Beeste word aangejaag. Foto: dipity.com
Slegs 13% van die vee wat in Gauteng gesteel raak, het identifikasiemerke, sê 'n kenner van die RPO.
Boere skep self ’n veediefstalmark as hulle nie aan die vereistes van wetgewing voldoen om hul diere te identifiseer deur brandmerke of tatoeëring nie, sê mnr. Willie Clack, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Gauteng.
Hy het op die jaarlikse Landboukorrel-boeredag buite Cullinan op die kommerwekkende statistiek gewys dat by ál die veediefstalsake wat in Gauteng aangemeld word, net 13% van die diere identifikasiemerke het.
Hy sê uit sy eie navorsing lyk dit of die diefstal van beeste in die provinsie die afgelope drie jaar met sowat 200% toegeneem het, diefstal van skape met 400% en diefstal van bokke met 1 400%.
“ ’n Mens moet egter in gedagte hou dat daar relatief min vee in Gauteng is. Persentasiegewys is die styging in diefstal baie hoog, maar getalsgewys is dit nie só baie diere nie. Getalsgewys word die meeste vee in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gesteel.”
Moet eienaarskap bewys
Hy sê indien diere nie geïdentifiseer kan word nie, is dit bykans onmoontlik om eienaarskap in ’n veediefstalsaak te bewys.
Mnr. Gys Taute, ’n bemarker van Vleissentraal, het beklemtoon dat diere wat nie volgens wet gebrandmerk of getatoeëer is nie, nie by veilings aanvaar mag word nie. Hy sê al word die wetlike vereiste baie keer nie toegepas nie, mag ’n slagplaas ook nie ongeidentifiseerde diere aanvaar nie.
Beeste van 6 tot 18 maande oud moet gebrandmerk of met ink getatoeëer wees, maar vanaf 18 maande oud moet daar ’n brandmerk wees. Kleinvee moet van vier weke oud getatoeëer wees, selfs al word die diere nie van die plaas af verwyder nie.
“As jou vee gesteel is, is dit ook belangrik om veilingskrale in jou omgewing daarvan te laat weet. Daar was onlangs ’n geval van ses beeste wat by Ermelo gesteel is en dieselfde dag na ’n veiling by Bronkhorstspruit gebring is. Afslaers was op die uitkyk en het die gesteelde beeste opgemerk.”u