|
|
|
| Bygewerk: | 22 May 06:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 70% |
| Wind: |
Vir diegene wat bereid is om hard te werk en streng by die basiese reëls te hou, kan die grootmaak van braaikuikens besonder lonend wees. Boonop is dié boerdery ideaal om op kleinhoewes te bedryf. 'n Vrou wat die sprong gewaag het, praat oor 'n paar van haar geheime.
Die bekende gesegde dat die môrestond goud in die mond het, is ewe veel van toepassing op 'n braaikuikenboerdery. Indien jy toegang het tot afvalmateriaal (met so 'n knypie handvaardigheid daarby), as jy jou huiswerk vooraf doen en letterlik bereid is om smôrens saam met die hoenders op te staan, sal jy verbaas wees oor die geld wat daar in dié bedryf steek. Só sê me. Wanda Benade, van Robert Estates in die distrik Kareedouw, wat 'n paar jaar gelede dié boerdery op die proef gestel het.
Maar, waarsku Benade, begin klein en leer uit jou foute. Binne 'n jaar of wat sal 'n mens die kortpaaie ken en met 'n gesonde bankbalans kan spog.
Benade is 'n enkelouer, maar met die hulp van 'n kennis, mnr. Shane McMahon, wat prakties en tegnies onderlê is, het sy 'n paar jaar gelede besluit om die sprong te waag. Dít was nadat sy verneem het van die welslae wat haar vriende in die provinsie Limpopo met braaikuikens behaal het. "Wat ek vyf jaar gelede van 'n hoender geweet het, was gevaarlik. My pa, wat 'n skaapboer was, het altyd gesê dat jy nie met diere boer wat agteruit skrop nie."
Met min kapitaal, maar danksy McMahon se handvaardigheid, het hulle ses hokke in 'n ou pakkamer geprakseer. Benade sê sy kon nie duur toerusting bekostig nie. Gelukkig het hulle toegang gehad tot skoon bergwater, 'n saagmeule in die omgewing en baie hout waarmee die hokke en kosbakke gebou kon word.
Sy was baie opgewonde die dag toe sy haar eerste 400 dagoudkuikens aangeskaf het. Ses weke later was dit egter 'n nagmerrie toe die hoenders geslag moes word. "Dit help nie jy slag die hoenders en probeer om dán 'n afsetmark te vind nie. Jy moet rééds 'n mark hê nog voordat die eerste kuikens aangeskaf word. Min mense wil bevrore hoenders hê."
Hou ook in gedagte dat restaurante, wegneemeetplekke en die publiek se behoeftes aansienlik verskil. Die een plek soek net borsies, die ander boudjies en sommige mense wil heel hoenders hê. Hoe meer die snitte verskil, hoe beter is die prys, maar hoe moeiliker raak dit om in almal se behoeftes te voorsien. "Die maklikste is natuurlik om óf heel, geslagte hoenders óf lewendige hoenders aan die mark te verskaf."
Wat laasgenoemde betref, kan 'n goeie afsetmark by taxi-staanplekke of in die townships gevind word. "As jy bang is om self die aflewerings te doen, kan daar met smouse gereël word wat die hoenders op die plaas kom haal. Wanneer hoenders lewend verkoop word, is jou inkomste bykans dieselfde, maar die werk daaraan verbonde natuurlik veel minder."
Teen die tyd dat Benade haar hoenders op 47 dae verkoop, weeg hulle gemiddeld 2,4 kg. Teen 'n prys van R15/kg (heel hoender) of R18/kg (vir snitte) beloop haar bruto inkomste tussen R36 en R43 per hoender. Die rantsoene kos tot op ses weke gemiddeld R10,50 per hoender. Dit laat haar met 'n opbrengs van R25 tot R32 per hoender. Arbeid en ander lopende koste kan op sowat R5 per hoender bereken word, wat haar met 'n netto inkomste van minstens R20 per hoender laat. Daar is eweneens 'n goeie mark vir die afval, soos lewertjies en selfs die nekke en pote. Sy gee die afval egter aan haar werkers wat die slagwerk doen.
Indien 400 hoenders elke week aan die mark gelewer word, beloop die wins sowat R8 000 per week. Maar, waarsku sy, waak daarteen om kop te verloor en dan op 'n inkopietog te gaan. "Onthou: Die volgende 400 hoenders moet weer gekoop word, en dan is daar nog hul kos en water, elektrisiteit, lone en verpakking waarvoor daar voorsiening gemaak moet word."
Sy sê die maklikste vir beginners is om gebalanseerde rantsoene aan te skaf. Sy het met 'n pluimveekundige by die Universiteit van Stellenbosch in verbinding getree, wat haar baie goeie raad in dié opsig gegee het. Elke kuiken moet van dagoud-ouderdom af in sy of haar leeftyd gemiddeld 800 g van die braaikuiken-beginnerrantsoen vreet. Hierna word hulle 'n afrondingsrantsoen gegee, waarvan sowat 1,8 kg gevreet moet word. Teen dié tyd is die hoenders ongeveer vyf weke oud. Gedurende die laaste week kry hulle elkeen ongeveer 1,2 kg van 'n sogenaamde ná-braaikuikenrantsoen.
Die aand voor die kuikens geslag word, moet die kosbakke verwyder word. "Hoenders wat met vol kroppe geslag word, se karkasse sal in die ontveermasjien beskadig word."
Volgens Benade is daar 'n paar goue reëls wat 'n mens altyd moet nakom:
Sy benadruk dat elkeen wat tot die boerdery toetree, eerder klein moet begin: "Moet aanvanklik nie meer as 100 dagoudkuikens aanskaf nie. As alles goed verloop, kan 'n mens ná ses weke meer kuikens op 'n slag aankoop."
Danksy goeie bestuur, beloop vrektes onder haar hoenders minder as 3 %. Sy sê dit is nie nodig om met die wegspring duur toerusting aan te skaf nie. Hulle het byvoorbeeld voerbakkies uit besproeiingspype gemaak. Die watertrog vir die groter hoenders (3 weke tot 6 weke oud) is uit 'n plastiekgeut geprakseer, terwyl die voerhokke van hout gemaak is.
McMahon het vir haar 'n verhittingstoestel gemaak deur 'n reghoekige raam uit afvalhout te timmer en sommer met ou hoenderkossakke oor te trek. Die toestel met die drie infrarooi ligte se hoogte word met behulp van 'n katrol verstel.
Sy beveel aan dat die laaste hoenders teen 16 Desember verkoop word. "Gaan hou vakansie en laat jou hokke rus. Niemand het juis ná Kersfees en Januarie geld nie."
Benade, wat weens persoonlike redes besluit het om haar braaikuikenboerdery af te skaal, sê sy is nogtans bereid om ander mense raad te gee wat met dié tipe boerdery wil begin.
Tree met haar in verbinding by tel. 042 288 9242, of per e-pos by wandaconsult@absamail.co.za.
14 Januarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24