Rooiwater moker stoetboer

 
Bonsmara-koei en kalf. Foto: LOUW PRETORIUS
Bonsmara-koei en kalf. Foto: LOUW PRETORIUS

Groot kommer heers oor die voorkoms van Asiatiese rooiwater in Gauteng en ‘n Bonsmara-teler wonder of die siekte dié besondere koue winter tot stilstand sal kom?

Mnr. Johan de Klerk van die Devondale-stoetery, Bronkhorstspruit, sê die eerste geval van dié siekte het gedurende Mei 2010 op sy plaas voorgekom. “Dit is normaal om selfs gesoute diere van tyd tot tyd af te staan aan siektes en alreeds met die eerste geval is die bestuursprogram aangepas om verdere gevalle te voorkom.

“Die Devondale Bonsmarastoetery is in November 2007 begin en beeste is aangekoop vanuit verskeie kuddes met klem op slegs gesogte teël material. Diere van regoor Suid-Afrika is bekom teen ‘n hoë premie, selfs vanaf erkende Hartwater, Galsiekte, Afrika en Asiatiese rooiwater-gebiede. Die aanname was dat hierdie diere tot ‘n mate nie-vatbaar behoort te wees teen hierdie siektes omdat hulle juis uit hierdie besmette gebiede kom.”

De Klerk sê sy skok was groot om uit te vind dat geen stelsel of raad teen Asiatiese rooiwater werk nie. ‘n Paar enkele diere wat baie vroeg opgemerk is met simptome van die siekte is in die veld net daar en dan met die nodige medikasie gehandel en kon gered word.

Skade kan nie in rand en sent bereken word
“Na ‘n verlies van 8% van my totale kudde en met die vrekte van een van my beproefde kuddevaars aan die siekte, het ek besef dat die skade nie werklik meer in rand en sent bereken kan word nie. ‘n Prys kan nie geplaas word op ‘n beproefde bul wat jy verloor, ouerlose kalwers wat met die hand grootgemaak moet word en uitstekende genetieke wat nou verlore is.

De Klerk sê die laaste geval het Dinsdag (20 Julie) voorgekom ná verskeie koue fronte. “Die vraag is: Gaan hierdie siekte ooit gedurende ‘n besonderse koue winter tot stilstand kom?

“Alle planne vir enting is in plek, maar volgens Onderstepoort gaan die entstof eers in Augustus beskikbaar wees. Op watter persentasie my vrektes dan gaan staan is ‘n ope vraag.

“Ek as stoetteler is verantwoordelik om gesoute diere aan die kommersiële mark en ander stoettelers te voorsien en ek is uiters bekommerd oor wat die toekoms in vir die beesbedryf inhou, veral as dit kom by Asiatiese Rooiwater, want ek is van mening dat daar nog nie genoegsame navorsing oor hierdie siekte gedoen is nie en dat entstowwe nie geredelik beskikbaar is nie. Hierdie siekte tref nou gebiede wat voorheen nie erkende Asiatiese Rooiwater gebiede was nie. Is hierdie die begin van ‘n pandemie?

In my omgewing is verskeie boere wat met ander bees rasse teel, moedeloos gelaat met die uitbreek van Asiatiese rooiwater.

Ek sal graag indiepte oor hierdie aangeleentheid wil praat. Boere moet attent gemaak word oor wat kan gebeur en indien daar spesialiste is op hierdie gebied, versoek ek dat seminare gehou word ten einde boere in te lig oor hoe om Asiatiese rooiwater te bekamp, bestuur en moontlik te voorkom.

Kontak De Klerk by 082 495 2957.

22 Julie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.