Die hoë prys van ingevoerde broeikaste vir emoe-eiers, kommer oor naverkoopdiens en die lae uitbroeipersentasie waarmee telers sukkel, het dié boer laat besluit om sy eie broeikas te bou.
Mnr. Piet Michau van Potchefstroom het besluit om met emoes te boer nadat hy 'n artikel in Landbouweekblad gelees het.
In daardie stadium was hy nog 'n deeltydse boer wat net 'n paar skape om sy plasie aangehou het. Sy heeltydse beroep was as bedryfsbestuurder op Vereeniging.
"Vandat ek by die Landbou-akademie Morgenzon op skool was, was dit my groot ideaal om eendag te boer. Ek het egter nie geld of grond gehad nie en is eers weermag toe en het daarna gaan werk," sê Michau. In hierdie tyd het hy diplomas in die ingenieurswese verwerf en hom as passer en draaier bekwaam.
Michau het in die begin net vier broeipare aangeskaf, wat hom die eerste seisoen met 83 kuikens gelaat het. Van meet af was sy probleem om 'n hoër uitbroeisyfer te kry as die 10 % tot 30 % waarvan hy al gehoor het. As hy soveel kuikens verloor, sou sy nuwe boerdery van die begin af op wankelende bene gestaan het. Teen sowat R1 250 vir 'n kuiken wil 'n boer mos soveel eiers moontlik suksesvol uitbroei.
Die alternatief was om die voëls self hul eiers te laat uitbroei, maar dit is in die praktyk nie moontlik nie. Hy kon ook 'n broeimasjien invoer, maar dit is te duur. Boonop was hy ook nie seker van die naverkoopdiens wat hy met 'n ingevoerde broeimasjien sou kry nie.
Met sy meganiese kennis en die feit dat sy hande vir niks verkeerd staan nie, het hy sy eerste prototipe broeikas self ontwerp. Hy het eers sy huiswerk goed gedoen deur sulke stelsels op die internet te bestudeer en boeke van oorsee te bestel. Dit is byvoorbeeld noodsaaklik om te weet wat die eiers se suurstofbehoefte is en wat die lugvloei dus moet wees, en hoe gereeld die eiers omgedraai moet word.
Die eerste probeerslag met die prototipe het vir 'n uitbroeisyfer van 87 %gesorg, wat vir hom wonderlik was. In Australië word 90 %bevrugting en 90 % uitbroei (gemiddeld dus 80 % sukses) as baie goed beskou. Gevolglik beskou Michau sy uitbroeisyfer as taamlik hoog.
Ná sy sukses met die prototipe het hy die broeikas verder verbeter totdat hy later tevrede was met die lugvloei en dus die verskaffing van suurstof. Nou handhaaf hy deurgaans 80 % sukses en hoër.
Die broeikas het plek vir 144 eiers, wat op ses laaie met rollers geplaas word. Die eiers word semi-outomaties op neergelegde tye omgedraai. Digitale temperatuur- en humiditeitsbeheerstelsels sorg vir egalige temperatuur en lugvog. Die deur is van glas sodat Michau kan sien wat binne aangaan sonder om die deur oop te maak. So is daar nie stygings en dalings in die temperatuur en lugvog nie.
Gedurende sy navorsing en maak van die prototipe het hy nou met die Emoevereniging saamgewerk en is ook 'n lid daarvan.
Michau hou sy kuikens vir 'n week en verkoop hulle dan. Hy beoog egter om die emoe-oliemark te betree en vet aan raffineerders te lewer. Hierdie olie is baie heilsaam en olie- en kosmetiese produkte word daarvan vervaardig.
'n Broeipaar kan sowat 35 eiers per jaar lewer, waarvan gemiddeld 25 tot 30 kuikens grootgemaak kan word. Dan moet die voeding egter baie goed wees, anders kan 'n wyfie so min as twaalf eiers lê waarvan net ongeveer vier op die ou end groot word. Die kuikens is gehard en as hulle eers uitgebroei het, is dit betreklik maklik om hulle groot te maak.
Die nuus oor Michau se broeikas het vinnig versprei en hy het al van die eenhede aan boere verkoop.
Landbouweekblad, 4 Mei 2007