|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Boere moet 12 belangrike punte oor rooiwater onthou, sê dr. Willem Schultheiss van Schering-Plough Dieregesondheid.
1. Tydens en ná 'n droogte word baie beeste verkoop met 'n gevolglike styging in die waarde van die oorblywende teeldiere.
2. Die meeste vleisbeeste word in die somer gepaar of is reeds dragtig (wat waarde toevoeg).
3. Tydens 'n droogte is bloubosluisladings baie laer as tydens 'n normale somer.
4. 'n Konstante laegraadse bloubosluisbesmetting is nodig om die premuniteit (weerstand) van beeste teen rooiwater te onderhou.
5. Die premuniteit teen bloubosluisoorgedraagde rooiwater (babesiose) en galsiekte (anaplasmose) neem af wanneer bloubosluisgetalle tydens 'n droogte kleiner word. Gevolglik is beeste meer vatbaar vir siektes.
6. Laat reëns, gevolg deur warm weer voordat die koue kom, kan tot 'n laat opswaai in bloubosluisgetalle lei met 'n verhoogde risiko vir rooiwater of uitbrekings van galsiekte.
7. Indien vatbare beeste tydens 'n droogte van gebied/weidings verskuif word, loop hulle 'n verhoogde risiko om, wanneer bloubosluisgetalle styg, rooiwater op te doen.
8. 'n Uitbreking van rooiwater beteken dat meer as 5 % van 'n beesbevolking binne 'n kort tydperk dié siekte opdoen. Baie meer beeste kan in die nie-kliniese inkubasietydperk van die siekte wees en binne ongeveer 2 weke siek word nadat die eerste gevalle voorgekom het selfs al word die kudde dadelik ná die eerste kliniese geval met 'n doeltreffende dipmiddel behandel.
9. By dragtige koeie lei die koorsreaksie wat baie vroeg in die verloop van rooiwater voorkom dikwels voor duidelike kliniese tekens tot resorpsies of aborsies.
10. Beeste wat rooiwater ná die byt deur 'n besmette bloubosluis inkubeer en later siek sal word, moet dus vroegtydig behandel word. Dit is onbekend watter beeste rooiwater inkubeer en daarom behoort die hele kudde of die probleemtrop behandel te word sodra dit duidelik word dat 'n uitbreking plaasvind.
11. Die produk Forray-65 (binnespiers of onderhuids ingespuit teen 'n terapeutiese dosis van 1 ml/100 kg gewig) sal inkuberende gevalle genees en die ongebore embrio/fetus beskerm voordat 'n koorsreaksie ontstaan.
12. Langerdurende beskerming teen rooiwater word verkry indien 'n voorkomende dosis van 2,5 ml Forray-65/100 kg gewig onderhuids of binnespiers toegedien word. Vir Afrika- (Babesia bigemina) en Asiatiese rooiwater (Babesia bovis) is die beskerming onderskeidelik vier en agt weke. Hierdie dosis mag nodig wees indien die bloubosluisuitdaging ná dip steeds baie hoog is, die boerdery besonder ekstensief en die waarneming van die diere moeilik is. Bel dr. Willem Schultheiss by sel 082 323 7019. Tydens 'n uitbreking kan u ook bestuursinligting vir 'n kudde by u veearts bekom.
Skakel u veearts vir inligting oor die gebruik van rooiwaterentstowwe asook die waarde van 'n bloedtoets om die teenliggaamvlak teen Afrika- of Asiatiese rooiwater te evalueer. Die afwesigheid van teenliggame beteken dat 'n bees vatbaar is indien dit deur 'n besmette bloubosluis gebyt sou word. Só 'n toets is nuttig om pro-aktief die risiko op 'n kuddegrondslag te evalueer.
27 Februarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24