|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Mnr. Nic Toerien, ’n honneursstudent in landboubestuur aan die Universiteit van die Vrystaat, het vroeg in die finale jaar van sy voorgraadse studie intensief begin navorsing doen op die beefalo, ’n kruising tussen bisons en beeste.
Hy is reeds deur die Amerikaanse Beefaloverenging as een van die wêreld se voorste kenners van hierdie kruising beskryf. ’n Lywige handleiding wat hy vir die vestiging van beefalo’s in Suid-Afrika saamstel, word van tyd tot tyd aan die Amerikaanse Beefalovereniging voorgelê, en op hul aanbeveling bygewerk of verander.
Die voordele van die beefalo is dat dit die beste eienskappe van die bison en die vleisbees kombineer – mits dinge reg aangepak word. Toetse toon nie net dat die beefalo bykans geen skadelike cholesterol in die vleis bevat nie, maar dat die menslike liggaam ook suinig met die absorpsie van cholesterol reageer. Dit is besonder ryk aan voedingstowwe. Die vleis bevat selfs vitamien A.
Die beefalo-kalf is gewoonlik klein, wat die geboorteproses makliker maak. Dit groei egter vinnig en is spoedig ’n bielie. Dis nie ’n selektiewe vreter nie en benut natuurlike weiding goed.
In Amerika het beefalo’s selfs vet geword op weiding wat deur beeste vermy word. Daar is nie byvoeding en groeihormone nodig wat vleis vir uitvoer na die Europese Unie kelder nie. Om die beefalovleis gaar te maak, word ongeveer net ’n derde van die energie benodig as met ander vleis.
Die beefalo het, soos die bison, bykomende willekeurige sweetkliere wat meer hitteweerstand bied, terwyl dit ook vanweë die digter haredos koue kan weerstaan. Trouens, die koue Amerikaanse winters is een van die hoofredes waarom die beefalo (aanvanklik cattelo genoem) geteel is. Omdat die bison baie ouer as ’n bees word, het ’n koei ’n bykomende drie tot vier kalfjare.
Om te bepaal watter Suid-Afrikaanse bees waarskynlik die beste vir beefalo-teling gebruik kan word, het Toerien verskillende beesrasse bestudeer en uiteindelik op die Afrikaner besluit. Die Afrikaner het nie net ’n dubbele geen vir sagtheid nie, maar is self skraps aan cholesterol as dit as veldbees aangehou word.
Omdat die teel van die beefalo kompleks is, is dit moontlik dat van die diere aanvanklik nie die vereiste persentasie bison sal kan bevat nie. Met die Afrikaner sal min van die voordele na verwagting verlore gaan.
Ander oorwegings is verwagte makliker hanteerbaarheid en beter weerstand teen siektes. Toerien het in Januarie vanjaar ’n voorlegging aan die bestuur van die Afrikanerbeestelersvereniging gedoen en die vereniging se volle samewerking gekry.
Toerien het gehoop dat beeste wat nie heeltemal aan die stamboekvereistes voldoen nie, beskikbaar gestel sal word, maar die vereniging het besluit dat juis stamboekvee gebruik sal word. Ondervinding het geleer dat iemand nie net kan inspring en suksesvol met die beefalo kan boer nie.
Die bison en die bees behoort tot verskillende genusse. As van die beproefde metodes en bewese vrugbare bulle afgewyk word, is onvrugbaarheid of abortering wesenlike moontlikhede. Die vleis kan ook teen die normale karakter in van beefalovleis droog en smaakloos wees.
Die doel van Toerien se studie (en in die stadium lyk dit of ook ander studente vanuit ander vakgebiede tot die studie kan toetree) is om die beste vestigingsmetodes vir beefalo in Suid-Afrika te bepaal. Hy wil ook vasstel of die beefalo die suurgras vreet wat in die winter soveel probleme met veldbrande veroorsaak.
Om volgende jaar met sy meestersverhandeling te kan aangaan, is dit wenslik dat hy dan reeds kalwers sal hê om op te kan werk. Hoewel die Amerikaanse Beefalo-vereniging aangebied het om geldelik in die voorsiening van strooitjies te help, is daar nog vervoer- en ander koste wat die projek na verwagting duur sal maak.
Toerien het dus beleggers of borge nodig. Mense wat belang stel om hom te help of bloot meer inligting wil hê, kan hom by 082 265 7037 bel of ’n e-pos aan nictoerien@yahoo.com stuur.
Herman Toerien is ’n gereelde rubriekskrywer van die gemeenskapskoerant Vrystaat en Nic Toerien is sy seun. Nic se grootouers is mnr. Nic en mev. Engela van der Merwe van Bethlehem.
Die artikel het oorspronklik in Vrystaat verskyn.
26 April 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)