wat wou gee om weer terug te kon trek daarheen.
Aangaande diefstal, dink ek, ek sit nie die deksel ver van die pot mis as ek sou se dit bestaan amper nie. Natuurlik het dit al daar gebeur, maar dis 'n faset van die lewe waaroor die mense daar nie hulle koppe oor breek nie, want dit gebeur so goed soos amper nooit.
Om 'n beter voorbeeld te probeer gee, die mens daar los hulle kar sleutels binne in hulle karre sodat hulle nie die volgende keer as hulle wil ry die goed eers weer moet soek nie.
veel te lank gelede dat ek laas jou blog gelees het, en ek sien daar is baie om in te haal.
so`n australiano lyk intressant. Is dit kontrak werkers wat dit bouw? Wat reken hulle vir `n uur werk + machine/diesel ?
Jis Danie
Toe ek lees "Muskiete en glyerige plaaspaaie is soms ‘n groot uitdaging en onplesierigheid" het ek vir 'n oomblik gedink jy praat van my distrik....
Jy se niks van diefstal nie ?
Ek dink enige ander probleem kan oorbrug word. Diefstal breek egter mens se moed veral as jy soos 'n krimineel behandel word as jy die dief self vang.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)