'n Volledige verslag oor die land se bek-en-klouseer vrye status moet teen Oktober aan die Wêreld-Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) oorhandig word om dié status moontlik teen Mei 2013 weer in te kan stel.
Dr. Piet Verdoore, voorsitter van die Dieregesondheidsforum, sê daar word tans hard agter die skerms gewerk om al die nodige inligting in te samel en te sorg dat provinsiale departemente se inligting betyds beskikbaar is.
Toetse onder diere in al die provinsies moet tans onderneem word as deel van die bewys dat die virus nie verder voorkom nie. Die OIE sal die inligting tydens sy algemene vergadering in 2013 bespreek, waartydens ‘n besluit oor die toekenning van die status geneem sal word.
Insameling van inligting
Die forum en departement hoop om die volle samewerking van die provinsiale departemente te kry met die insameling van inligting, “want as ons die sperdatum in September en Oktober mis, beteken dit dat die status eers in 2014 deur die OIE bespreek sal word,” aldus Verdoore. Die forum het ‘n persoon by die departement aangestel om te help met die administratiewe las aan die proses verbonde.
Intussen sê Verdoore vroeëre bewerings oor die voorkoms van die virus in die buffersone tussen Mpumalanga en die Kruger Nasionale Park “is uit verband geruk.” Die departement het vroeër 'n verklaring aan die media gestuur oor die moontlike voorkoms van die virus in dié gebied.
Verdoore sê een of twee monsters het wel positief getoets vir die aanwesigheid van virus-deeltjies, maar dit het nie beteken dat nog 'n uitbreking op hande was nie. “Ons het dit in die bed.”
Mnr. Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê hulle het ook onafhanklike toetse in die gebied laat onderneem, wat negatief vir die virus getoets het.